Scroll Top

Jesus lei, vanuit Sy medelye

Vir Markus is die manier waarop Jesus die dissipels uitstuur gevorm deur sy eie eerstehandse ervaring. Jesus vra hulle nie om enigiets te doen of deur te gaan, wat Hy nie self geoefen het nie. Dit kom vanuit ‘n  plek van diep medelye en empatie.
Markus 6:1-13 Jesus Lei vanuit sy medelye
O

ns is in Koninkrykstyd. Die tyd van die jaar waarin fokus op wat God se Koninkryk verteenwoordig en wat dit beteken om deel te wees daarvan – en véral deel te neem daaráán. As navolgers van Jesus word ons tog juis opgeroep om die wêreld meer en meer te help word soos die Koninkryk wat Hy aan ons kom bekend maak het. Vandag gaan ons ‘n verhaal lees oor hoe Jesus die dissipels uitgestuur het om juis dit te gaan doen met die hoop dat dit dalk vir ons ook enkele leidrade kan bied.

Die verhaal begin wanneer Jesus sy vriende (die twaalf dissipels) met hom saamneem na sy huis – sy tuisdorp – toe.
Vir baie van ons is huis toe gaan ‘n blye geleentheid gevul met bekende reuke en geure, die  hereniging van geliefdes en ‘n gevoel van behoort. Huis is immers waar die hart is.
Tog is dit nie altyd so eenvoudig nie. Huis is nie altyd maklik nie en huistoe gaan kan, selfs wanneer dit goed is, vele uitdagings inhou. So wonderlik soos huis kan wees, is dit dikwels ook vol geskiedenis, komplekse familie verhoudings en herinneringe wat ons gevange kan hou. Huis onthou dikwels wie ons wás, maar hou nie altyd tred met wie ons ís, of wie ons geword het nie.

Iets hiervan is beslis waar vir Jesus wanneer Hy, in Markus 6, na sy tuisdorp terugkeer.

Lees Markus 6:1-13

Jesus keer terug na die dorp en mense voor wie hy grootgeword het.  Teen hierdie tyd moes die mense van Nasaret sekerlik al gehoor van al die wonderwerke wat Jesus in Kapernaum en omgewing verrig het. Met sy terugkeer het hy aanvanklik ‘n groot indruk gemaak en baie het na Hom kom luister – dalk uit nuuskierigheid meer as enigiets anders. Wanneer hy in sy ou aanbiddingsplek vir hulle ‘n boodskap bring is hulle aangegryp deur sy woorde, maar die verwondering maak vinnig plek vir verwyt en neerhalende opmerkings. Hulle is agterdogtig en bevraagteken sy wysheid en die “kragtige dade wat deur sy hande plaasvind.”

Hulle ken immers hierdie man, ‘n gewone ou, nie iemand van hoë aansien nie. Sy plek was aan die onderste punt van die sosiale leer. En hier staan Hy en leer hulle in die sinagoge.

Hulle ken hom dan as ‘n timmerman en ‘n timmerman is iemand wat veronderstel is om gewone wêreldse dinge te doen soos meubels met sy hande te maak, nie wonderwerke daarmee te verrig nie!

 

Dan hang die grootste denkbare skande natuurlik ook nog soos ‘n swaard oor sy kop – Die dorpenaars verwys na Jesus as “’n seun van Maria”. Normaalweg sou daar na Hom verwys word as “die seun van Josef” – dit was die gebruik in daardie dae – maar om as “die seun van Maria” bekend staan, het in daardie tyd daarna verwys dat Hy ‘n buite-egtelike kind was. Iets waarop almal wat daarvan geweet het natuurlik neergesien het. Hierdie verwysing is dus bedoel as ‘n klad teen sy naam.

 

Hierdie is ook een van die min plekke in die Bybel waar ons iets meet te siene kry van Jesus se familie verbintenisse. Die Jesus wat broers en susters gehad het (of neefs en niggies, wat ook kan wees waarna die Grieks verwys). Die Jesus wat grootgeword het as deel van ‘n gesin. Dis nie ‘n beeld van Jesus wat ons gereeld sien nie, maar tog een wat die menslike Jesus, nader aan ons bring. 

