Stel jou voor: Al die mees bekwame en gesiene mense in ‘n stad word, in ‘n geweldadige oorname, gevange geneem en gedwonge weggevoer na ‘n die woonplek van hierdie vyand wat hul ingeval het. Nadat hulle eie stad ingeval is en hulle alles moes deurgaan wat mens verwag in só ‘n besetting – moes hulle honderde kilometers as gevangenes gestap, verneder word op hierdie reis, net om in die land van hul ontvoerders regeer te word. (Ons kan waarskynlik voorbeelde hiervan uit die geskiedenis oproep)
In Esegiël 18 vind ons die Jode in so ‘n situasie, nadat hulle gedwing is om in Babelonië te gaan woon. Die vloedplein waar hulle nou moes tuisgaan was ver verwyderd van die heuwels van Juda wat hulle agtergelaat het. Maar hulle bekommernis strek verder as hulle eie vernedering en verlies of hulle verlange: hulle het geliefdes daar agtergelaat. Hulle land en dié wat agtergebly het was steeds in gevaar. Die heilige stad en tempel, wat eens as onvernietigbaar beskou is, sou nie meer lank staande bly nie.
Boonop is hulle oortuig dat dit God se wil was dat hierdie rampe hul getref het; dat God die ballingskap en vernietiging laat gebeur het as straf vir hul sondes, soos die profete belowe het. Maar wie se sondes word nou eintlik gestraf, wonder hulle?
In vandag se teks vind ons die ballinge in Babilonië, oortuig dat wat gebeur het nie hulle toedoen was nie, maar dat hulle die prys betaal vir die sondes van hul voorsate.
Lees – Esegiël 18
Suur druiwe en die Sondes van ons voorouers – ons erfenis?
Ons het verlede Maandag erfenis dag gevier. (Gesien baie mense moes aantrek volgens hul kulturele erfenis. Hoe lyk dit vir ons?)
Daar is dinge in ons erfenis wat ons graag vier. Soos die dankbaarheid wat ons vanoggend uitgespreek het vir die ouer mense tussen ons van wie ons soveel wysheid ontvang en wat hierdie gemeente help vorm het tot wat dit vandag is.
Tog, is daar ook groot dele van ons erfenis waaroor ons dalk eerder hartseer en in sommige gevalle skaam voel. Daar is dinge in ons kulturele erfenis waarop ons nie baie trots is nie. Soms wil ons onsself bietjie distansieer van daardie narratief.
Soms is ons nogal goed daarmee om iemand anders te blameer vir die foute en onreg wat in ons geskiedenis gepleeg is en waarvan ons onsself graag wil losmaak. Dit sal tog baie makliker wees as ons kan sê: “Ek het niks te doen gehad met die mense wat vermoor is of uit hul huise en gemeenskappe verwyder is tydens Apartheid nie, dis nie my verantwoordelikheid nie”; of slawerny en die uitbuiting van mense in die verlede is aaklig, regtig, maar ek het darem niks daarmee te doen gehad nie en so ook het die gevolge daarvan geen betrekking tot my nie.”
Die gesegde waartéén God Godself uitspreek in vers 2, is immers die teologiese begrip wat verskillende geslagte se “sondes” met mekaar verbind. In heelpaar ander OT tekste, soos Eksodus 34:6-7, word God se liefde en barmhartigheid verkondig, maar ook verklaar dat God die ongeregtigheid en sondes van die voorsate sal toereken aan “die kleinkinders, aan die derde en die vierde geslag.”
Hoe gemaak met die teenstrydigheid? Meeste teoloë stem saam dat hierdie teks nie ‘n miskenning is van die effek wat een generasie optrede en oortuigings op die volgende een het nie. Dit is eerder die verwerping van ‘n spesifieke teologiese verstaan van daardie tekste, wat dit vir mense moontlik maak om sondige gedrag (en die gevolge daarvan) op hul voorsate blameer, in plaas daarvan om verantwoordelikheid te neem vir hul eie lewens en optrede wat steeds daartoe bydra. Die probleem was dus nie regtig die spreekwoord – of die ander OT tekste – nie, maar die gebruik daarvan deur die ballinge om hulself te verontskuldig van die situasie waarin hulle tans is.
Verse 1–20 vra dus watter invloed één individu of geslag op ‘n ander het, in die oë van God?
Wat God hier deur die profeet beklemtoon, is dat mense verantwoordelik is vir hul eie keuses en foute (v.4b). Daar lê egter ook genade in, want terselfdetyd sê die Here dat niemand die skuld/straf vir hul ouers se sonde dra nie – al het dit verseker ‘n impak op hul lewe.
