Scroll Top

Manna Maniere

Miskien ken jy die gevoel aan jou lyf van iets waarna jy lank uitgesien het, maar dan is uiteindelik nie heeltemal is soos wat jy verwag het nie.
Ons verlange na dit wat bekend is, vind soms ‘n manier om ons blind te maak vir die potensiaal wat dit wat voor ons lê inhou.
eksodus 16 Manna maniere

Noudat Paasfees en Pinksterfees verby is gaan ons in die Kerkjaar Koninkrykstyd binne. Dié tyd waarin ons veral fokus op wat ‘n lewe binne God se Koninkryk, as God se kinders – of soos die Genoeg en Genade boek dit stel, as God se vennoot-mense – vir ons beteken. Dit is vandag ook Drie-Eenheid Sondag. Hoewel ons nie so direk gaan fokus op die Drie-Eenheid vandag nie, kan ons gerus hierdie week fokus op teenwoordigheid van die Drie-Enige God – Skepper, Christus en Gees.

Begin dus vandag (hierdie week?) se tyd met God, met ‘n asemhalingsgebed wat juis daardie teenwoordigheid erken en ons help om die werk van die Drie-Enige God in ons te verwelkom

Asem in: Laat
Asem uit: Los
In: Laat
Uit: God/Skepper
In: Laat
Uit: Los
In: Laat
Uit: Christus
In: Laat
Uit: Los
In: Laat
In: Gees

Ek verwelkom U onbegrensde teenwoordigheid in my, in ons, in hulle,
in alles en almal wat u geskape het.
Mag ons al meer vanuit daardie teenwoordigheid leef.

As deel van ons reeks: Genoeg en Genade, lees ons vandag die verhaal van God wat genoeg gee en genade bewys aan die mense wat pas deur God se werk, olv Moses, uit Egipte gevlug het. Hulle bevind hulself nou in die Woestyn tussen hul nuwe toekoms en ‘n verlede van onreg en onderdrukking.


In dié verhaal vind ons ‘n groep mense wat weggetrek het van die plek waar hulle hulle lewe lank gewoon het; wat skielik ver verwyderd is van alles waaraan hulle gewoond was en nou byna paniekerig raak oor hul situasie. 

Ek’s seker meeste van ons is bekend met die gevoel wat ons beleef wanneer groot veranderinge in ons lewens plaasvind. Selfs al is die verandering vir die beste, kan ons soms hunker na dit wat was.
Miskien ken jy die gevoel aan jou lyf van iets waarna jy lank uitgesien het, maar dan is uiteindelik nie heeltemal is soos wat jy verwag het nie.
Ons verlange na dit wat bekend is, vind soms ‘n manier om ons blind te maak vir die potensiaal wat dit wat voor ons lê inhou.
Ek wonder of is jy ook bekend met die gevoelens wat ‘n mens beleef wanneer jy onseker is oor wat die toekoms inhou.

Dan kan jy dalk identifiseer met die mense in Eksodus 16.

 

Skriflesing: Eksodus 16

 

Hierdie groep mense is op hierdie punt in die verhaal ongeveer 6 weke gelede uit Egipte bevry. Net voor dit, in hoofstuk 15, het hulle gekla oor die water wat bitter is; en in hoofstuk 14 was hulle oortuig dat hulle aan die hand van die Faroa sou omkom, totdat die Rietsee (ook bekend as die Rooisee) voor hulle oopgekloof het.
Dit is hier dus nie lank na hulle bevryding nie en reeds het die aanvanklike opgewondenheid en dankbaarheid van die volk – en daarmeesaam hul vertroue in God en die leiers wat Hy aangestel het – begin afneem.
Want sien, bevryding is nie goeie nuus vir almal nie. Veral nie vir die onderdrukkers en dié wat voordeel trek daaruit nie, maar ook nie vir hulle wat tevrede is met – of verslaaf is aan – die status quo nie.

