Van die vroegste tye af, duisende jare gelede, regdeur die eeue tot nou, probeer mense om woorde en beelde te vind wat hulle kan help sin maak van die wêreld rondom hulle. Beelde wat emosies, ervarings en abstrakte konsepte kan verduidelik en meer verstaanbaar kan maak vir die met wie hulle (ons) kommunikeer. Die Bybel is daarom van begin tot einde deurtrek met metafore. Ek is seker soos jy daar sit kan jy self aan ‘n paar dink.
Ek wonder wat kom by jou op en wat is jou gunsteling Bybelse metafore?
Ons gebruik vandag nog net so baie metafore om mekaar en die wêreld rondom óos te kan beskryf en verstaan (bv. skoenlappers in my maag, knop in my keel). Metafore is een van ons belangrikste instrumente om die dinge te probeer verduidelik wat dalk nie heeltemal verstaan kan word nie. Dit kommunikeer nie net inligting nie, maar nooi ons om konsepte met ons verbeelding te kan voel en ervaar en daardeur te kan identifiseer (connect) met mekaar. Metafore bied die raamwerk waarbinne ons breine kan sin maak van die wêreld rondom ons.
Verlede naweek het ek ‘n werkswinkel oor illustrasie bygewoon. Ons het begin met vorms (blobs) op papier en moes karakters skep deur bv. neus, stert en ore by te sit. Deur ‘n paar lyne te trek word die “blob” wat voorheen nie veel sin gemaak het nie skielik ‘n kat.
En tog kan daardie tekening en die breë lyne wat gebruik is om dit te skets ontmoontlik nie die essensie van bv. ‘n kat vasvang nie.
Dit het my laat dink oor metafore. Beelde wat ons kan help sin maak van dit wat on voorheen nie kon sien nie, maar tog nie alles aan ons kan verduidelik nie.
Daarom is daar in die Bybel natuurlik talle metafore wat gebruik word om God – oftewel eienskappe en aspekte van God – te probeer verduidelik. Een wat herhaaldelik voorkom is die van ‘n Herder – wat in Johannes spesifiek as die Goeie Herder beskryf word.
***
Die Beeld van die Herder is natuurlik (ten minste vir my) een wat ‘n warm, sagte gloed van veiligheid en rus oproep. Stille waters en groen weivelde. Tog kom Jesus se beskrywing van die Goeie Herder, wat ons vandag gaan lees, eintlik binne ‘n situasie van konflik na vore. Jesus gebruik dié beeld tydens ‘n argument met die godsdienstige leiers, en in die middel tussen twee verhale van pogings om Jesus te stenig (Johannes 8:59; 10:31).
Ons mag dalk ook dink aan die Herder metafoor as ‘n baie persoonlike beeld wat gerig is op die individu, soos in Psalm 23 (“die Here is MY Herder”). In Johannes praat Jesus egter met die Farisieërs (Joodse wetgeleerdes) as ‘n kollektief. .
Jesus reageer in Johannes 10 op ‘n voortgaande konflik begin het nadat Hy die man wat blind gebore is se sig herstel het. Die Fariseërs was nie net woedend dat die man genees is nie, maar dat die genesing op die sabbat plaasgevind het.
Nadat die man verkondig het dat hy glo dat Jesus die Seun van die mens is, verklaar Jesus dat hy gekom het “sodat die wat nie sien nie, kan sien en die wat sien, blind kan word”. (Johannes 9:39) Die blindgebore man ontvang nie net fisiese sig nie, maar ook geestelike insig, terwyl Jesus vir die teenstanders sê dat hulle geestelik blind bly as hulle daarop aandring dat hulle in staat is om te sien.
Hy illustreer dan dié konflik van Johannes 9 met die kontrasterende beelde van die ware, goeie herder teenoor die diewe en rowers wat hom teëstaan.
Lees Johannes 10:11-18
Hoewel Jesus se beskrywing van homself hier as die Goeie Herder vir ons baie bekend is en maklik op die oor val, was dit in daardie tyd en oomblik ‘n baie kontroversiële verklaring. Vir diegene wat die Ou Testament geken het, was die Goeie Herder ‘n beeld wat na God verwys het. Dit moes dus vir Jesus se vriende, volgelinge en vyande baie opvallend gewees het om te hoor dat Hy homself as die Goeie Herder beskryf.
Die Skrifte was gevul met beelde van God as die Herder van die volk en die Goeie Herder is spesifiek geskoei op ‘n teks uit Esegiël 34.
Konings en belangrike leiers is gereeld in die Ou Testament beskryf as Herders. En in Esegiël 34 word die leiers van die volk juis aangekla dat hulle nie as ware herders optree nie.
Johannes bevestig dan dat Jesus die Goeie Herder en dus die Here is, maar hy beklemtoon ook watter leierskap verwag word in hulle midde.
Die evangelie van Johannes spreek die behoeftes van gemeenskappe in die era na die opstanding aan. Geleerdes meen dat die evangelie omstreeks 90nC geskryf is, ‘n tyd waarin die Johannese gemeenskap juis teistering ontvang het van die leiers van die Sinagoge, die Fariseërs.
