oe ek in Kuilsrivier predikant was het ek ‘n kollega gehad wat lank reeds afgetree was, maar steeds gehelp het by die gemeente en baie betrokke was. Wanneer enigiemand kommentaar gelewer het oor sy jare se ervaring of wysheid het hy altyd gesê: ek is steeds ‘n leerlinge in die Koninkryk. Ek het soveel waardering vir daardie lewensuitkyk van hom. Hy was altyd gewillig om iets nuut te leer of ontdek.
Maak nie saak hoe oud ons word of in watter lewensfase ons onsself bevind nie, ons kan steeds op ‘n ontdekkingsreis wees. Daar is altyd ruimte om te groei, ons denke vernuwe en aan nuwe dinge blootgestel word. Dit geld veral ook vir ons geloofslewe.
Vanoggend gaan ons lees uit die laaste hoofstuk van die boek Job, nadat ons verlede week ‘n gedeelte aan die begin van sy verhaal gelees het. Job, as karakter, is ook ‘n gelowige by wie daar groei en vernuwing (eintlik ‘n metamorfose) plaasgevind het.
Net ‘n herinnering:
1. Job is nie ‘n geskiedkundige verhaal nie, maar eerder ‘n soort gelykenis – ‘n storie waaruit ons iets kan leer.
2. Soos Spreuke en Prediker is Job ook Wysheidsliteratuur. D.w.s ‘n boek wat vir ons deur gedigte en stories waarhede/wyshede oor die lewe wil oordra en ons help dink oor mense se interaksies met God.
In die verhaal leer ken ons vir Job. ʼn Opregte man, sonder sonde, wat getref word deur ellende. Verlede week het ons gelees hoe sy vriende na sy groot verlies aanvanklik vir sewe dae in stilte by hom gesit en saam met hom gerou het, maar nie lank daarna nie het sy vriende egter teen hom gedraai. Hulle het begin sê dat hy op een of ander manier ʼn groot sonde moes gepleeg het dat God hom so sou straf, want vir hulle was daar geen ander verduideliking waarom dit so sleg met hom kan gaan nie. Hulle verstaan die wêreld (en vir God) binne ‘n oorsaak-gevolg raamwerk. Selfs Job se vrou moedig hom later aan om God te vervloek vir dit wat hulle oorgekom het, maar Job weier en bly glo dat God sy omstandighede sal verander. Job se omstandighede verbeter nie, en hy begin wonder of God werklik omgee, of God nie dalk net geskep het en toe weg gestaan het om te kyk wat gebeur – amper soos ʼn kind wat domino’s opstel, een omstamp en dan net kyk wat gebeur nie.
Job se emosies gaan dus op en af. By tye het hy baie vertroue in God, en in ander oomblikke voel hy God het hom verlaat. Job kla op ‘n stadium vir God aan.
God reageer nie soos wat ons dalk sou verwag, deur Godself te verduidelik nie, maar deur dit vir Job duidelik te maak dat hy nie in staat is om die Here of die Skepping waarlik te verstaan nie. Job word herinner dat God die Skepper van die aarde is – van dit wat goed en mooi,, maar terselfdetyd wild en gevaarlik is. Die God wat soveel meer sien en verstaan van die skepping as wat Job ooit sal kan is nie onbetrokke nie. Inteendeel.
God se reaksie is dus nie om aan Job te probeer verduidelik waarom sy situasie nie dadelik verander, of waarom daar soveel ellende is nie, maar om Godself, en die kompleksiteit van die skepping, aan Job te openbaar.
God gee nie eenvoudige antwoorde nie, want daar is nie eenvoudige antwoorde nie. God verseker hom bloot (en ek parafraseer): “Ek is hier; Ek het jou nie verlaat nie; Ek het hierdie wêreld geskep en alles daarin, jy kan dit dalk nie alles begryp nie, maar Ek sien dit alles.”
Uiteindelik besef Job dat God soveel meer is as wat hy kan verstaan en dat God tot alles in staat is. Hy kom tot die slotsom dat hy wat Job is, geen reg het om God te bevraagteken nie en ook dat God hom toe nie alleen gelos in sy lyding nie, maar saam met hom was in dit alles.
Dit bring ons dan by die laaste hoofstuk van hierdie komplekse verhaal.
Hierdie teksgedeelte gee vir ons ‘n idee van die tranformasie wat Job deurgegaan het en hoe die gesprekke met God Job tot nuwe insigte gebring het. Job begin sy antwoord aan God in vers 2 met: “Nou weet ek….” Dit is ‘n reaksie wat ons gereeld in die Bybel teëkom wanneer mense met God te doen gehad het. Ons vind dit dikwels in die Psalms en selfs by Paulus.
