Scroll Top

Hebreërs 11:1-12:2 | ‘n Skare Geloofsgetuies

Wanneer ons deur foto albums blaai word ons herinner aan die mense en gebeurtenisse wat ons gevorm het; onthou ons die mense wat langs ons gestaan het in die goeie en die slegte tye of dié wat ons vooraf gegaan het en die weg vir ons gebaan het.

Die eerste verse van hierdie teksgedeelte is vir my byna soos om deur ou foto-albums te blaai. Die skrywer help ons om terug te kyk en om diegene te onthou wat voor ons reeds die spreekwoordelike wedloop voltooi het.

hebreërs 11:1-12:2

Een van my gunsteling tydverdrywe as kind, was om al die foto-albums in ons huis op die sitkamermat uit te pak en hulle een vir een te sit en deurblaai. Baie van hulle was vol van foto’s wat geneem is lank voor my geboorte: van my oupa en ouma op hul troudag of voor hulle eerste huis, tannies en ooms en my ouers toe hulle jonk was. Foto’s van my as baba op my ma se skoot of saam met my pa op die strand; later by ‘n gunsteling juffrou of ‘n beste maatjie.

Wanneer ons deur foto albums blaai word ons herinner aan die mense en gebeurtenisse wat ons gevorm het; onthou ons die mense wat langs ons gestaan het in die goeie en die slegte tye of dié wat ons vooraf gegaan het en die weg vir ons gebaan het.

 

Die eerste verse van hierdie teksgedeelte is vir my byna soos om deur ou foto-albums te blaai. Die skrywer help ons om terug te kyk en om diegene te onthou wat voor ons reeds die spreekwoordelike wedloop voltooi het. Deur daardie verhale op te roep, leer ons wie ons is; leer ons dat ons nie alleen is nie en dat ons deel is van ‘n familie met bepaalde kenmerke en  tradisies en karaktereienskappe. Dit hou ‘n soort spieël vir ons op. 

Ons leer ook nie nét wie ons is nie, maar wie ons wíl wees. Ons leer uit hulle suksessesuksesse sowel as hulle foute; hul vreugdes en tragedies.

 

Ons weet ook, wanneer ons deur hierdie ou albums blaai, dat ons nie in dieselfde tyd leef as die mense in die foto’s nie. So het die gelowiges vir wie Hebreërs geskryf is ook in ‘n ander tyd geleef – ‘n tyd waarin hulle vervolging en uiterse swaarkry ervaar het, juis omdat hulle glo. Hulle is openlik bespot en beledig oor wat hulle glo; hulle beland in die gevangenis en word vervolg; en hulle sien nie die vervulling van die beloftes waarop hulle gehoop het nie. 

 

Te midde van hierdie lyding – wat dit dalk moeilik maak vir hulle om te glo en te bly hoop – word die Hebreër geloofsgemeenskap herinner aan húlle voorgangers, wat op hul beurt weer in ‘n ánder tyd geleef het. Hulle word aangemoedig om weer na hulle eie geloofshelde te gaan kyk en daaruitvanuit hul verhale te leer.

 

Ons leef natuurlik ook in totaal ander tye as dié waarbinne Hebreërs geskryf is, maar tog ervaar ons ook ons eie uitdagings. Ons weet elkeen wat die dinge in ons eie lewens is wat ons uitput/uitdaag. Jy weet wat die dinge is waarmee jy worstel of wat vir jou lyding veroorsaak – spesifiek dan ook dié wat ‘n invloed het op jou geloofslewe. Ons het elkeen ons eie worstelinge, maar daar is ook sake waarmee ons gesamentlik worstel (of dit nou is as ‘n gemeente of ‘n gemeenskap, as Christene is of as ‘n land). 

Dit is wanneer hierdie sake (individueel of binne die gemeenskap) struikelblokke word in ons navolging van Christus – op hierdie maraton waaraan ons almal deelneem – dat die skrywer ons terugstuur na die verhale van diegene wat ons voorgegaan het, of dié wat langs ons staan.


Wat vir my so merkwaardig is, is dat die skrywer soveel verskillende, uiteenlopende karakters binne hierdie geskiedenis aan ons uitlig. Daar is nie net een manier nie. Ons elkeen met verskillende ervarings en perspektiewe, en behoort ons as gelowiges ruimte te maak vir die wat anders as ons is. Die teks vertel van Ragab, die prostituut, tot Dawid die koning, Simson wat so maklik verlei is, Samueel en die profete. Aan die een kant (verse 29-34) kry ons ‘n klomp mense wat suksesse behaal het en wie se stories goed en mooi geeïndig het, en aan die ander kant (v.35-39) ook dié wat verdruk en mishandel is, die wat met klippe dood gegooi… Hierin sien ons, dat geloof nie altyd maklik of rooskleurig is nie. Geloof beteken om ook in moeilike en uitsiglose situasies te vertrou en aan God vas te hou – al werk dinge nie uit soos wat ons hoop nie. Hierdie wye verskeidenheid stories is almal deel van die skare: prostitute, konings, oorwinnaars, gevangenes, martelaars, verdruktes, mishandeldes… elkeen  met sy/haar eie getuienis.