Hierdie verhaal wys vir ons, mense (ons) kan nie direk beweeg van die land van onderdrukking na die land van beloftes nie. Hulle is net nog nie gereed nie en moet daarom eers ‘n Woestyntyd ingaan. Ons weet in die Joodse tradisie speel getalle ‘n groot rol en die getal 40 is veral belangrik. 40 dae is dieselfde tyd wat Noag in ark en Jesus voor sy bediening in die woestyn was. Dit is dalk nie so toevallig nie, dat 40 weke ook is hoe lank ń vol termyn swangerskap neem.
God is in hierdie verhaal juis besig om aan ‘n nuwe nasie, nuwe gemeenskap, geboorte te skenk.

 

Dis natuurlik vir ons om van buite na die verhaal te kyk en te sê: kyk hoe ondankbaar, hoe vol klagtes, kan hulle dan nie sien nie… Maar ek wonder of ons anders sou optree?
Waarskynlik nie. Daarom kan ons sekerlik ‘n mate van simpatie vir hierdie mense hê. Meeste van hulle het grootgeword in Egipte. Dit is al wat hulle hulle lewe lank geken het. Sommige het daarheen gekom om ‘n soort lewensbestaan te probeer maak.  In Egipte was hulle lewe voorspelbaar en het hulle geweet wat elke dag inhou – al was dit nie goed nie. Nou bevind hulle hulself in ‘n onbekende plek vol onsekerheid en allerlei nuwe gevare. Dit is tog menslik om te wil vashou aan dit wat ons ken en verstaan en weet hoe om te navigeer.

 

Hierdie mense het ook vinnig vergeet dat hulle as slawe in Egipte geleef het. So interessant hoe hulle die verlede in hierdie gedeelte idealiseer. Hulle kla so ewe dat hulle in Egipte eerder langs die vleispotte sou kon sit.
Daai een sin is genoeg om vir ons te verduidelik wat met hierdie mense gebeur het oor al die generasies wat hul daar gewoon het. Hulle het geleer om op die bedrieglike (misleidende) oorvloed van die Egiptiese Ryk (die Empire) staat te maak – selfs al was hulle die slawe van daardie Ryk.
Die feit van die saak is dat vleis nie werklik ‘n algemene deel was van die mense se dieet in die Ou Nabye Ooste nie. Dit was ‘n  luukse. Hulle het dalk rondom die vleispotte gesit, maar hulle het beslis nie daarin gedeel nie. Maar hier bevind hulle hulself in ‘n onbekende, onvoorspelbare situasie; en soos dikwels in ons lewens ook, lyk die hede dood eenvoudig moeiliker/slegter as die verlede. Ons praat mos graag van “goeie ou dae.” As ek ‘n stukkie manna gehad het vir elke keer wat ek al iemand hoor sê het “waar is die dae toe dit nog so was?” Dit is iets wat ek veral in kerk kringe hoor.
Ons romantiseer die verlede. Ons kan lyste en lyste opstel van dinge wat toe beter was, maar ons vergeet, soos God se vennoot-mense, te maklik van die slawerny; van die sisteme waarbinne die goeie ou dae floreer het; van ongeregtigheid wat dit in stand gehou het. Ons vergeet dat dit waarna ons nou hunker eintlik die dinge is waarvan ons wou wegkom; dat hoewel ons miskien aan iets gewoond was, dit nie noodwendig die beste vir ons was nie. Dit maak ons blind vir dit wat voor ons is en die potensiaal van ons nuwe situasie.

Ons verkies veel eerder die bekende as die onbekende. Ons is so gewoond aan die status quo dat ons, wanneer ons uit ons gemaksone beweeg, die goeie dinge voor ons miskyk; dat ware bevryding eintlik vir ons ‘n vreesaanjaende gedagte is.