 

Maar juis daar, tussen die mense wat ons sou dink hom die beste moet ken en wat Hom behoort te waardeer, word hy misken. “‘n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp, en in sy familiekring en in sy huis.” 

Ons lees letterlik dat hy geen kragtige dade daar kon verrig nie. Maar die Geneeser wat Hy is, kan Jesus nie weggaan sonder om sy hande op ’n paar siekes te lê en hulle te genees nie. [Lees/Luister in die verband gerus Ds Louis van der Riet se preek: God genees (steeds) ons lyding].

Hoe is dit moontlik kan ons wonder, dat Jesus nie krag kon uitoefen nie?  

Dalk het die probleem nie gelê by Jesus se vermoeens nie, maar eerder by die mense se geloof in Hom en waartoe hulle geglo het Hy instaat was.
Het hulle ongeloof en wantroue gemaak dat hulle nie oop kon wees om te ontvang wat Jesus vir hulle bied nie?
Was hulle so vasgevang in hulle idee van wie Jesus was, of volgens hulle veronderstel was om te wees, dat hulle oë en ore en harte gesluit was vir sy werk?
Of is dit dalk net nie in Jesus se aard om Sy krag af te dwing op mense nie?

 

Ongeloof maak God nie kragteloos nie, maar dit maak ons geslote vir die werk van God.

***

Jesus word egter nie deur hierdie teleurstellende interaksie en verwerping gestuit nie. Hy sit onmiddelik sy bediening voort deur mense te leer in ander dorpe. 

Dit is juis vanuit Jesus se eie persoonlike ervaringe dat Hy die dissipels uitstuur. Hulle word spesifiek twee-twee uitgestuur. Miskien sodat hulle mekaar kon ondersteun en aanvul. Dalk sodat hulle mekaar verantwoordbaar kon hou en beskerm. Óf omdat twee mense wat dieselfde gesien en gehoor het, die boodskap meer akuraat en met sterker oortuiging kan oordra.


Daar is verdere instruksies: om niks vir die pad saam te vat nie, net ’n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Skoene moes hulle wel aantrek, maar nie nog ’n kledingstuk saamvat nie.  Die ekstra kleed wat die dissipels nie mag saamdra nie was hulle bo kleed, ‘n lang rok wat hulle bo oor hulle ander klere aangetrek het om warm te bly op koue nagte.  

 

Jesus stuur hulle in geloof uit. Vir enige behoefte moet hulle op die genade van God vertrou of dalk net so belangrik, op die genade van hul medemense. Dis asof Jesus vir hulle die opdrag gee om mense te gaan leer, nie vanuit ‘n kragtige posisie van eer en aansien nie, maar juis een van nederigheid en broosheid. Is dit nie juis die teenoorgestelde van dit wat ons nastreef nie? Wil ons nie dikwels juis sterk en onafhanklik en so gepantser moontlik wees nie?

 

“Waar julle in ’n plek kom en in ’n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan.”  Met ander woorde, maak staat op die gasvryheid en beskerming van ander – van dié wat julle innooi. Vir my persoonlik, is hierdie waar die gedeelte volsirkel kom. Jesus wat in sy eie tuisdorp verwerping ervaar het, gee instruksies vir die dissipels om tuis te kom daar waar hulle wel verwelkom word. Asof Jesus weet hoe belangrik tuiskoms op so ‘n reis sal wees, en hulle juis daarom aanmoedig om mense se gasvryheid te benut.

