ie gedeelte wat ons vandag saam gaan lees (1 Samuel 8) is ‘n belangrike draaipunt in die verhaal van God se vennootmense. Dit is die oomblik in hulle geskiedenis waar hulle politiek verander en wat terselfdetyd onherroeplike implikasies vir hul verhouding met God inhou.
Want in antieke Israel was politiek en godsdiens vervleg met mekaar en die een het die ander ten sterkste beïnvloed.
Om dit wat in ons teksgedeelte afspeel beter te verstaan is dit egter nodig om vir ‘n oomblik terug te kyk oor die reis van hierdie mense met God tot op hierdie punt.
In Genesis 12, maak die Here ‘n belofte aan ‘n kinderlose man en vrou dat hulle die moeder en vader sal word van ‘n groot nasie. Die Here beloof getrouheid aan hierdie mense en sê: “Ek sal julle seën sodat julle tot seën kan wees van ander.”
God se plan was van die begin af dat hierdie mense moet anders wees juis sodat hulle vir ander nasies te kan wys wie die Lewende God is en ‘n seën kan wees vir hul buurnasies.
Weens ‘n groot hongersnood eindig hulle uiteindelik op in Egipte op saam met Jakob – wat deur God die naam Israel gegee word. Josef, een van Jakob se seuns wat weens familie onmin in Egipte beland as slaaf, maar word later ‘n tipe eerste minister onder die farao en regeer basies die land. Generasies gaan verby en die farao van Egipte in daardie tyd besluit dat die vlugtelinge in die land te veel geword het en span hulle nie net as slawe in nie, maar tree ook baie wreed teen hulle op.
God hoor die mense se hulpgeroep en bevry hulle uit slawerny met behulp van Moses, Aäron en Miriam. Hulle trek vir 40 jaar deur die Woestyn en Josua neem by Moses oor as die leier wat hulle in die Beloofde Land in lei.
Ons sien in hierdie verhaal hoe God vir Abraham en Sarah roep om ‘n nuwe gemeenskap te begin. Jare later roep God vir Moses om dié gemeenskap uit slawerny te bevry en weer met hulle nuut te begin. Wanneer hulle vertroue in – en getrouheid aan – God wegkwyn, begin die Here weer oor met ‘n nuwe generasie olv. Josua.
Hierdie selfde patroon speel oor en oor uit in die Ou Testament.
Na Josua se dood was die lewe van God se mense redelik chaoties. Die Bybelboek Rigters (waaruit ons vroeër hierdie jaar saam gelees het) vertel vir ons van daardie periode, waarin leiers dikwels onverwags deur die Gees van die Here aangewys is. Vandag se teksgedeelte speel af in dié tyd: toe God rigters gebruik het om leiding te gee aan die volk. Sommige rigters was bekwame figure (soos Deborah) en ander, twyfelagtige karakters (soos Simson). Dit was ‘n baie ontstuimige tyd vir God se mense met wie dit by tye baie goed gegaan het, todat ‘n tyd van mislukking en rampspoed hulle weer getref het.
Israel was ‘n jong nasie wat na meer sekerheid gesmag het as wat die rigters kon voorsien. Julle sal dalk onthou dat Rigters afsluit met die woorde:
“In daardie tyd was daar geen konings in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë (21:25).”
Samuel was die laaste rigter van Israel. Hy was eintlik meer as ‘n rigter en het ook die rol van profeet en priester aangeneem. By hom neem die konsep van die Rigters dus ‘n effense draai.
Die oudstes kom op ‘n dag na Samuel toe en sê vir hom dat dit nie langer so kan aangaan nie.
Is dit nie ‘n gevoel waarmee ons almal op een of ander manier kan identifiseer nie? Is dit nie woorde wat vandag nog weerklink nie? “Iéts moet verander. Die huidige sisteme en strukture werk nie. Die planne wat is in plek is faal ons.”
Deel van die rede waarom die Israeliete ‘n koning wou hê, het te doen gehad met geregtigheid en die behoefte aan goeie, betroubare leierskap. Kan ons hul regtig kwalik neem daarvoor?
Hulle kort ‘n nuwe leier. Samuel is te oud en sy seuns is nie sulke goeie leiers soos hy nie: hulle is korrup en lei net vir eie gewin.
Hoekom is Samuel dan so ontsteld?
Samuel is toegewy aan ‘n Teokratiese stelsel, waarvan God die ware Leier en Koning is wat op ‘n ad hoc basis deur die Gees aardse leiers vir die mense aanstel soos nodig. Tog het Samuel eintlik self teen dié stelsel ingegaan deur sy seuns as opvolgers aan te stel, soos Elia voor hom. Uit ongelukkigheid oor die situasie en hul behoefte aan sekuriteit, gryp die volk na dit wat hulle by die ander volke sien as ‘n oplossing.
Terwyl God juis hierdie mense geroep het om ánders te wees as al die ander nasies, om volgens ander waardes te leef en om op God te vertrou, kies hulle om daardie identiteit prys te gee, om eerder soos al die ander volke te wees.