 

Die Israeliete het ook nie net die slegte vergeet of verkeerd onthou nie. Deur hulle gekla en gebrek aan vertroue in God se leiding, verset hulle hulleself nie net teen Moses en Aaron nie, maar teen God self. Hulle bevraagteken of dit in die eerste plek wys was om God te volg; dieselfde God wat teen die tyd reeds keer op keer tot hul redding gekom het en telke maal gewys het dat Hy vir hulle sorg.

‘n Mens verwag eintlik op hierdie punt dat God teenoor die volk gaan optree; dat hy hulle wantroue en ongehoorsaamheid skerper sal aanspreek.
Maar God reageer deur hulle op ‘n baie versorgende, genadige manier te wys en te leer hoe ‘n lewe saam met God lyk.
Die frase “En julle sal besef dat ek die Here is” (v.12) word dikwels in die Bybel gebruik in situasies waar God se gesag/voorsienigheid bevraagteken word of wanneer mense God wantrou.

God gebruik die verset van hierdie nuwe gemeenskap as ‘n geleentheid om hulle te onderrig (ń teaching moment). Vir hierdie nuwe gemeenskap om waarlik saam met God te kan leef en vorentoe te gaan, moet hulle eers Egipte se manier van leef en doen verleer, sodat hulle instede daarvan God se manier – die manna manier – kan aanleer. God gebruik dus hierdie tyd om hulle te leer hoe God wil hê hulle moet leef. 


Ellen Davis stel dit so mooi wanneer sy sê: in Egipte het die Hebreërs gegroei in getalle, nou moes hulle groei in karakter, sodat hul in vriendskap en vennootskap met God kan leef. Genoeg en Genade boek deur Daniel Erlander wys 5 lesse wat God in die Woestyn vir hierdie nuwe vennote wil leer.

 

Les 1: Alles behoort aan God en is ‘n geskenk aan ons

Die vlugtelinge se verlange terug na Egipte wys dat hulle diep in hul harte uitverkoop is aan die sisteme van die Faroa en Egipte se manier van leef en doen. Daar het hul kos en reg tot lewe gekom van die Farao. Hy was in beheer van alles wat met hulle gebeur.
Maar die manna manier van leef is gebou op die wete dat daaglikse brood van God af kom en dat dit wat ons nodig het om van te leef – water (hoofstuk 15) en kos, lig wanneer dit donker is en skadu van die son – ‘n geskenk van God af is.
God gee letterlik aan hulle hul daaglikse brood, en dit bevestig dat die Here by hulle is en vir hulle sorg.

God sorg vir hulle in die hier en nou. Dag na dag. Volgens hul behoefte/wat nodig is.

 

Les 2: God gee genoeg vir almal om te deel

Soos meeste “Empires” is die oorheersende beginsel in Egipte: maak soveel as moontlik winste by mekaar vir die wat aan die hoof is; deel dit met so min as moontlik ander en deel so min as moontlik daarvan met ander; oortuig ALMAL dat hulle voordeel trek uit die sisteem.
Daarteenoor, leer God hulle om elke dag net genoeg vir jouself bymekaar te maak om van te leef, in die maat wat elkeen kan eet in een dag. So leer hulle dat God genoeg geskep/gegee het, vir almal om genoeg te kry om van te leef. Dws. as almal genoeg neem om van te leef, dan kan die hele gemeenskap floreer.

 

Les 3: Om op te gaar veroorsaak verrotting. Dit stink!

God se mense maak een dag op ‘n slag bymekaar wat hul nodig het, terwyl Farao letterlik stede – Pithom, Rameses (Eksodus 1:11) – gebou het vir al die silos waarin hy graan bymekaar maak.
Weereens is die Egiptiese manier van doen so diep vasgelê, dat van hulle nie hulself kan keer om ekstra bymekaar te maak nie. Weereens kan ons waarskynlik simpatiseer – wie sal te midde van onsekere omstandigheid nie ‘n mate van sekuriteit wil opbou nie? Ek kan nie help om te dink aan die toiletpapier tekort van 2020 nie.
Maar God se nuwe vennote leer vinnig – om op te gaar veroorsaak verrotting. Dit stink!

