Johannes 14:27a
“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie.”
Luister gerus vandag:
ns lewe in ‘n tyd in die geskiedenis waar verdeeldheid aan die orde van die dag is; waarin polarisasie volop is – nie net in ons eie konteks nie, maar regoor die wêreld. Daar is soveel waaroor mense nie saamstem nie: van maskers dra tot klimaatsverandering. Dis egter nie net opinines wat verdeeldheid bring nie. Daar is bv. soveel faktore wat daartoe lei dat ons in totaal ander omstandighede leef as mense wat minder as 10km van ons af woon.
En natuurlik is die gebeure in ons land die afgelope week een van die mees aktuele hedendaagse voorbeelde van die verdeeldheid wat in ons eie land bestaan.
Daarom mag hierdie week se leesrooster teks (toevallig) dalk net die skrif wees wat ons nodig het om te hoor, in hierdie oomblik in tyd.
Lees Efesiërs 2:11-22
Efesiërs is geskryf vir ‘n gemeente. Eintlik is daar redelik konsensus dat dié brief ‘n soort omsendbrief was, wat aan ‘n aantal gemeentes in die vroeë kerk gestuur is, waarvan die gemeente in Efese een was. Die gedeelte in die brief wat ons pas gelees het (Ef 2:11-22) word beskou as die hart van die Efese brief en vers 14 as die hart van die perikoop: “(Christus) is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het.”
Baie van u sal dalk reeds bekend wees met die feit dat die verhouding tussen die Joodse- en nie-Joodse gelowiges in die vroeë kerk, baie gespanne was. Dit was ‘n wydverspreide probleem onder die gemeentes in Klein-Asië dat Joodse-gelowiges hulself as meerderwaardig geag het en die nie-Jode as tweede klas Christene beskou het. Die nie-Joodse gelowiges het in baie gevalle hulle self as minderwaardig geag. In sommige gevalle mag hulle letterlik nie sekere dele (mure) van sinagoges binnegaan nie, omdat hulle nie as egte Jode beskou is nie. Die hoof redes hiervoor was dat hulle nie aan Joodse rituele en gebruike deelgeneem het, soos die besnydenis of sekere eetgewoontes nie.
Daar was dus ‘n aantal voorwaardes/toelatingsvereistes waaraan hulle moes voldoen – hekkies waaroor hul moes kom – voordat hulle ten volle deel kon wees van die gemeenskap.
Die brief handel breedvoerig oor hierdie probleem wat spesifiek in geloofsgemeenskappe probleme veroorsaak het, maar verdeeldheid en onenigheid was nie eie aan die Kerk nie. Die “goeie boodskap van vrede” wat Christus verkondig het, was nie net van toepassing op die Kerk nie, maar – soos ons herhaaldelik in die Nuwe Testament lees – ‘n boodskap vir die wêreld.
Natuurlik sou dié boodskap – van vrede tussen mense waar daar vroeër vyandskap was – ook oorspoel na breër gemeenskap. Die Kerk word opgeroep juis om ‘n teken en beliggaming van vrede wees binne hul gemeenskappe.
***
Vrede. Wat kom by jou op wanneer jy die woord “vrede” lees. Watter beelde sien jy in jou gedagtes as jy die woord vrede hoor?
Dikwels is die eerste ding waaraan ons dink die afwesigheid van konflik. In die Bybel kan dit daarna verwys, maar in meeste tekste is dit eerder ‘n uitdrukking van die teenwoordigheid van iets anders. Om Bybelse vrede te verstaan is dit dalk goed om te begin by die Ou Testamentiese konsep van Sjalom.
Hierdie Hebreeuse woord vir vrede het ’n veel voller betekenis as ‘n konflikvrye bestaan. Sjalom is waarna God se mense gesmag het in die Ou Testament en waarop die Jode angstig gewag het. Sjalom beteken heelheid; harmonie; totale welsyn; asook volledig/perfek. Jode het mekaar met die woord ‘sjalom’ gegroet en daarmee het hulle vir mekaar totale welsyn toegewens en toegebid. Sjalom beskryf iets wat heel, maar kompleks is, dws met baie dele, waarvan elkeen teenwoordig en goed is, sodat dit ‘n pragtige beeld vorm. Byna soos ‘n legkaart, waarvan die stukkies alleen nie regtig sin maak nie, maar as almal teenwoordig is en op die regte plek inpas is dit prentjiemooi.