Job is nie meer dieselfde nie, en hy sien en beleef sy lyding ook op ‘n nuwe manier.
In vers 3 verwys hy na die Here se woorde in Job 38:2 en hy erken onmiddellik dat hy oor dinge probeer praat het wat hy nie werklik begryp het nie. Nou snap hy egter dat hy as mens nie klinklare afleidings kan maak oor God en die skepping nie. Daar is soveel dinge wat bo menslike begrip is. Job besef hy kon slegs dele van die groter prentjie sien, maar hy het gepraat soos iemand wat alles gesien het.
***
Wat my aangegryp het oor Job se verhaal was die enorme verandering wat daar by Job plaasvind. Teen die einde van sy verhaal het hy ‘n heel ander verstaan van God as wat hy aan die begin gehad het.
Sien weer vers 6: “Daarom herroep (bekeer – psigiese en emosionele transformasie )
ek en het berou (in stof en as)”
Dit is wel nie iets wat in ‘n oogwink gebeur het nie en dit is belangrik om te onthou hoe Job met God geworstel het, God selfs aangekla het.
Dit is juis in sy worsteling met God – nadat hy God aangekla en argumente met God gehad het – dat Job genesing vind. Dit is juis wanneer hy besef dat hy God nie werklik kan begryp nie, dat hy God beter verstaan.
Job word direk teenoor sy vriende gestel – hulle wat glo dat hulle die antwoorde het. Die verhaal maak dit duidelik dat ons waaksaam moet wees om, soos Job se vriende, té seker van ons saak te wees. Uiteindelik erken hy dat hy ook, soos sy vriende, vroeër net oor God gepraat het, maar nou vir God gesien het. In die kern van sy gebed sê Job dat hy deur sy lyding en strydgesprekke heen nou ‘n persoonlike ontmoeting met God gehad het. Dis dikwels juis daar waar ons erken dat ons nie die antwoorde het nie; dat ons begrip beperk is en dat ons nie in staat is om alles te verstaan nie, waar ons God ontmoet.
Terwyl die ander karakters in die verhaal vasgevang bly in hul eie oortuigings, hou Job aan groei en verander. Alhoewel hy sit met ‘n enorme hoeveelheid pyn, sit hy nie vas nie. Wat hom uiteindelik deur sy pyn help beweeg en lei, is sy vasberadenheid om dinge met God uit te klaar. Vir meeste van die boek is Job besig om sy teologiese dinkwerk hardop te doen, en al sy worstelinge te rig teenoor God. Hy vaar in woede teen God uit, en raak allerande ongegronde dinge kwyt waarop God hom regwys – en tog sê God op die ou end dat Job die een is wat op die regte manier gepraat het. Miskien omdat Job dit alles met God bespreek het.
Job se klaagliedere gee vir ons ook toestemming om te kla, om ons diepste seer, vrese en woede voor God te bring in gebed en stilte en om te weet dat God dit hoor. Daarom moet ons ook nooit ophou worstel en wonder en kla, en ons gevoelens na God toe bring nie. Daarom kan ons nooit op ‘n punt kom waar ons dink ons weet nou alles oor God en alles wat God geskep het nie.
Selfs die kerklike tradisie waarbinne ons staan is een wat ontstaan het omdat daar ‘n hervorming (’n nuwe verstaan van dinge) plaasgevind het. Deur die eeue heen het die Kerk dus self ‘n aantal groeiprosesse deurgemaak en ons almal is bewus van hoe dit net in die afgelope jaar verander het. Soos die Kerk is ons steeds besig om in ons denke en ons dade te groei, te leer, en getransformeer te word, deur die onbegryplike Skepper God.
***
Ons lewe in ‘n tyd waarin daar soveel dinge is wat dalk nie heeltemal vir ons sin maak nie; soveel dinge wat ons dalk, soos vir Job, laat vra wanneer dit nou gaan beter raak, of waar God in dit alles is. As Job se verhaal ons enigiets wys, is dat wanneer ons, ons ontsteltenis, moegheid, moedeloosheid, seer, vrae, klaag (asook ons dank, vreugde, en geluk) na die Here toe bring, ons ‘n ruimte betree waar God onverwags en verrassend ons lewens kan binnetree en ons ook met onvoorwaardelike liefde en sorg kan aanraak.
Miskien sal ons dan ook soos Job kan uitroep: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien” (Job 42:5).
Mag ons nooit ophou vernuwe, groei en worstel nie. En mag ons juis in daardie worstelinge die Here ontmoet.