Scroll Top

In God se moederlike teenwoordigheid

Is dit nie wat digkuns en liedere gemaak is om te doen nie: om ons op reis te neem dieper in onsself en ons geloofservaring? Dit help ons om met ons eie gedagtes, gevoelens en ervarings om te gaan. Dit druk waarhede en emosies uit waarmee ons kan vereenselwig.
Psalm 130 & 131 in god se moederlike teenwoordigheid
O

ns gaan vandag uit die Psalms saam lees. Omdat die aard en doel van Psalms is so anders as die narratiewe tekste wat ons dikwels saam lees, gaan ons dinge bietjie andersom doen vandag. Coenie Burger skryf dat “die Psalms ons altyd roep van ‘n oor-God-praat-godsdiens na ‘n met-God-praat-godsdiens.”

 

Vandag gaan dus ‘n element van “Do It Yourself” insluit. Soos Suzelle graag sê: “DIY – because everybody can.”
Ek wil daarom begin deur enkele opmerkings te maak oor die teks en dan gaan ek dit aan jou oorlaat om deur die Psalms self gelei en meegevoer te word.
Want, is dit nie wat digkuns en liedere gemaak is om te doen nie? Om ons op reis te neem dieper in onsself en ons geloofservaring. Dit help ons om met ons eie gedagtes, gevoelens en ervarings om te gaan. Dit druk waarhede en emosies uit waarmee ons kan vereenselwig.

***


Psalm 130 en 131, wat ons gaan lees is deel van ‘n groepering van Pelgrimsliedere in die Psalmboek. Mense sou dit dus sing terwyl hul optrek na Jerusalem of na die tempel toe. Hierdie twee liedere sluit baie goed by mekaar aan en dit is byna asof Psalm 131 ‘n tipe antwoord op Psalm 130 is.

Psalm 130 is ‘n Klaaglied vir onsekere omstandighede. ‘n Klaaglied is ‘n spraakvorm wat die aanbidder in staat stel om te kla oor onreg en ‘n beroep op God te doen om die te luister na diegene wat ly en hulle te antwoord. Dis ‘n eerlike, rou en brose gesprek met God oor die lewe en die realiteite daarvan.

Ons gaan lees dat die skrywer tot God roep vanuit die dieptes van menslike lyding – dringend, hoopend, verwagtend – met die volste vertroue dat God elke pynkreet sal hoor en daarop reageer. Want genade, sê die skrywer, is wie God is.

Die dieptes waarna daar verwys word, word nie verder as dit besryf nie. Waarskynlik opsetlik, want wat die dieptes is, verskil in die lewens van individue en die gemeenskap. Tog het ons almal ervaringe daarvan, nie waar nie? 

Wat is die dieptes waarin jy jouself bevind? Wat is die kollektiewe dieptes waaruit ons
as gemeenskap na die Here roep?

Die gawe van ‘n geloofsgemeenskap is dat ons nie alleen met ons kollektiewe óf persoonlike “dieptes” hoef te worstel nie. Saam met die troostende geselskap van ander wat al lyding en verlossing geken het, kan die woorde van Psalm 130 ook ‘n genesende balsem vir die gebroke siel wees. Uiteindelik bied die Psalm die versekering van God se eindelose barmhartigheid wat alles wat gebreek is, sal herbou. Psalm 130 word eindelik ‘n oproep om die ontsaglike barmhartigheid van God te ontvang en om mekaar te vergesel deur en uit die talle dieptes wat ons almal teëkom.

***

Die laaste twee gedeeltes van Psalm 130 asook die laaste vers van Psalm 131 dui die belangrikheid daarvan aan om te wag op en te hoop op die Here.
Om te wag in die sin wat hier genoem word, is om afwagtend te lewe, met bewustheid van hoe God in die verlede opgetree het en met groot afwagting op wat God gaan doen in die toekoms. 

Wag is dus die teenoorgestelde van die wanhoop en hopeloosheid wat ons soms in die dieptes van die lewe kan voel. 

Vers 6 herhaal hierdie afwagting met ‘n aangrypende metafoor. Om op die Here te wag, is soos die werk van die angstige wag op die stadsmuur, wat uit vrees vir die aanval van ‘n vyand verligting vind met die aanbreek van dagbreek. Die sekerheid van die komende lig maak duidelik dat dit waarop gewag word nie onrealisties of onbereikbaar is nie. Dit is die aard van die hoop wat leef in die mense wat op die Here wag.

Óns is natuurlik nie baie goed met wag nie. As verbruikers is ons opgelei om te kry wat ons wil hê, wanneer ons dit wil hê. En as dit binne 60min by ons deur afgelewer kan word, of as ons nie sekondes hoef te wag vir webtuistes om te laai nie, nog beter. Ek dink regtig ons verleer al meer en meer hoe om te wag.
Verlange is nie regtig ‘n gevoel wat ons verwelkom nie. Inteendeel, doen ons alles wat ons kan om dit te vermy en weg te skram daarvan. En tog is dit ‘n onlosmaaklike deel van die lewe en een van die mees basiese menslike ervarings.

Die Hebreeuse woord qavah wat met wag vertaal word kan ook hoop beteken en dui op hoopvolle verlange of om met volle vertroue op iets te wag. 

Wanneer het jy al so ‘n verlange ervaar?  Waarop wag jy met verlange op die oomblik?
Waarop wag ons gemeenskap met afwagting?