Daniel Erlander skets in die Genoeg en Genade boek ‘n beeld van vrede (Sjalom) en ‘n soortgelyke prent waarin onreg teenwoordig is. Toe God die wêreld geskep het, was dit goed. Daar was sjalom. Dit was ‘n pragtige, rustige woonplek. Maar mettertyd het mense slegte besluite geneem en hartseer, woede of seer veroorsaak. Soos ‘n aktiwiteit in ‘n kinder-aktiwiteitsbundel kan ons die verskille soek:
Siende dat vandag Mandela Dag is en ons ook die vredeswerk van Ou President Nelson Mandela vier vandag, deel ek graag ‘n aanhaling deur hom wat die gedagte van sjalom baie goed vasvang:
“Peace is not just the absence of conflict; peace is the creation of an environment where all can flourish regardless of race, color, creed, religion, gender, class, caste or any other social markers of difference.” – Nelson Mandela
In die Nuwe Testament, en ook in vandag se teksgedeelte, is die woord vir vrede “eirene.” Soos sjalom verwys dit na harmonie.
Die stamwoord “eiro” beteken letterlik om dit wat van mekaar geskei of verdeel is weer aanmekaar te bind en dit sodoende te herstel.
Beide die Ou en Nuwe Testamentiese woorde vir vrede dra dus dieselfde betekenis van heelheid en harmonie.
Miskien moet ons onsself afvra: Wat is die dinge wat ons vandag verdeel/polariseer?
Wat is die mure tussen ons in hierdie tyd, wat veroorsaak dat daar nie heelheid en
harmonie in ons samelewing is nie?
***
Die teks maak dit duidelik: vir heelheid en herstel om plaas te vind moet die mure eers afgebreek word, sodat ‘n nuwe, heel gemeenskap daarna opgebou moet word (v.19-22).
Ek het nogal iets hiervan gesien in die videos/berigte wat deurgekom het die afgelope paar dae vanuit Gauteng en Kwa-Zulu Natal, en selfs in die President se toespraak Vrydagaand. Medeburgers wat saam kom en saam werk om die strate skoon te maak en gemeenskappe te herbou, na die vernietiging wat plaasgevind het.
Die skrywer gebruik die metafore van medeburgers en ‘n huisgesin as dit wat opgebou word en saamgevoeg. Wat beteken die metafore van huisgesin en medeburgers vir jou? Watter beelde roep dit by jou op?
Christus het die mure wat bestaan het tussen Jode en die res van die samelewing afgebreek. Hy het Sy liggaam daarvoor gegee, herinner die teks ons. Nie net sodat mense met God versoen kan word nie, maar ook met mekaar. Christus het sy liggam gegee, juis sodat ‘n nuwe gemeenskap opgebou kan word waarin daar vrede bestaan.
Wie is die mense wat vandag nog hul liggame op die spel sit sodat daar vrede – nie die afwesigheid van konflik nie, maar ware harmonie – kan wees?
Hoe lyk dit wanneer ons waarlik glo, soos die brief verkondig, dat Christus vrede is? Hoe lyk ons lewens en ons gemeenskappe wanneer Christene waarlik die woonplek van God is – soos dit so uitdruklik gestel word in die laaste vers van hierdie hoofstuk? Wat beteken dit as die Gees van God – die Gees van vrede – in ons woon?
Hierdie teks maak dit so duidelik dat navolgers van Christus in vrede met mekaar moet leef, maar meer as dit ook vredemakers behoort te wees.
Ds Faye van Eeden onderskei wel tussen Vredemakers en Vredebewaarders:
“Ek dink ons verwar soms vredemakers met vredebewaarders. Ons dink ons moet vredebewaarders wees wat terwille van die vrede alles moet verdra. Wat alles in ons vermoë moet doen om konflik te vermy. Ons dink die Here verwag van ons om lewenslank wit vlae te hys… (en) op ons lippe byt – al is dit wat ons sien gebeur nie reg nie. Om mense te wees wat net nie golwe maak nie.
Waar vredebewaarders mense is wat probleme uitstel, konflik vermy… met die stille hoop dat dit sal oorwaai. Is vredemakers mense wat konflik hanteer, probleme aanpak, oplossings soek en nuwe moontlikhede skep. Vredemakers is nie net mense wat nuwe moontlikhede skep nie, maar ook potensiaal raaksien en dit ontgin. Wat mense help om hulle volle potensiaal te bereik.”
Jesus was beslis nie ‘n vredebewaarder nie, maar ‘n vredemaker. Dit is waarvoor Hy lewe en sy liggaam gegee het.
Hoe kan ons, as navolgers van Christus, dan vredemakers wees in hierdie tyd?
Daar is sekerlik ‘n legio antwoorde op daardie vraag, maar ek wonder of ons nie dalk moet begin by wat Bybelse vrede is nie: Heelheid en harmonie.
