Scroll Top

Mense van Herinnering en Hoop

Dit is belangrik om te onthou, want wanneer ons onthou -  wanneer ons onthou wie God is, wie ons is en wie s’n ons is -  kan ons hoop.
deuteronomium 6:1-9 Mense van herinnering en hoop
I

n die Joodse tradisie is daar baie wonderlike gebruike wat gelowiges help om in alle omstandighede vas te staan in hul geloof en dit uit te leef. Een daarvan is ‘n besonderse gebed wat hulle baie gereeld bid, wat bekend staan as “Die Shema.” Die naam van dié gebed en gebedspraktyk kom van die Hebreeuse woord wat die gebed inlui: “Shema Yisrael”

 

“LUISTER ISRAEL, DIE HERE IS ONS GOD, DIE HERE ALLEEN. Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele wese en met al jou krag.”


Die shema gebed, wat bestaan uit hierdie vers en enkele ander gedeeltes van Deuteronomium en Numeri, is een van die invloedrykste tradisies in die Joodse geskiedenis en funksioneer beide as ‘n getrouheidsbelofte en ‘n lofsang.
Daar is spesifieke tye wanneer hierdie gebed gebid word en maniere hoe dit gebid moet word.
Dit word gebid in die oggend wanneer dit begin lig word – maar voor die son opkom – en in die aand voor middernag. Dit word ook gebid wanneer jy in die bed klim sodat jy met die woorde van die Torah op jou lippe aan die slaap raak.
Die Shema word bv. in die sinagoges opgesê, wanneer iemand gesterf het en dikwels wanneer iemand besig is om te sterf, uiter hul dit as hulle laaste woorde. Daar is baie getuienisse regdeur die geskiedenis waar die Shema deur Joodse martelare gebid is.

Omdat dit as so ‘n belangrike gebed is, is die verwagting dat dit met baie konsentrasie, ontsag en eerbied gebid sal word.

Jy moet ook jou oë toedruk met jou regterhand, sodat niks jou aandag aftrek nie.

Jy moet dit ook met ‘n stadige, singende stem sê, want dit beklemtoon God se liefde vir die mens en die mens liefde vir God.

 

Daar is ook tekens wat mense aan die gebed herinner. Die gebruik onder sommige Joodse gelowiges is dat die woorde van die tien gebooie op klein perkament rolletjies geskryf, in leerhouertjies gesit en vasgebind op jou voorkop en jou linkerhand terwyl jy die shema bid. Dit word ook in klein langverwpige houertjies (Mezuzah) by hulle deurkosyne geplaas.
In goeie dae, in donker dae; waar mense vergader, waar mense alleen is, is hierdie woorde altyd by die gelowige deur middel van tekens, rituele en gebedspraktyke.

 

Ons gaan dan saam lees uit Deut 6 vanoggend waaruit hierdie Shema-gebed oorspronklik kom. Die begingedeelte van Deuteronomium, bestaan uit ‘n versameling toesprake wat gelewer is net voordat Israel die Beloofde Land binnegegaan het. Hierdie toesprake word aan Moses toegeskryf en hy bied aan hulle wysheid en waarskuwings, omdat hy nie wil hê dat hierdie groep die foute van hul voorouers moet herhaal nie. Daarom nooi hy hulle uit met op liefde, trou en gehoorsaamheid op God se genade en barmhartigheid te reageer.

 

 Lees Deuteronomium 6: 1-9


Teks notas:
“Hart”: in daardie tyd beskou as die setel van mens se denke
Vers 5 “Wese” vs “Siel”: sommige vertalings gebruik “siel,” maar “wese” is meer akkuraat siende dat die Hebreeuse woord “nephesh” eerder beteken iemand se hele lewe of totale wese.
Vers 6 “op jou hart”: dws jou gedagtes bly.
Vers 7 “herhaal”: om weer en weer (ywerig) te herhaal

Die Christelike geloof is in sy wese ‘n onthou-geloof. Om te onthou, sê Dirkie Smit, is die mees basiese Christelike deug wat mens kry. Dit is dan ook waartoe Deut 6 ons oproep. Om te onthou – vandag, maar ook elke ander dag, by ons huise waar ons met ons familie en kinders en kleinkinders daaroor praat, en wanneer ons oppad is, by die werk, by die skool, by die winkel, wanneer jy gaan slaap en wanneer jy opstaan.

As Christene leef ons altyd in die ruimte tussen herinnering (dit wat in die verlede gebeur het) en hoop (dit waarna ons aktief uitsien).

Dit is ook hoekom daar ‘n Sondag is, en ‘n kerklike jaar met verskillende seisoene. Dis hoekom ons weekliks kerk hou – selfs al is dit tuis – en hoekom daar verskillende elemente en rituele in ons eredienste is. Die lofprysing, gebede, vredesgroet, kersaansteek ens. Wanneer ons saam is, is alles maniere waardeur ons herinner word aan wie God is, aan wie ons is, en wat ons bind aan die geloofstradise waarvan ons deel is. Hopelik is daar ook in ons eie lewens rituele, tekens en praktyke ingebou wat ons herinner aan die pad wat God met stap, en reeds gestap het.

Die grondslag van die shema-gebed is die genade verbond wat God met Israel gesluit het nl. dat die Here hulle God is en dat hulle God se “vennoot-mense” is. Die shema is ‘n herinnering aan daardie verbond en roep hulle op tot lojaliteit en gehoorsaamheid.
Die openingsreël “Luister, Israel,” beteken veel meer as om te hoor of net aandag te skenk. Die woord “Shema” beteken hier om die woorde in te laat insink, te begryp/verstaan én daarop te reageer. Met ander woorde, in Hebreeus is ‘hoor’ en ‘doen’ basies twee kante van een woord. Wat die reaksie behoort te wees word ook duidelik uitgespel “Wees lief vir die Here jou God.” In hierdie konteks is liefde nie bloot die warm, koesterende emosie wat ons voel as ons van iemand hou nie. In die Bybel is liefde aksie. Jy is lief vir iemand as jy met lojaliteit en getrouheid optree. Vir Israel het liefde beteken om getrou te wees aan die bepalings van hul verbondsverhouding.