Jesus se leierskap as die Goeie Herder word daarteenoor gestel en is juis ‘n verwysing terug na Esegiël 34 waarin God as die Goeie Herder beskryf word teenoor die slegte leiers van daardie tyd.
Lees Esegiël 34:1-10
Watter raamwerk/lyne trek die beeld van hierdie Goeie Herder vir ons vandag?
Ons identifiseer beslis moeiliker met hierdie spesifieke metafoor as die mense van daardie tyd vir wie dit oorspronklik geskryf is, omdat min van ons op ‘n daaglikse basis met herders te doen kry. En selfs wanneer ons dalk op ‘n besoek aan die platteland met herders in aanraking kom, is dit baie anders is as in daardie landskap en tyd.
Jesus verwys eksplisiet na twee eienskappe van die Goeie Herder:
1.Die Goeie Herder lê sy lewe af vir die skape.
Om ‘n herder te wees was ‘n harde en gevaarlike taak waarvoor niemand eer ontvang het nie. Herders was vir lang tye in die veld en het saam met hul kudde geslaap om diewe of roofdiere af te weer. Hulle het dus die meerderheid van hul tyd met hul kudde deurgebring. Daarom kon hulle ook nie aan die gebruiklike reinigingsrituele deelneem nie en was hulle tot ‘n baie groot mate die uitgeworpenes in die samelewing.
Johannes 10 bevestig oor en oor dat die goedheid van die ware herder iets kos. Terwyl die huurarbeider – wat nie vir die skape omgee nie omdat hy nie aan hom behoort nie – weghardloop as die wolwe kom, doen die herder dit nie. Die goeie herder lê sy lewe af. Die frase word vyf keer in hierdie nege verse herhaal en verdeel die gedeelte in drie dele. Die herder se eerste en enigste prioriteit was sy kudde en om te sorg dat hulle veilig en gevoed is. Hulle gee dus nie net hul lewe wanneer hulle die skape teen wolwe of leeus beskerm nie, maar gee letterlik hulle daaglikse bestaan – dag in en uit – vir die skape. Kan “lewe gee” in hierdie teks dalk verder strek as net die Kruis?
Deur sy lewe te gee doen Jesus iets vir die gemeenskap wat niemand nog ooit gedoen het nie. Alle leiers in die verlede het lyding en die tipe toegewydheid wat Jesus teenoor die welstand van die gemeenskap gehad het, vermy. Soos Esegiël 34 dit beskryf het hulle eerder die mense uitgebuit. In plaas daarvan om hulle lewe te gee, het hulle dit in waarheid van hulle weggeneem. Maar Jesus gee sy lewe sodat hulle (ons) kan lewe in oorvloed?
Wat beteken ‘n lewe van oorvloed vir jou?
2. Die Herder ken sy kudde en die kudde ken die roepstem van die Herder
Dit is bekend dat herders in die Bybelse tyd nie hul kudde van agter af aangejaag het nie, maar dat hulle vooruit geloop het om seker te maak dat daar geen gevare is nie, en dat die kudde hulle agterna gevolg het. As die kudde dan nie die herder volg nie is die hele oefening mos nutteloos, en om dit te kon doen moes hulle hul herder se roepstem ken. Verskillende herders se skape sou dikwels in een kraal slaap, of by een put water drink en dan deurmekaar raak. Dit sou my mal maak, maar dit het die skaapwagters nie veel gepla nie. Hulle het geweet, as hulle net ‘n entjie daarvandaan sou gaan en hul kudde roep, al hul skape na hulle toe aangehardloop sou kom. Dis hoe goed hul hulle herder se stem geken het.
Wat beteken dit vir ons om te kan luister na die Herder se roepstem?
As die band tussen Jesus en sy kudde bevestig word deur die herkenning van die Herder se stem, hoe belangrik is die daad van luister as geestelik praktyk dan nie?
Met ander woorde, sonder die fokus en intensie om na die Here se stem te luister, sou ons verhouding met die Herder nie bestaan nie.
Watter praktyke kan ons in ons lewe inbou om meer luisterend te lewe?
***
Beide Joh 10 en Eseg 34 is aan die een kant bevestiging van God en Jesus se Herderskap, maar terselfdetyd vind ons in albei tekste ook ‘n aanklag teen diegene wat as herders aangestel is oor God se kudde.
Die teks is dus nie net ‘n versekering van God se sorg vir ons nie, maar roep ons (as individue, maar meer belangrik as die kollektief) op tot herderskap. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel van wat ‘n goeie herder is, en as volgelinge poog ons om in daardie voetspore te loop.
Waar en hoe is jy ‘n herder/ kan jy ‘n herder wees?
Wat beteken dit om die herder se stem te echo aan diegene wat nodig het om dit te hoor – al is hulle nie deel van die kraal nie?
Ons het iets daarvan gesien in die week wat verby is en hoe mense reageer het op die verskriklike brand wat verlede Sondag rondom hierdie tyd uitgebreek het. Oral waar beriggewing oor die tragedie gedoen is, is daar ook gesê hoe Kaapstad saamgekom en saamgestaan het te midde daarvan – dws hoe ons as herders vir mekaar en ons mense opgetree het.
Ons is as herders opgelei deur die Goeie Herder.
Hoe kan ons daardie herder-gesindheid nie net in tye van krisis nie, maar elke dag metons saamdra?