Waar daar nie heelheid en harmonie is nie, kan daar nie ware vrede wees nie. Daarom moet ons as Christene ons lewens daaraan wy om dit wat gebroke is heel te maak: lewens, verhoudings, ons gemeenskappe, ons land.
***
Een van my gunsteling potgooie is die On being Podcast deur Krista Tippit. Daar is ‘n episode waarin sy met John Paul Lederach praat, waarheen ek al ‘n paar keer terug gekeer het.
John Paul Lederach is ‘n vredemaker van beroep, wat vier tot vyf maande per jaar op die pad deurbring en krisisse van lewe en dood in meer as 25 lande en vyf vastelande bemiddel het. Hy kom uit ‘n familie van Mennonite (‘n Christelike groep wat gevorm is tydens die Reformasie) wat die Bybelse opdrag vir Christene om vredemakers te wees baie ernstig opneem.
Vanuit sy jare se ondervinding as bemiddelaar, en talle stories van oor die wêreld, noem hy in die onderhoud enkele kwaliteite wat hy gevind het positief bydra tot vredeswerk:
- Begin klein en naby – dws begin by jouself. Ons wil soms probleme oplos deur by ander te begin of die groot kwessies direk te probeer aanpak. Dit is egter belangrik om te begin by ons eie stories, vooroordele en gebrokenheid en te werk om dit heel te maak. Van daar af kan dit uitkring.
- Die vermoë om jouself voor te stel (“imagine”) in ‘n verhouding met jou vyand. As dit nie teenwoordig is nie, sal die vredeswerk – volgens Lederach – in duie stort.
“Wat ons dikwels probeer doen, is om meer en meer mense te wil vorm wat dink soos ons, en ek dink die moeilike werk van vrede bou is om kwaliteit verhoudings te skep onder mense wat nie eenders dink nie.” - Dis belangrik om nie te dink in dualismes nie. Soos bv: jy is aan daardie kant of jy is hierdie kant. Dis reg of verkeerd.
- Daar moet dus ruimte wees vir kompleksiteit en nuuskierigheid… in die sin dat daar nie net een antwoord of twee teenstrydige moontlikhede is nie, maar dat daar twee, drie of vier dinge verskillende dinge is wat waar kan wees op een slag., Hoewel dit soms oorweldigend kan voel om in so ‘n komplekse situasie te wees, wanneer ons in die middel daarvan is, bied dit konstant nuwe maniere om iets te verstaan wat nie vereis dat daar een opsie teenoor ‘n ander gekies word nie.
Ek wil enkele wenke voorstel, aan die hand van die teks en die bg. onderhoud, wat ons moontlik kan help om vredemakers te wees in hierdie vreemde tyd en om te werk na ‘n wêreld waarin daar meer heelheid en harmonie sal wees.
Dis natuurlik bo en behalwe die werk wat, ek besef, baie van u reeds op verskeie terreine besig is om te doen, om dit wat stukkend is in ons land en gemeenskappe te probeer heel maak.
- Begin naby. Dws eerstens by onsself, ons verhoudings en ons gemeenskappe. Watter vaardighede moet ons aanleer; emosionele wonde moet ons genees; meerder-/minderwaardigheids komplekse en vooroordele moet ons aanspreek? Watter geloofspraktyke kan ons in ons lewe inbou?
Dit beteken natuurlik nie ons moet net op onsself ingestel bly nie. Ons begin by onsself, juis sodat ons die werk na buite met meer ywer en egtheid kan aanpak. - Verwelkom (gereeld) die teenwoordigheid van die Gees – die Gees van God en Christus; die Gees van vrede – om in ons te woon en ook deur ons te werk. ‘n Voorbeeld van ‘n gebed wat ons kan bid om dit te doen, is die verwelkomingsgebed deur Thomas Keeting.
- Bou diep, kwaliteit verhoudings met mense wat anders is as ons.
Indien dit dalk nie nou moontlik is of veilig voel nie is daar ook ander hulpmiddele. Ons kan boeke lees, stories kyk en podcasts luister wat perspektiewe bied wat anders is as ons eie.
- Bid vir mekaar. Bid veral vir wie ook al ons dalk beskou as “hulle”/ander. Dit verander ons en dit verander ons verhoudings en breek mure af.
- Laat ruimte vir kompleksiteit. Wees versigtig vir eenvoudige antwoorde en verduidelikings. Situasies, mense en sake is selde so eenvoudig soos wat ons dalk mag dink, of soos wat dit lyk. Selfs hierdie lys van wenke is vééls te eenvoudig, maar dalk net ‘n plek om te begin.
Mag ons opgebou word tot ‘n woonplek van God deur die Gees – die Gees van Christus; die Gees van vrede – sodat die boodskap van heelheid en harmonie deur ons gestalte mag vind in hierdie tyd, in hierdie land en in hierdie wêreld.
