Deur Louis van der Riet
Vandag is Pinksterfees! Vandag vier ons die uitstorting van die Heilige Gees – die Gees van liefde, van lewe, van krag.
Ons vier die realiteit, die wete, en die geloof, dat die Gees van God – die lewegewende, skeppende Gees – aan ons geskenk is. Dit is die asem van God. Ons vier dat ons ontvangers is van God se lewenskrag. Ons vier dat God ons bemagtig. Ons vier dat God sy woonplek maak in ons.
Ons vier Pinksterfees 7 weke na Paasfees. Soos ons vandag in Handelinge 2 lees is hierdie fees ‘n vervulling van die Joodse fees van die weke, die vyftigste (Grieks: pentekostos) dag na die Pasga. (Ons lees daarvan in Eks. 32 en Deut. 16 – ‘n fees wat gevier is 7 weke na die eerste graan oes)
Kom ons dink saam na oor minstens 3 betekenisse van Pinkster vir ons, vandag.
- Die Gees vertaal ons liefde
My Oupa, wyle Koos du Toit, het as sosioloog sy lewe gegee vir Afrikaans. Ek was bevoorreg om in die laaste paar jaar van sy lewe gereeld met hom hieroor te kon gesels. Ek het besef dat die dryfveer agter sy akademiese en publieke bydraes vir Afrikaans nie so seer beskerming was, of uit ‘n plek van bedreiging gekom het nie. Hy wou ander bemagtig.
Hy het altyd die gesegde (van Nelson Mandela?) aangehaal : As jy met iemand praat in ‘n taal wat hul verstaan, praat jy met hul verstand; as jy met hul praat in hul moedertaal, praat jy met hul hart.
Miskien is dit wat die Gees in die Handelinge teks aan die doen is.
Hier is ‘n wonderwerk aan die gebeur – mense hoor hoe eenvoudige mense in hulle eie moedertaal met hulle praat. Die woorde wat dié mense se mond verlaat bereik hulle ore as bekende en lewegewende klanke.
Deur taal, word brûe gebou tussen mense. Dit is iets onverwags en verrassend. Die Gees laat mense nuut praat.
Ek wens dat die aanleer van ‘n nuwe taal, soos isiXhosa, so kon gebeur! Tog wys hierdie analogie van taal bloot vir ons wat die Gees doen. Pinkster is die wakker-maak van harte. Die Gees is die groot vertaler van liefde tussen mense. Die Gees gee die wonderwerk van verbintenis met mekaar, met alle mense, met almal op wie die Gees uitgestort is.
- Die Gees laat ons NUUT sien
Sedert Maart 2020 het ons almal se lewens aangepas by ‘n hele reeks veranderinge. Daar is soveel nuwe maniere van werk, van leer, van vergader. Ons gesinslewe en sosiale lewens is nuut en anders. Ons is almal uitgedaag om aan te pas by vernuwing en verandering.
Tog het ons ‘n aanvoeling dat ons oor die algemeen nie regtig verwag dat ander mense of onsself kán verander nie. Ons leef daarom vewagtingloos. Dalk lê hierin ‘n diep rede vir ‘n neerslagtigheid wat ons so stelselmatig bekruip. Of vir die traagheid van die kerk om iets anders te wees as ‘n ‘volkskerk’ wat maar net dinge doen soos dit in die verlede gedoen is.
Kan God dan regtig iets nuuts doen – met my, my bure of ons as gemeente?
Dis tog waar – people can’t see what they can’t see.
Ons almal, ook ek en jy, het ‘n hele reeks aannames en beperkinge, vooroordele en voorkeure, afkeure en triggers, vrese en konflik van belange, blindekolle en gewoontes wat ons keur om sekere dinge te sien.
En meeste van hierdie dinge wat ons laat sien of nie sien nie is onbewustelik. Dit maak dit natuurlik moeiliker om dit aan te spreek of uit te daag. Ons is blind vir dit wat ons verblind!
Veral in die gemeenskap van kerk. Dit is amper onmoontlik om sien wat ons gemeenskap nie kan of wil sien nie.
En daarom is werk van die Gees, wat ons nuut laat sien, so bevrydend. So ontmaskerend. Die werking van die Gees laat ons, soos hierdie groep mense, “verras en verbaas” (vs 7).
- Pinkster is die geboorte van die kerk.
Teresa of Avila, ‘n bekende Non van die 16de-eeu, het die volgende woorde gepen:
Christ has no body now but yours.
No hands, no feet on earth but yours.
Yours are the eyes through which he looks compassion on this world.
Yours are the feet with which he walks to do good.
Yours are the hands through which he blesses all the world.
Yours are the hands, yours are the feet, yours are the eyes, you are his body.
Christ has no body now on earth but yours.
Pinkster is in ‘n sekere sin die geboorte van die kerk. Ons word Christus se liggaam op aarde. Ons word draers van Gods-asem. God gee ons die geskenk van opnuut drome droom, van gesigte sien, van optree as profete.
God stuur ons na die wêreld, maar voordat God sy kerk na die wêreld stuur, stuur Hy eers sy Gees na die kerk. Hierdie Gees is die groot vertaler. Dié Gees maak skynbaar leë woorde tot woorde van lewe. Dit buig afgesaagde woorde om tot woorde wat opnuut tref en verander. Dít is die wonder van Pinkster.
Mag God, deur die Heilige Gees, ons liefde vertaal. Mag die Gees ons nuut laat sien. Mag die Gees iets in ons laat geboorte word.
Hierdie gebed (uit die Taizé gemeenskap) is dalk ‘n goeie beginpunt:
Jesus, hope of our hearts … we ask you: “What do you want from me?”
And by the Holy Spirit, you reply: “Let nothing trouble you; dare to give your life”. (Prayer from Taizé)