Ds. Helgard was van na Paasfees tot begin September met studieverlof. Hy begin weer met sy eerste erediens op 12 September 2021. Ons is dankbaar vir Ds. Bianca Truter-Botha wat so wonderlik vir hom afgelos het. Hier is ‘n kort brief van Helgard af:
Liewe Gemeente
Na vyf maande se studieverlof is ek weer op my pos. Dit was vir my baie spesiaal om die afgelope Sondag Ds. Bianca se laaste diens as aflosleraar by te woon. Dat ons die nagmaal weer as gelowiges saam kon vier het my veral versterk. Hanlie Marais het namens baie van ons gepraat toe sy Bianca Sondag bedank het vir haar harde werk, insigryke en getroue prediking, en deernisvolle sorg oor die afgelope paar maande. Ons is ook baie bly dat dit nie ʼn finale goodbye is nie. Bianca bly steeds in die omgewing en sy beplan om voortaan by ons in te skakel as ʼn lidmaat en om ons steeds af-en-toe met eredienste by te staan. Dankie ook aan die kerkraad, en Vanwyk Liebenberg wat ingestaan het as voorsitter, vir julle hulp om my studieverlof moontlik te maak.
Dit was herfs toe ek die geleentheid gegun is om my aandag vir ʼn wyle meer voltydse aan my studies te skenk. Daarom voel dit vir my gepas om my gemeentewerk in die lentetyd weer te hervat. Soos die seisoene moet ons ook soms wissel. Die lewenswendinge wat ons moet aandurf is legio: soms is dit ʼn nuwe lewensfase wat ons moet betreë, of ʼn belangrike saak wat skielik al ons fokus vereis; ander kere is dit ʼn verhouding wat aandag vra, of selfs net die pas waarteen ons beweeg wat aangepas moet word.
Ek kan met groot dankbaarheid getuig dat die winter studietyd vir my goed was – en nie net omdat ek goed kon vorder met die skryf van my tesis nie. Die stadiger ritmes van die winter het dit moontlik gemaak vir meer stilte, gebed, refleksie en rus. Ek was veral dankbaar vir tyd wat ek in Wellington by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit kon spandeer en vir die geestelike leiding en sorg wat ek daar ontvang het. Nog iets wat my sal bybly oor hierdie tydperk is die naweke waarop ek en Erin saam met Darwin (ons skaaphond) kon gaan stap – ons het teen dié tyd al ʼn goeie porsie van Tafelberg se staproetes verken.
Al klou die winter nog soos ʼn bondeltjie Sellotape aan ons vingers en jasse vas, is sy tyd vir eers nou verby. Ek weet dit – nie omdat dit al begin het om warmer te word nie, allermins! – maar omdat die kaal Plataanboom buite ons slaapkamer se venster begin het om klein knoppies op die punte van sy takke uit te stoot. Ek wonder oor hoe lank die hele toneel in lemmetjie groen gaan uitslaan? Ek maak staat op die stroomversnelling van lente om my met my eie gedaantewisseling te help – van die akademiese ritmes en rituele na die ritmes en rituele van die gemeentelewe. Dit is reeds vir my goed om terug te wees en ek sien veral daarna uit om die arm weer in te hak en te hoor wat ek als gemis het.
Ek nooi jou uit. Stuur vir my ʼn WhatsApp of Epos, ʼn stemboodskap of ʼn posduif. Spreek af om my by die pastorie te besoek, nooi my om jou tuis te besoek, of kom stap saam met my en Darwin op die Oval. Wat is op jou hart? Wat het gebeur wat jy graag met iemand wil deel? Waarvoor of vir wie kan ons bid? Hoe is die Here besig om jou te seën, te genees, te roep, of te stuur?
Tot straks
Helgard