Scroll Top

KinderKasteel

Om in God se droom te glo verg verbeelding, kreatiwiteit en verwondering

KinderKasteel is waar ons kinders die wortels van hulle geestelike lewe kan ontdek en koester sodat hulle daaruit kan lewe. Deur stories en samesyn, kuns, musiek en drama word ons gewortel in Jesus se boodskap van God se omarmende ryk van liefde.

Ons streef daarna om ’n gasvrye, veilige ruimte te wees waarin alle kinders kan tuiskom en hulle gawes kan deel. Daarom maak ons graag vir kinders met spesiale behoeftes voorsiening – neem asseblief die vrymoedigheid om sulke behoeftes met ons te deel, of om leemtes in ons benadering uit te wys.

KinderKasteel vind inspirasie in lugkastele en springkastele

Lugkastele – want vertroue in God se droom verg verbeelding, kreatiwiteit en verwondering. By KinderKasteel wil ons kinders se verbeeldings stimuleer sodat hulle met oë van verwondering na God se skepping kan kyk. Ons streef na ’n veilige ruimte waarin kinders hulle (moeilike) vrae en gevoelens op ’n onbevange manier kan stel en op kreatiewe maniere in die Christelike storie ingelyf kan word.

Springkastele – want lewe in God se ryk gaan oor nuwe vriende maak, saam speel en verhoudings verdiep. Anders as kastele van slot en steen, vier KinderKasteel die speelsheid en vreugde van die evangelie. Springkastele het net twee heilige reëls: 1) trek jou skoene uit en 2) moenie die ander kinders seermaak nie. Anders gestel, lewe met eerbied en wonder voor God en 2) wees lief vir jou naaste soos onsself.

KinderKasteel Kampe

 

Ons hou jaarliks ‘n Junior- en ‘n Senior-kamp, in samewerking met Groote Kerk, Blouberg Gemeente en Maitland Gemeenskapskerk. Die kampe vind gewoonlik plaas by die NG Kerk Kampterrein in Noordhoek. Die Junior Kamp (Gr.1-6) vind gewoonlik in Maart-maand plaas en die tienerkamp (Gr.7-11) in Oktober-maand.

Tiener Kamp: 04 – 06 Oktober 2024 te Noordhoek

Junior Kamp: Volgende kamp sal in 2025 plaasvind

Hou die blad dop vir meer inligting!