***
Geloofsbelydenis:
As gemeente van Christus getuig ons graag aangaande die oorvloedige genade van God
wat ons ryklik en vrylik in Christus ontvang het en waaraan ons deur die Gees deel het.
Ons glo dat almal dié genade nodig het. Ons glo dat hierdie genade vir álmal is.
As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons as kerk nie altyd hierdie genade weerspieël
nie. Baie mense assosieer die kerk daarom nie met genade nie, maar met uitsluiting en
veroordeling. Ons treur oor die harde ongenaakbaarheid en liefdeloosheid wat dikwels op
subtiele maniere, maar soms ook heel kras, in ons harte en in ons midde leef.
Heer, wees genadig.
Ons glo dat daar in die lig van die ruimhartige genade van God geen ander kriteria of
voorwaardes vir volledige aanvaarding, lidmaatskap en deelname aan ál die ampte van die
kerk kan wees as geloof in Christus nie – nie ras, klas, gender of seksuele oriëntasie nie.
Christus alléén is die hoeksteen van die kerk.
Dáárom verbind ons ons, hier en nou, om verwelkomend te wees teenoor alle mense en
waarderend ten opsigte van mekaar se unieke gawes.
As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons dikwels leef asof God se genade net is vir
mense wat soos ons is en lyk; mense wat óns taal praat, wat óns kultuur deel, wat óns
gewoontes het. Ons treur oor hoe hierdie gesindheid ons verlede moreel verarm het en hoe
die logika van geskeidenheid en rassisme in ons harte en praktyke ’n tuiste gevind het.
Christus, wees genadig.
In ’n land en wêreld waarin daar opnuut kragte aan die werk is wat ons wil laat terugtrek
in nouer verbande van bloed en groep, glo ons dat die kerk – as die een liggaam van Christus
– ’n alternatief op hierdie verharding van grense en groeiende polarisasie moet en kan bied.
Ons glo dat die kerk wat in Christus één is aan hierdie eenheid sigbare gestalte moet gee.
In Christus het immers één nuwe mensheid tot stand gekom.
Dáárom verbind ons ons, hier en nou, om die kragte teen te staan wat verdeel en
vernietig, en om ons te beywer vir dit wat heelmaak en lewe gee.
As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons nie altyd die materiële seëninge wat ons
uit genade uit God se hand ontvang genoegsaam raaksien of uitdeel nie. Ons treur oor die
ekonomiese ongelykheid, sistemiese onreg, onmenslike uitbuiting en blatante korrupsie wat
ons samelewing stempel, en ons erken dat ons voorspoed en teenspoed ten nouste hiermee
verweef is.
Heer, wees genadig.
Ons glo dat ons die God aanbid wat die krete hoor van hulle wat uitroep te midde van
hulle ervarings van nood, verontregting, pyn en ontworteling.
Die God wat ons in Christus en uit genade alleen regverdig verklaar, is die God wat
geregtigheid herstel.
Dáárom verbind ons ons, hier en nou, om dit wat ons in genade ontvang het vrymoedig
met ander te deel, om te protesteer teen onreg en verontmensliking, en om saam te werk
aan ’n wêreld waarin mense en die hele skepping floreer.
As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons nie altyd weet hoe om die goeie nuus van
God se genade uit te leef nie. Te midde van groeiende sekularisme, ook in ons eie harte, en
skadelike vorme van godsdiensbeoefening, ook in ons eie kringe, is ons daarvan bewus dat
ons dikwels faal om die evangelie op ’n geloofwaardige wyse aan ons kinders, ons vriende
en aan vreemdelinge oor te dra.
Christus, wees genadig.
Ons glo desnieteenstaande dat die evangeliewoord van genade, al lyk dit broos, en
praktyke van genade soos die doop en nagmaal, al lyk dit vreemd, ’n vernuwende en
lewegewende krag besit.
Ons glo dit.
Dáárom verbind ons ons, hier en nou, om as geroepenes en gestuurdes gedurigdeur oop
te bly dat die evangelie van genade ons kan verras en verander, en om voortdurend te
getuig aangaande die hoop wat in ons leef.
As gemeente – as begenadigdes wat genadig wil leef – dank ons God, die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, vir die standhoudende genade wat in Christus aan ons geskenk is.
Om aan Christus, ons Heer, te behoort, is nie net ons beste troos nie, maar ons énigste troos.
Amen.
[Hierdie geloofsbelydenis is geskryf deur die NG Gemeente Stellenbosch Welgelegen in 2017 as Hervormingsdaggetuienis met die 500 jaar vieringe van die Reformasie]