***

Soos ek reeds genoem het is dit asof Psalm 131 ‘n antwoord op die klaag en verlange van Psalm 130 is.
Ons samelewing vereer die kwaliteite wat Psalm 131 afwys. Hoe meer onafhanklik, hoe meer hoe meer selfversorgend, hoe meer ambisieus  ons is en hoe minder ons op enige iets of enigiemand hoef staat te maak (of te wag), hoe beter.  Nie afhanklikheid, of interafhanklikheid nie, maar die selfgemaakte mense wat goed doen vir hulself is in ons kultuur die ideaal.

Walter Brueggemann skryf:

The piety reflected in this psalm is directly opposed to modernity with its drive toward independence, self-sufficiency, and autonomy . . . The myth of modernity believes that real maturity is to be free of every relationship of dependence. But when the metaphor is changed… to a gently feeding mother, it is evident that the human goal need not be breaking away, but happy trust.”

Psalm 131 is ‘n voorbeeld van die soort nederigheid en vertroue op God waarna Psalm 130 vra.

Uiteindelik verwag die psalmskrywer nie dat God ‘n towerstaf moet swaai, sodat kalmte en vrede kan neersak nie. Nee, die skrywer kalmeer self, nie omdat alles skielik seker en reggestel is nie, maar deur die besef dat hul nie alleen is nie. Vir die skrywer is die Here soos ‘n ma is op wie se skoot ons kan gaan sit vir nabyheid, liefde en troos.

Waar en wanneer vind jy tyd en ruimte om op die Moeder God se skoot te gaan sit?

Ons leef self in baie onsekere, uitdagende tye. As land en as gemeenskap bevind ons onsself soms in die dieptes, en op ‘n meer persoonlike vlak vermoed ek dat julle sekerlik, soos ek, in hierdie tyd jul eie worstelinge deurgaan. Ons het dit dalk baie nodig om op hierdie stadium tyd in God se moederlike arms deur te bring en daarom sal dit sinvol wees om hierdie Psalms ‘n paar keer herhaaldelik deur te lees, sodat die woorde waarlik kan kans kry om ons in te trek.

 

Terwyl ons lees is daar ‘n paar dinge waarvoor jy kan luister:

Herhaling
Woorde en frases wat herhaal is natuurlik waarop die Psalm ons aandag en intensies wil fokus.

Beelde
Watter beelde kom in die Psalm voor en waarom word juis daardie beelde gebruik? Watter beelde/herinneringe roep die Psalm in jou gedagtes op?
Wat beteken dié beelde vir jou? Kan jy tye onthou wat jy die lewe/God so ervaar het? Wanneer het jy dit nodig?
Wat kan jy doen/hoe kan jy jou lewe inrig om daardie aspekte van God se wese te verwelkom?

“Troue liefde” (Hesed) – Vers 7
Kan ook vertaal word met ‘standvastige liefde’. Hierdie woord is een van die belangrikste teologiese woorde in die Psalms. Dit dui op God se getrouheid aan God se beloftes, selfs al lyk dit dalk by tye dat hierdie getrouheid ontbreek.

Moeder God
Augustusmaand is natuurlik Vrouemaand en môre ook Vrouedag. Daar is enkele tekste in die Bybel waar God in vroulike terme en beelde beskryf word en hierdie is een daarvan. Hoe laat hierdie uitkyk op, en beskrywing van, God se wese jou voel?

Gespeen
In die oorspronklike Hebreeus word die “kindjie” baie spesifiek beskryf as ‘n gespeende kind. Dié metafoor is verrassend en ons aandag werd. ’n Kind wat gespeen is gaan nie meer na sy of haar ma toe omdat sy of hy melk wil hê nie. Dit gaan dus in die geval nie oor fisiese behoeftes nie, maar oor maar emosionele behoeftes en oor die effek wat die teenwoordigheid van die ma het. ’n Gespeende kind soek nou gewoon die nabyheid en warmte van sy ma op.

Die psalmdigter sê dat hul mens-wees gespeen is van die dinge waaroor daar nie beheer uitgevoer kan word nie. Die skrywer verlang nou na God ter wille van God-self en nie as ’n manier om behoeftes te vervul nie.

Die wete dat alles nié in jou eie hande lê nie, dat ons daardie dinge aan God kan oorgee, dit bring rus. Kalmte lê in die wete dat ons nie beheer, kontrole, kennis, eie beplanning, of volledige onafhanklikheid hoef te verkry nie. Ons kan bloot rus vind in God se nabyheid.

Die psalmdigter vertrou sy lewe geheel en al aan die Here toe.

Let op die volgende terwyl jy lees:
Hoe laat hierdie Psalms jou voel?
Watter beelde en emosies kom by jou op?
Ontwrig dit jou? (Indien wel, sit vir ‘n wyle met die ontwrigting. Wat wil dit vir jou sê?)
Of is dit bevestigend? (Wat bevestig dit? Wat wil dit vir jou sê?)
Wat sê die teks oor jou eie lewe? Watter dele daarvan gaan oor jou?
Watter dele daarvan spreek tot die hede?

Lees Psalm 130 en 131 (bl.280 op die skakel) ‘n paar ten minste drie keer deur

Hoe laat dit jou voel?
Watter beelde en emosies kom by jou op?
Ontwrig dit jou? Of is dit bevestigend?
Wat sê die teks oor jou eie lewe?
Watter dele daarvan gaan oor jou?
Wat daarvan spreek tot die hede?
Watter dele daarvan spreek tot die hede?