***
Meer as bloot passiewe erfgename: Ons taak is om te reflekteer en reg te stel
Ek is seker ons almal is baie bewus van hoe die – dikwels onverskoonbare – gedrag van vorige generasies probleme geskep het wat tot vandag toe voortduur. Maar daardie gedrag verskoon nie ons voortsetting daarvan of ons eie ongeregtige optredes nie. Dit regverdig nie die mikro-dade waarmee ons strukturele onreg, ongelykheid en uitbuiting (van mense en die aarde) in stand hou nie. Dit versag ook nie die verantwoordelikheid wat ons nou het om vorige generasies se foute en hul uitkomstes in die hede reg te stel nie.
Die vraag waartoe ons in verse 21–32 te staan kom is: Watter invloed het ‘n individu of geslag op hulle eie wêreld in die oë van God?
“God is warning us not to fall into the trap of perpetuating and passing along the sins of our parents, or to fail to acknowledge how we have been affected by the sinful legacy we have received.” – Amy Plantinga Pauw
Hierdie teks is ‘n herinnering dat ons die versoeking moet weerstaan om onsself te verontskuldig en om wel die verlede in ag te neem, júís sodat ons ‘n beter lewe in die hede en vir die toekomskan skep – ‘n nuwe, ander erfenis.
Ons kan dit egter slegs doen deur diepe introspeksie en deur dit wat in die verlede gebeur het se invloed op ons eie manier van wees en doen in ag te neem.
[Voorbeeld: Storie-vertel werkswinkels en oefeninge]
Natuurlik is daar so baie wat ons by ons ouers en voorgeslagte leer wat wonderlik en goed en kosbaar is. Natúúrlik is daar wysheid en lesse wat ons graag met ons wil saamdra, maar daar is ook sommige perspektiewe, gedrag en gebruike wat ons in die oë kan kyk en besluit om onsself daarvan te bekeer. [Eenvoudige voorbeeld: Botha-stilstuipe]
Die mense word in hierdie teks opgeroep om hulself te ondersoek, sowel as die rol wat hulle gespeel het/steeds speel in die skep van hulle wêreld. Netso, moet ons ook tyd neem om in die spieël te kyk en die uitwerking in ag te neem wat ons optrede op diegene rondom ons het/gehad het – veral die kwesbaarstes onder ons.
Ons is gelukkig om in ‘n gemeente te wees wat erns maak hiermee en ek weet die Kerkraad is ook op reis met dié moeilike dog belangrike werk. Dis beslis nie altyd so eenvoudig nie en soms het ons die hulp van ander nodig (fasiliteerders; sielkundiges… ens).
Belangrike nota: die oproep tot bekering is nie net aan ‘n individu wat sondig nie, maar herhaaldelik na die “huis van Israel”, wat hul historiese dade as een gemeenskap in ag moet neem en nie as individue nie.
Let ook op: Vir die OT-mense behels gehoorsaamheid aan God om te sorg vir die armes, hongeriges en behoeftiges (18:7, 8, 12, 16). Esegiël beweer dat ‘n onregverdige samelewing sy mees kwesbare lede verwaarloos. Hierdie lys in Esegiël 18:5-24 definieer gehoorsaamheid aan die Here volgens gedrag eerder as geloof. Tipies fokus Judaïsme op gedrag, terwyl Christenskap geloof vooropstel. Tog lyk dit redelik op grond van beide die Hebreeuse Bybel en die Nuwe Testament dat ons Christene alle rede het om ons optrede én ons geloofsoortuigings/perspektiewe te ondersoek.
God eis in die teks dat mense na die behoeftes van die armes kyk en verseker dat die magteloses dieselfde geregtigheid ontvang as die magtiges. Die samelewing van daardie tyd het God se weë en hierdie waardes geken, en tog hou hulle aan om dit te verwerp. “Die weg van die Here is onregverdig!” huil hulle.
God maak dit egter duidelik dat die onregverdigheid van die lewe niks te doen het met God se onregverdigheid nie, maar met die keuses wat mense in die geskiedenis van hul lewens maak wanneer hulle “wegdraai van hul geregtigheid en ongeregtigheid pleeg” (v. 26).