Israel was veronderstel om uniek te wees omdat God hul leier sou wees. Die Israeliete was wys genoeg om te besef dat Samuel se seuns nie kwalifiseer om hul leiers te wees nie. Hulle het geweet dat iets moet verander. Maar net soos jare tevore toe ‘n hele geslag in die woestyn gesterf het omdat hulle nie ‘n lewe van vryheid en vertroue in God kon voorstel nie, kon hierdie geslag ook nie so ‘n lewe indink nie.
Die verstaan van koningskap onder die ander monargieë in daardie tyd, was dat ‘n koning deur die gode aangestel is en die monargie ingestel is, sodat hulle opdragte deur middel van aardse heersers uitgevoer sou word. Volgens hulle verstaan is die monargiese stelsel dus deur die gode begin en aan die mensdom gegee.
Hier in 1 Samuel en in die Bybelse verhaal gebeur dit egter heeltemal andersom. Eerder as wat Israel se monargie een is wat bo af op hul neergedaal het, het dit van onder af opgekom.
Van die begin van die skepping af het God aan mense die vryheid verleen om hul eie besluite te neem – goed of sleg. Ons sien hoe God in hierdie verhaal self terug hou en nie met mag reageer nie. Twee keer word die opdrag aan Samuel gegee om te “luister na” die stem van die mense (vers 7, 9), ‘n frase wat ook vertaal sou kon word as “om die mense te gehoorsaam”.
God troos Samuel deur te beklemtoon dat die keuse vir ‘n monargie en koning nie ‘n verwerping van hom en sy leierskap is nie, maar van God self. Die Hebreeus verander die tipiese volgorde van die sin om die punt te beklemtoon: “dit is nie jy nie, hulle het verwerp, maar ek, hulle het verwerp” (vers 7).
***
God se reaksie is natuurlik, soos so dikwels in die Bybel, soortgelyk aan dié van ‘n liefdevolle ouer. Soos wat meeste ouers sou, wil die Here hulle toelaat om hul eie foute te maak. As ouers aan kinders vryheid gee – soos alle ouers op ‘n stadium moet – verstaan hulle dat kinders ook die gevolge van hul eie besluite gaan moet dra. Soms vergeet ons net dat die ouers uiteindelik ook sal deel in sommige van die pynlike gevolge. Die Here gee aan hulle (en ons) die vryheid en agentskap om ons eie besluite te neem, self te kies waarin (of in Wie) ons ons vertroue plaas, en die gevolge van daardie besluite te dra.
Samuel waarsku die mense wel dat ‘n koning nie noodwendig die oplossing vir al hul probleme sal wees nie, maar eerder die begin van ‘n heeltemal nuwe stel probleme. En ons wat die verhaal verder ken, weet natuurlik hy slaan die spyker op die kop.
***
Ek is seker almal van ons kan identifiseer met die mense van Israel se behoefte aan (of dalk eerder hunkering na) stabiliteit, sekerheid en sekuriteit. Daar is kwessies in ons eie lewens, gemeenskap, land en wêreld wat veroorsaak dat ons dalk ook wil uitroep: “Iets moet verander!” of “Dit kan nie so aangaan nie!”
Ek moet bieg, ek het begin om ‘n lys te maak van voorbeelde hiervan, wat begin het by die onlangse verslag oor klimaatsverandering deur die Verenigde Nasies en geslagsgebaseerde geweld en geeïndig het by armoede en werkloosheid. Iewers in die middel het Covid-19 en die gevolge daarvan ook ‘n verskyning gemaak. Daardie lys het egter net eenvoudig te vinnig te lank geraak om alles hier te noem.
Miskien wil jy eerder self vandag ‘n oomblik neem om te sit met dit wat in die verband op jou hart lê, en dit met ‘n diep asem in en ‘n harde asem uit aan die Here oorgee?
Die goeie nuus, waaraan hierdie teks ons herhaaldelik vandag herinner het, is dat die Here luister na die behoeftes en die hulpgeroep van gelowiges.
Die vraag wat die teks aan ons rig is egter duidelik: Waarin/in (W)ie plaas ons ons vertroue?
Veral wanneer dit kom by die dinge waaroor ons nie beheer het nie.
Sou dit vir ons moontlik wees om ons behoefte aan beheer en sekerheid aan God oor te
gee? Nie net vandag nie, maar in elke oomblik waarin dit ons oorweldig?
Aan die ander kant kan ook nie help om te wonder of God soos vir Samuel, vir die van ons wat toegang het tot mag/invloed/hulpbronne, vandag steeds sal sê “Luister na hulle” nie?
Luister na die behoeftes van mense. Luister na die geroep van die skepping. Luister na die wat sê: “So kan dit nie meer aangaan nie.”
Sal dit vir ons moontlik wees om waarlik te luister en te doen/te gee waarvoor mense uit desperaatheid vra?
***
Mag ons in hierdie dae ervaar dat God na ons luister, en mag ons die opdrag gehoorsaam om te luister na die noodkrete van ander.