Les 4: Om te werk is waardig om God te help die manna te versprei en uit te deel.

God se reaksie op die slawerny wat hulle in Egipte beleef het, is nie dat hierdie mense vorentoe geen werk gaan doen nie. Bevryding beteken nie hulle kan nou net passief agteroor sit nie. Hulle moet daagliks werk om die nodige manna bymekaar te maak. So word hulle vennote van God, wat saamwerk om te sorg dat almal hul deel kry – genoeg om van te leef. In God se nuwe gemeenskap en Koninkryk word mense vennote van God, wat God se droom vir die wêreld – om die wêreld te herstel – help waar word.

Les 5: God gee aan ons tye van rus sodat ons
Die laaste les wat God hulle leer is om te rus. Om ‘n tyd en dag opsy te sit om te onthou dat God die Skepper en die bron van al ons “gifte en gawes” (soos Fanus Heyns altyd gesê het) is. God is die hele verhaal deur so geduldig met hulle, maar wanneer hulle op die Sabbat manna bymekaar maak sien ons vir die eerste keer dat God waarlik kwaad word vir hulle. Dit is tog ‘n aanduiding van hoe belangrik hierdie les is.
In Egipte het hulle as slawe gewerk sodat die Farao genoeg kan hê.
Die Here, aan die ander kant, gee vir hulle tyd om te rus in die genoegsaamheid van God. Hulle kry genoegsame tyd om te spandeer saam met God, die skepping, en mekaar. Om daardie verhoudings te kan voed en geniet.
Dit leer hulle dat die ritmes die manna manier van leef is God-gesentreerd is en dat hulle nodig het om elke week genoeg tyd te neem om met God te spandeer.

Hierdie 5 lesse word die grondslag van hierdie nuwe gemeenskap wat God besig is om te vorm. God gebruik die tyd in die woestyn om hulle gereed te maak vir die toekoms wat op hulle wag.

Hulle gaan natuurlik nie altyd in die woestyn wees nie en hierdie manier van lewe is tydelik, maar hoe interessant dat ‘n kruik met manna een van hul belangrikste geloofsimbole geword het wat eindelik in die ark en later in die tempel gebêre is.

Wanneer ons saam met God oppad is, beteken dit nie noodwendig dat ons altyd sekerheid gaan hê en gemaklik gaan wees nie. Inteendeel. Wanneer ons saam met God oppad is vra dit dikwels JUIS van ons om krities te dink oor die sisteme en maniere van leef waaraan ons verslaaf is en waarvan ons dalk met groot ontwrigting afstand moet doen. Dalk is daar maniere van doen en leef wat ons moet verleer, sodat ons nuwe – Goddelike – maniere kan aanleer.
Hierdie is uiteindelik nie ‘n verhaal oor wat gebeur wanneer ons kla teenoor God nie, maar eintlik ‘n teks wat die magte en kragte van die dag teengestaan en die status quo uitgedaag het.

Natuurlik kan ons nie hierdie lesse, hierdie manier van lewe, net so kom neersit in omstandighede wat soveel anders is as die van hierdie mense in die woestyn, duisende jare gelede nie. Maar daar moet tog vir ons waarde lê in dit wat God vir hierdie mense geleer het, oor wat ‘n (nuwe) lewe saam met God beteken.


Mag ons onthou:
– God sorg vir ons volgens dit wat ons nodig het om van te leef.
– God wil hê ons moet deel, want daar is genoeg.
– As God se vennote werk ons saam om God se Koninkryk te laat floreer.
– Moenie meer opgaar as wat jy nodig het om van te leef nie.
– Maak tyd om te rus en vriendskap met God, die skepping en medemense te geniet.