So kom óns almal, wat deelneem aan hierdie maraton, van verskillende plekke en punte af; het ons almal het met ‘n ander pad langs gekom en miskien selfs oppad ‘n paar onnodige afdraaie ook gemaak. Maar ons is almal oppad na dieselfde eindpunt

 

Wanneer ons egter begin voel dat hierdie wedloop te lank raak; dat ons bene nie meer wil hardloop nie; dat ons wil gaan lê of dat ons so stadig stap dat ons nie voel asof ons vorentoe beweeg nie. Dan, moet ons in die eerste plek opkyk en luister na die skare wat ons aanmoedig – daardie mense wat voor jou reeds die baan betrree het of hulle wat saam met jou hier in die banke sit. 

Die geloofsgetuies. 

Normaalweg, is diegene wat op die pawiljoen sit en toejuig, mense wat wil kyk wat die atlete doen. Hierdie skare is egter anders. Dit gaan nie oor wat hulle in ons sien nie, maar wat ons in hulle sien. Wanneer ons na hulle kyk sien ons aan die een kant dat dit moontlik is om die wedloop te voltooi, maar ook wat ons moet/kan doen om te sorg dat ons die eindpunt haal.

 

In die tweede plek word ons bemoedig deur die mense wat saam met ons hardloop. En hier kan ek darem uit ervaring sê dat dit altyd lekkerder en beter gaan, wanneer mens iemand het wat saam met jou draf of stap (of dan nou hardloop, as jy wil). Dis die mense wat langs jou hardloopstap en sê: “Kom, ons kan dit doen;” die persoon wat jou onder die elmboog steun wanneer jy ‘n besering opgedoen het…  Dit is ons gelowige ouers of onderwysers, mentors, bure, mede-studente, die mense wat saam met ons in die gemeente is of in ons Kleingroep.

Ek wonder wie in jou gedagtes opduik?

Dit is belangrik dat ons onsself omring met mede-gelowiges en mede-reisigers, sodat ons mekaar kan bemoedig en aanhelp; mekaar kan optrek wanneer ons struikel en waarsku wanneer ons ‘n klip in die pad sien.

 

En dan, saam met al hierdie skares wat ons help om die wedloop te voltooi, is daar die belangrikste Aanmoediger van almal…

“Hou (Jesus) voor oë” lees ons in die laaste vers “dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” 

Uiteindelik beteken die aanmoediging en ondersteuning van die skare en die mede-atlete niks as ons nie in die regte rigting hardloop nie. Die res van die skare (die getuies) kan ons inspireer en bemoedig, maar Jesus is die eintlike pasaangeër

Die Griekse woord wat met “oog gevestig” vertaal word, verwys eintlik daarna om doelbewus “weg te kyk” van die dinge wat iemand weet hul aandag kan aflei – dus om weg te kyk van alles anders na Jesus toe. Dit beteken eerstens om Sy voorbeeld te volg: om te maak soos wat Hy gemaak het, maar Hy is egter ook meer as net ‘n voorbeeld – Hy is ons kragbron, die waarborg dat ons sal slaag, selfs wanneer die skare stil raak of jou mede-atlete jou nie meer kan dra nie. 

Jesus is nie net die Begin (die Baanbreker of Stigter) nie, maar ook die Voleinder (die Vervolmaker of Voltooier) van die geloof. Ons moet dus nie net ons oë gevestig hou op Hom as voorbeeld nie, maar moet ook altyddeur bewus wees van wat Hy aan die kruis vir ons gedoen het.

Ons hardloop nie meer die wedloop in die hoop dat God se beloftes tot vervulling sal kom nie, ons hardloop juis met die krag van die belofte wat reeds in Jesus vervul is. Dit is juis op grond van die feit dat Jesus die wedloop reeds voltooi het, dat dit vir ons enigsins moontlik is om deel te neem; dat dit vir ons moontlik is om die laste en onnodige gewigte van ons af te gooi en as vry mense die geloofswedloop enduit te hardloop.

My gebed vir Inge en vir elkeen van ons is dat ons met die hulp van die geloofsgetuies, ons mede-atlete en met Jesus se voorbeeld altyd in die oog, ons geloof, ons gawes en ons oortuigings sal aanhou uitleef, (her)vorm en verbreed.

 

 

Geloofsbelydenis

 

Ons glo in een Heilige God, wat uit liefde die pragtige wêreld gemaak het.

 

Ons glo dat God aan sy belofte getrou was 

deur sy Seun te stuur: Jesus Christus, 

’n man in die vlees, ’n Jood van stam, 

arm gebore in ’n klein gehuggie, 

wat sy huis verlaat het en altyd op safari was om goeie dade te doen, 

heling te bring deur die krag van God, te onderrig oor God en mens, 

en te wys dat die betekenis van godsdiens liefde is. 

 

Hy was deur sy mense verstoot en gemartel; 

hande en voete vasgespyker aan ’n kruis het hy gesterf. 

Hy het begrawe in ’n graf gelê, 

maar die hiënas het hom nie aangeraak nie, 

en op die derde dag het hy uit die graf uit opgestaan. 

Hy het opgevaar na die hemele. 

Hy is Here.

 

Ons glo dat al ons sondes vergewe is deur Hom. 

Almal wat in hom vertrou moet jammer wees oor hulle sondes, 

gedoop word in die Heilige Gees van God, 

lewe volgens die reëls van liefde, 

en die brood met mekaar deel – 

om só die goeie nuus aan ander te verkondig 

totdat Jesus weer kom. 

 

Ons wag op hom. 

Hy lewe.

 

Dit is wat ons glo. Amen.

 

– Maasai Geloofsbelydenis