Daar is ook ‘n sterk fokus – beide in hierdie teks en verder deur Deteronomium – op die herinneringe van die tyd toe die Israeliete slawe was in Egipte was en hoe God hulle verlos het (verse 21-22). Dit is hierdie herinnering aan bevryding en veral bevryding van slawerny wat sentraal staan in Israel se begrip van die God wat hulle dien. Hul identiteit is daarin ingebed. Wanneer ons dus in vers 1 lees oor die land wat hulle in besit neem, speel hierdie herinneringe ‘n belangrike rol. Hul optrede teenoor hul nuwe bure en medeburgers behoort bepaal te word deur hul eie ervarings van onderdrukking, sodat hulle self nie onderdrukkers word nie.

Die Shema is dus op soveel verskillende vlakke ‘n oproep om te onthou.

Want ons mense is tog so geneig om dinge te vergeet (en ek is die skuldigste daaraan – ek is verlore sonder Google Calendar en Facebook se verjaarsdag herinneringe), maar juis daarom het God vir ons tekens en maniere gegee wat ons help om die belangrike dinge te onthou. En hoewel ons nie noodwendig dieselfde tekens gebruik as dit waarna hierdie teks verwys nie, is dit belangrik vir ons om ons eie tekens, rituele en gebruike te hê wat ons help om te onthou, nie net wanneer ons in die kerk bymekaarkom nie, maar ook in ons persoonlike lewens. 

Ons het dit nodig om ons te help onthou wie God is.
Ons moet onthou dat God Godself van die begin af met die mensdom bemoei het. En toe dinge skeefgeloop het – nie een keer nie, maar oor en oor en oor – het die Here ekle keer weer met hulle oor begin. Ons moet onthou hoe God ‘n groep mense wat swaargekry het en as slawe in Egipte gewerk het, raakgesien het en bevry het. En daarna vir hulle gesorg en met hulle saamgetrek het. Hulle nooit verlaat het nie. Saam met hulle storie en die Bybelse storie, is dit ook belangrik om te onthou wie God is in ons storie.

Keer op keer het die volk van die Here begin vergeet en op afgode begin staatmaak. Ons het wel nie meer dieselfde afgode nie, maar ons het verseker ons eie afgode – soos geld, sekuriteit, tegnologie, prestasies ens. Net jy weet wat die dinge in jou lewe is wat eerste kom, waarin jy jou vertoue primêr plaas en wat die dryfkragte in jou eie lewe is. In ‘n konteks waar baie ander gode aanbid is, was die Shema ‘n gebed waarin gelowiges, volgens die verbondsverhouding, trou belowe aan God.
 

Ons, as Christen gelowiges, het ook veel meer om te onthou as die Israeliete van ouds. Ons onthou vir Jesus, wie Hy is en waarom Hy mens geword het. Wanneer ons sê die Here is die enigste God, verklaar ons ook dat Christus die Here van ons lewe is en dat sy voorbeeld ons lewens rig.

Ons moet onthou wie ons is en wie s’n ons is
Die Bybelse verhaal, die wêreld geskiedenis, ons land se geskiedenis, ons gemeente se geskiedenis en ons eie persoonlike geskiedenis, vertel alles ‘n storie van God se betrokkenheid in ons lewens en wêreld. Soos wat God met die volk deur die woestyn getrek het, so is die Here ook deel van ons verhale. Daar waar dit met ons baie goed gaan, en daar waar ons swaar kry. Daar waar ons misluk het en waar God ons opgehelp het. Daar waar ons tevredenheid en geluk gevind het.

Is daar voorbeelde uit jou lewe waar God jou raakgesien, vir jou gesorg of met jou oor begin het?

Ons is egter ook nie net mense wat ontvang nie. Nee, ons moet ook onthou dat ons, as God se vennote opgeroep word om ‘n seën te wees vir die wêreld. Ons moet onthou dat ons doel is om die wêreld meer en meer te help lyk en wees soos God dit bedoel het om te wees – ‘n wêreld waar vrede,. liefde en harmonie aan die orde van die dag is.

***

Om te onthou kan ons help om met ‘n dieper bewustheid te leef van God se sorg en nabyheid, asook God se werk in en deur ons.
Is daar daaglikse gewoontes wat kan help om jou aan God se teenwoordigheid te herinner en daardie teenwoordigheid in jou lewe in te nooi? Wat is die rituele wat ons (jou) in hierdie tyd kan help om te onthou? Om te onthou wie God is, wie ons is en Wie s’n ons is?
Vir Joodse gelowiges was/is dit die “Shema,” vir my is dit die verwelkomingsgebed praktyk [sien verlede week se boodskap], vir jou is dit dalk ‘n  ander ritueel.

Dit is belangrik om te onthou, want wanneer ons onthou –  wanneer ons onthou wie God is, wie ons is en wie s’n ons is –  kan ons hoop. Omdat die Israeliete onthou het waarvandaan hul gekom het en Wie hulle vanuit die land van slawerny na die land van melk en heuning gebring het, kon hulle hoop hê vir die toekoms – wetende dat God nog altyd by hulle was en altyd by hulle sal wees. In die donker en die goeie tye.

Dalk het ons in hierdie dae, wanneer ons moeg en moedeloos voel, ook nodig om te onthou: die Here is ons God, die Here alleen.