***
Ons erfenis in God: ‘n Keuse tussen dood en vernietiging of lewegewende genade
Weens lg. lees ons dalk baie oordeel in die teks raak, maar wat God eintlik aanbied is die belofte van lewe vir die mense van Israel. In plaas daarvan om op gesegdes staat te maak wat ander mense blameer en God se wil misverstaan, roep die Here mense om hulle te bekeer van hul eie voorsetting van die probleem en die lewe te kies.
Die profeet rig ‘n oproep aan die hele gemeenskap: “Kry vir julle ‘n nuwe hart en nuwe gees!” (vers 31).
Die reaksie op dit wat ons in die spieël sien (soos ek vroeër genoem het), is om die nodige stap van bekering neem; om ons gedrag te verander sodat ons optrede voorentoe lewegewend vir almal sal wees – veral diegene op die randte van die samelewing.
[Voorbeeld: Kontekstuele Bybelstudie oefening – bemarkingsveldtog vir die Bybel.
Wat meeste genoem is dat ‘n boek is wat lewe wil gee, maar dat die waarskuwing is dat dit gebruik kan word vir vernietiging en dood.]
Die verskil is dus tussen ‘n lewe gelykstaande aan die dood (wat verbind is en bepaal word deur ‘n mens se historiese konteks en ons weerstand teen verandering) en ‘n lewe wat ‘n mens oopmaak vir die ontwikkeling van ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees, is ware bekering. Esegiël roep ons om ons gewone patrone van doen te onderbreek, en eerder God se genade en riglyne vir ‘n regverdige lewe te omhels.
God se antwoord op hoe ons lewe ontvang is die lewegewende genade van God. Die Here begrond die begrip van ‘n “regverdige lewe” nie in ons eie vermoëns nie, maar in Gód se identiteit as die almagtige skepper van lewe.
Die nuwe lewe waartoe God hulle/ons oproep is beskikbaar vir almal wat hul afhanklikheid van genade erken.
Die “suur druiwe”-houding van die mense in Esegiël 18 kan direk in verband gebring word met verlede week se teks en boodskap (Matt. 20:1–16), wat gehandel het oor die gesindheid van die werkers wat heeldag in die wingerd gewerk het. In die gelykenis wat Jesus gebruik, is regverdigheid (binne die genade van God) ook gedefinieer deur waar mense aan die einde van die dag gestaan het. In terme van Esegiël 18 kan mens dan sê dat die enigste betaling wat ons kan ontvang vir ons “werk,” LEWE is. God se begeerte is dat almal dit op die ou end moet ontvang. Diegene wat afwesig is wanneer die tyd aanbreek om betaling te ontvang, kan net na hulself kyk – nie hul ouers nie, nie ander nie – om te sien hoekom hulle uitgelaat word.
***
Slot-opmerkings
Eindelik handel Esegiël 18 as geheel oor die vraag of ‘n mens vry kan optree los van sy of haar historiese situasie.
Die antwoord is nie eenvoudig nie. Ons erfenis en verlede het steeds ‘n impak op wie ons vandag is en hoe ons lewens lyk. Soms is dit makliker om te dink dat ons niks kan doen om te verander wat lyk asof dit stukkend is nie. Maar ons geloof/teologie behoort tog vir ons die gereedskap te gee om eties op te tree; om ons verlede te ondersoek; om ons hede te hervorm; om ons te help leer hoe om ons te weerhou van dade wat die dood bring; en om beter maniere te kies om te lewe en lief te hê. Die keuses wat ons vandag individueel en gemeenskaplik maak definieer strukture, dit bepaal ons kulturele nalatenskap, en vorm die normes en waardes van ons samelewing. God roep ons altyd om die lewe te kies; om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons deelname aan die geskiedenis van ons lewens, ons land en ons wêreld.
- Hoe daag die woord van God ons uit in die transformasie van ons eie kultuur?
- Wat is die waarskuwings waarop ons vandag nie ag slaan nie, wat beide individuele en gemeenskaplike gevolge kan hê?
Alhoewel ek dink ons moet verstig wees en dit eintlik vermy om gevolgtrekkings te maak oor hoe God ons dalk straf vir sekere dade, kan ons baie leer deur nederig en nuuskierig ondersoek in te stel oor hoe óns foute eendag by ons kinders of die generasies wat na ons kom gaan spook.
Gelukkig is daar altyd weer die geleentheid om dit reg te stel; om ‘n positiewe impak te maak; om ‘n nuwe hart en gees te ontvang; om LEWE te kies. Alles te danke aan die genadige God, Jesus wat vir ons die weg kom wys het, en die Gees wat aanhou om in ons te werk en ons te lei.