Die huis en die kerk vorm ʼn span en albei ruimtes is belangrik vir geloofsvorming. Huisgeloof verwys na gesinne (mense wat saam in ʼn huishouding woon) wat saam hulle geloof uitleef en beoefen. Daarom sluit ons KinderKasteel en Tienerkerk programme ook ʼn huisgeloof komponent in wat gesinne bemagtig om saam in die geloof te groei. Dikwels sluit die week se huisgeloof tema ook aan by die preek.
Huisgeloof hulpmiddels word weekliks aan die gemeente uitgestuur.
Tydens die grendelstaat het huisgeloof die primêre manier geword waarop ons aanbid en in ons geloof groei.
Geloofsvorming in ʼn huis kan vergelyk word met ʼn tafel wat vier pote het: kennis, verhoudings, aksie en aanbidding. Huisgeloof gaan dus oor meer as net ‘lessies’. Dit gaan oor egte ontmoetings en die aanleer van geloofsgewoontes. Geloofsgewoontes is dinge wat ons gereeld doen om ons te help om God se teenwoordigheid in ons daaglikse lewens raak te sien en met mekaar te deel. Wanneer ons geloofsgewoontes in oefen gee dit ʼn ritme aan geloofsvorming wat verhoudings verdiep en geloof iets prakties maak.
Buiten die weeklikse e-pos, voorsien ons ook gesinne van boeke (Genoeg en Genade / Manna and Mercy) en ander hulpmiddels. Ouers wat op soek is na hulpbronne en wenke kan gerus die volgende aanlyn hulpbronne raadpleeg:
- Dink Jeug: ʼn Afrikaanse webblad met uitstekende huisgeloof hulpbronne en wenke.
- KIX Kinders: ‘n Webblad met uitstekende Afrikaanse ontmoetings rondom Bybelverhale.
- Bible Project: Gratis geanimeerde video’s wat mense help om die Bybel te verstaan. Veral geskik vir tieners en volwassenes. Bible Project het onlangs begin om die video’s ook in Afrikaans beskikbaar te stel.