Scroll Top

Begrafnisse

Waardigheid by die laaste oorgang

 

By die laaste oorgang van die lewe is Pinelands Gemeente daar om geliefdes by te staan met ʼn waardige afskeid en viering. Na die afsterwe van ʼn geliefde kan ons predikant dadelik gekontak word om naasbestaandes te ondersteun en om reëlings te tref vir ʼn gepaste diens (hetsy dit uiteindelik ʼn begrafnis- of verassingsdiens, troosdiens, gedenkdiens of die viering van ʼn lewe sal wees).

 

Medereisigers op die pad van rou

Vierings rondom die dood kan ʼn belangrike rol speel in die rouproses wat van persoon tot persoon sal verskil. Die rouproses kom ook nie rêrig tot ʼn einde nie – dit neem eerder nuwe vorme aan en beweeg deur nuwe landskappe. Neem asseblief die vrymoedigheid om jou behoeftes met die predikant of iemand anders wat jy vertroue te deel.

Hoewel rou altyd anders werk vir elke persoon, is dit dikwels so dat mense wat rou ondersteuning nodig het wanneer die hartseer die grootste is; ʼn oor om te luister wanneer hulle oor hulle verlore geliefde wil praat; goedkeuring wanneer hulle ʼn punt bereik waar die hartseer hulle nie meer oorweldig nie en hulle grootliks by die verlies wat hulle beleef het, kon aanpas, en mense wat in die lange duur saam met hulle sal onthou.

 

Sterwensbegeleiding

Hoewel niemand weet wanneer hulle sal sterf nie, is die dood iets waaroor ons kan praat, bid, mediteer en selfs voorberei. Vir baie mense kan die praktiese en persoonlike voorbereiding op die dood ʼn inspirerende en bemagtigende proses wees. Dit kan betekenis ontsluit, verhoudings verdiep en ook ʼn gawe wees vir die geliefdes wat ons agterlaat. Ons predikant is beskikbaar vir so ʼn gesprek en sal mens ook na gepaste hulpbronne en persone kan verwys.