ns lees hierdie week verder uit die brief aan die Efesiërs. Verlede week het ons uit die tweede hoofstuk saam gelees, waarin die gemeente herinner word dat hulle deur Christus versoen is, beide met God en met mekaar (Jode en nie-Jode). Ons het nagedink oor wat dit beteken om daardie vrede uit te leef en uit te bou in die hier en nou.
Efesiërs 3:14-21, wat ons vandag saam gaan lees, is die slot van die eerste helfte van Efesiërs.
Net soos van Paulus se ander briewe (Galasiërs en Romeine), bestaan Efesiërs uit twee redelik duidelike helftes, met die eerste helfte wat fokus op teologiese sake en die tweede helfte op morele optrede. Vandag se teksgedeelte sluit die gewigtige teologiese gedeelte van Efesiërs af, voordat die brief na meer praktiese onderrig oorgaan. Hierdie afsluiting en oorgang is in die vorm van ‘n gebed.
Dié gedeelte was ook een van die tekste wat Wilhelm Verwoerd en Ayanda Nyoka vroeër hierdie jaar bespreek het in die Pinksterreeks “‘n Geesvervulde Lewe,” wat ons gemeente gevolg het. Indien julle nog nie het nie, sal ek julle sterk aanraai om die opname te gaan kyk.
Ek het wel daarom gewik en weeg of ek so kort daarna weer oor dié gedeelte moet preek, maar ‘n mens sou dink dat dit geskryf is om te volg op verlede week se teks en boodskap. Dit is so ‘n relevante gebed vir hierdie tyd.
In hierdie gebed, in die middel van die brief, word gemeente dít toegebid wat hulle nodig het om die vrede en versoening in hoofstuk 2 prakties uit te leef – soos wat die tweede gedeelte van die brief hulle oproep om te doen. Dis asof die skrywer probeer benadruk dat hierdie werk en navolging van Christus nie deur ons eie dade en vanuit eie krag moontlik is nie. Ons het die Drie-enige God se teenwoordigheid, krag en leiding uiters nodig, veral wanneer ons met die moeilike/ongemaklike werk van versoening besig is.
Omdat dit ‘n gebed is, moet ons dit egter effens anders benader as bv. ‘n verhaal of stuk lering. Ons kry natuurlik ook verskillende tipes gebede. Sommige gebede is publiek en ander privaat. Daar is gebede wat dankie sê en ander wat versoeke rig. Daar is gebede wat ons onderrig. ‘n Vriend van my het altyd vertel hoe sy pa alles waaroor hy met hulle wou raas die dag, in die gebed voor aandete sou uitpak.
Rabbi’s se gebede sou dikwels ‘n samevatting van hul teologie wees (soos bv. Jesus se Ons Vader gebed). Daar is gebede wat dien as ‘n herinnering of om ons aandag op iets te vestig.
En in ‘n sin is gebede – veral die wat bedoel is vir ‘n gehoor soos hierdie een uit Efesiërs – baie soos digkuns. Dit wil ons iets wys/leer, maar dit wil ons ook iets laat voel.
So wanneer jy/ons vandag hierdie gebed saam lees. Luister daarna asof dit vir ons gebid word en let op:
Wat roep dit vir jou op?
Watter beelde en gedagtes bring dit na vore?
Hoe laat dit jou voel?
Hoe raak dit jou en wat daarvan raak jou?
Lees Efesiërs 3:14-21
Alhoewel dit waarvoor daar in hierdie gebed gebid is, definitief van toepassing is op individue, is dit veral bedoel vir die kerk of gemeenskap as geheel. Efesiërs is natuurlik geskryf vir ‘n gemeente en, soos ek verlede week genoem het, is daar redelik konsensus dat dié brief ‘n soort omsendbrief was, wat aan ‘n aantal gemeentes in die vroeë kerk gestuur is (waarvan die gemeente in Efese een was). Die doel van hierdie gebed is dus nie net die versterking van individuele gelowiges nie, maar van hele gemeenskappe.
Hoe lyk gemeenskappe (ons gemeenskap) wanneer hierdie gebed vervul word?
Reeds in die opening van die gebed beklemtoon Paulus die eenheid van die hele mensdom onder God: “die Vader van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam neem” (verse 14-15). Die Griekse woord wat gebruik word vir “geslag”/”familie” is patria, wat ook kan verwys na ‘n spesifieke groep of selfs ‘n nasie. Dat elke patria hul naam van God ontvang, beteken eenvoudig dat God die oorsprong en Here is oor elke gemeenskap wat bestaan en dat hul almal ingesluit word by God se droom vir die wêreld. Hierdie uitdrukking vat dus die hoofargument van die eerste helfte van Efesiërs saam: dat in Christus se versoeningswerk almal insluit – nie net die oorspronklike geloofsfamilie/vennootmense (Jode) nie en dat daar daarom eenheid en vrede tussen die verkillende groepe moet bestaan, ten spyte van baie groot en duidelike verskille.