 

Na sy ervaring in Nasaret het Jesus egter geweet dat daar mense sal wees wat nié na die dissipels sal luister nie en nie ontvanklik sal wees vir die boodskap nie. Mense by wie hulle die teenoorgestelde van ‘n tuiskoms sal ervaar.
Jesus praat vanuit ‘n plek van medelye en empatie, want ook hy ken die gevoel van verwerping; van kritiek; van onwelkom wees en geminag word.
Wat hy voorstel is nie ‘n nuwe praktyk nie. Dit was ‘n eeue oue gebruik om waar mens nie welkom was nie, die stof van jou voete af te skud en daardie plek agter te laat sonder om terug te kyk.  

Dié tradisie spruit uit die verhouding wat die Israeliete met die Samaritane gehad het.  Die Israeliete kon die Samaritane nie verdra nie. Daarom, wanneer ‘n Israeliet deur Samaria getrek het, sou hulle hul voete afvee omdat hulle geglo het alles wat verbind is aan Samaria onrein was.  Daar is dus ‘n stuk ironie daarin dat die dissipels moontlik dieselfde sou doen teenoor Jode wat hulleself juis as rein en as God se ware volk beskou, maar nie die boodskap van Verlossing wil hoor nie. Tog sluit die gedeelte af met hoe suksesvol die dissipels wat en hoe baie mense hulle genees het.

***

Hierdie instruksies aan die dissipels laat my wonder of Jesus – en Markus – iets verstaan het van die mens se psige:

  • Ons behoeftes aan veilig, sterk en onafhanklik wees; 
  • Ons vermoëe om die wêreld se komplimente en suksesse agter ons te hê, maar tot stilstand geruk te word deur een mislukking of een kritiese opmerking.
  • Die noodsaaklikheid van gemeenskap en die gevoel van tuiskoms/behoort.

 

Vir Markus is die manier waarop Jesus die dissipels uitstuur gevorm deur sy eie eerstehandse ervaring. Jesus vra hulle nie om enigiets te doen of deur te gaan, wat Hy nie self geoefen het nie. Dit kom vanuit ‘n  plek van diep medelye en empatie. Sy wyse, deurleefde, raad (of wat ek daaruit verstaan, ten minste) is dit:

  • Moet die reis nie alleen aanpak nie.
  • Wees broos en afhanklik (van God en van ander). Maak gebruik van mense se gasvryheid. Laat ander vir jou sorg (terwyl jy juis gaan om vir ander te sorg). Dit wil sê, jy kan tuiskoms vind daar waar dit vir jou gebied word.
  • Maak jouself vry van ervarings waarin jy misken/verwerp/geminag word en leer om aan te beweeg van telleurstellings. (Vir meer inligting oor geloofs praktyke wat o.a. hiermee help, kontak my gerus)

***
Ek sluit af met ‘n gebed van Jörg Zink wat hierby aansluit:

Here,
partykeer kry ek lus en gooi alles van my af

wat tog so belangrik vertoon.

My beroep en die aanhoudende werk,

partykeer selfs die mense naaste aan my,

dat ek vry kan wees, vir myself en vir U.

 

Maar dan sien ek die pad wat u geloop het:

juis na die mense toe.

Na die tobbende, korselige mense

wat soveel drukte maak oor kleinighede

en met wie ‘n mens so moeilik klaarkom.

Ek sien u pad, ek wil die pad ook loop,
maar dan vry, soos U.

 

Ek wil nie meer vra

wat die mense van my wil hê nie,

ek wil net luister wat U wil hê.

Ek is nie meer begaan oor die tydsgees

waarby ek my glo moet aanpas nie.

Want U is die Gees

en U maak my vry.

 

Ek wil nie meer beangs wees nie.

En as die angs my dan wil pak

gaan dit my nie meer oormeester nie.

Want U is die Gees van vryheid,

en U ken die angs van ‘n mens.

 

Ek hoef my nie meer te laat regeer

deur ander se gedagtes nie,

want dit is u genade,

as my gedagtes vry is,

my besluite helder,

my liefde sonder valsheid

en my goedhartigheid bestendig.

 

Here, maak ‘n einde aan die halflewe,

die halfvryheid, die halfgoedhartigheid.

Stort Uself in my, dan is ek vry.