***
In een baie lang sin bid die skrywer dan spesifiek rondom 5 sake vir die lesers en hul gemeenskap:
Vir innerlike krag wat deur die Gees geskenk word
Dat Christus in hulle harte sal woon terwyl hulle in liefde vasstaan
Kennis van die liefde van Christus
Die vermoë om die omvattende, multi-dimensionele aard van Christus se liefde te begryp
Dat hulle daardeur die volheid van God sal ervaar
Die “kennis” van die liefde van Christus
Die struktuur van die gebed dui aan die “kennis van die liefde van Christus” die middelpunt daarvan is. Die kennis waarvan hier gepraat word (Grieks: gnosis) is baie meer as boeke kennis of verstandelike kennis. Dit is eerder ‘n persoonlike en intieme kennis wat met ervaringe en verhoudings gepaard gaan. Die hart (v.17) was interessant genoeg in daardie tyd beskou is as die setel van denke en verstand. Dus is die gebed dat die lesers nie net op ‘n intellektuele vlak Christus se liefde sal ken nie, maar dat hulle dit ook sal ervaar en voel.
Volheid van God
Die gebed, en ‘n groot deel van die “vul,” “woon-” en “tempel”-taal van die boek as geheel, is moontlik ‘n verwysing na die Ou-Testamentiese tradisies van die heerlikheid van God wat aanbiddingsruimtes vul, soos die tabernakel en tempel. Deur Christus se kruisiging en opstanding, en die uitstorting van die Gees, word God se teenwoordigheid nie meer beperk tot die tempelgebou nie. Julle sal dalk onthou dat Efesiërs 2 ook verwys na die tempel en dat die “huisgesin van God” deur die Gees die woonplek van God is.
Die volheid en teenwoordigheid van God het dus verskuif vanaf die fisiese gebou van die tempel na mense en lywe en gemeenskappe toe.
Hierdie boodkskap is veral waardevol in ‘n tyd waar onsself nie meer op dieselfde maniere in geboue byeen kan kom as van te vore nie.
***
Geskenk
Vir my is die mooiste deel van hierdie gebed dat niks hiervan iets is wat die lesers (ons) hoef “na te streef” nie, maar dat die skrywer juis bid dat dit alles deur God geskenk/gegee word.
Ons het dus slegs nodig om dit te ontvang; onsself oop te stel daarvoor; dit te verwelkom.
Die werk waarvoor ons as Kerk en navolgers van Christus opgeroep word – o.a. die werk van vrede waaroor ons verlede week breedvoerig gesels en gedink en miskien selfs aan ons lywe gevoel het – is nie werk wat ons op ons eie kan of hoef aan te pak nie. Die innerlike krag wat ons nodig het, kom van die Gees; die liefde waarmee ons alles aanpak, kom van Christus en in dit alles is God by ons teenwoordig. Al wat ons moet doen is om dit verwelkom; ons instemming gee dat die Gees in en deur ons werk. Dit beteken nie om passief terug te sit en te wag dat God intree nie, maar juis om onsself oop te stel om hierdie geskenke te ontvang. Dit is ‘n aktiewe oorgee aan God.
Een van die maniere wat ons dit kan doen is deur die Verwelkomings Gebedspraktyk. Daar is baie materiaal beskikbaar rondom dié praktyk waaroor u welkom is om my te kontak, maar in kort is dit om daagliks en veral tydens oomblikke waarin ons sterk emosionele reaksies ervaar God se teenwoordigheid en die Gees se werk in ons, te verwelkom. Dit mag dalk eenvoudig klink, maar soos meeste van ons geloofslewe, is dit nie noodwendig maklik nie en vra dit oefening, geduld en inspanning.
Hierdie gebed bestaan uit drie bewegings en kan daagliks, asook in oomblikke waar ons sterk emosionele reaksies ervaar, gebid word:
Beweging 1
Voel dít wat jy op hierdie oomblik in jou liggaam ervaar (bv. In jou skouers/maag/bors) en sink in daardie gevoel in. Haal diep asem terwyl jy dit doen
Beweging 2
‘Verwelkom’ dít wat jy op hierdie oomblik in jou liggaam ervaar. Gebruik dit as ‘n geleentheid om toestemming te gee vir die Gees se innerlike werking en God se teenwoordigheid in daardie gevoelens.
Beweging 3
Gee dit oor aan God met ‘n diep asem in en uit en die woorde “gee oor”.
Neem nou ‘n oomblik op jou eie om dit te oefen.
Sou dit vir jou moontlik wees om daagliks tyd te maak om hierdie gebed te bid? Selfs al verbind jy jouself net daartoe om dit hierdie week te probeer?
[Gebruik gerus ook hierdie begeleide verwelkomingsgebed, indien dit meer haalbaar voel]
***
Sal dit nie wonderlik wees as ons gemeenskappe en ons lewens ‘n weerspieëling word van hierdie gebed in Efesiërs nie? Dit voel dalk vêr van wat ons sien en ervaar, maar die gebed sluit af met dié herinnering: God het die mag om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink. Die lewe, optrede en werk waartoe God ons oproep (vrede maak, eenheid nastreef en naaste liefde) hou soms net soveel uitdagings, uitputting en ongemak as hoop en belongings in. Die goeie nuus is dat ons dit nooit alleen hoef te doen nie. Inteendeel, ons moet dit eerder nie uit eie krag doen nie, maar deur die krag van die Gees, die liefde van Christus en die teenwoordigheid van God.
Is ons oop om intensioneel hierdie geskenke te ontvang en verwelkom?