Ons gaan Pinkstertyd binne en hierdie jaar sluit ons aan by Durbanville Gemeente se Pinksterreeks: ‘n Geesvervulde Lewe. Daar sal daagliks videos gedeel word, met dank aan Wilhelm Verwoerd en Ayanda Nyoka wat as gespreksgenote temas en tekste oor die onderwerp gaan bespreek, asook Durbanville Gemeente wat dit vir ons moontlik maak om te deel hierin.
Een van dié bekendste tekste oor wat ‘n Geesvervulde Lewe behels, is natuurlik Galasiërs 5. Ek is nog onseker of ons ons tone in die water gaan steek deur die teks saam te lees vanoggend, en of ons met albei voete, klere en al inspring, maar ons ons lees dan saam vanoggend uit:
Galasiërs 5:1,13-26
Wanneer ons aan Galasiërs 5 dink, is dit wat ons gewoonlik daarvan onthou die vrug (Paulus gebruik pertinent die enkelvoud) van die Gees. Tog, is die eintlike fokus van hierdie hoofstuk – en die brief as ‘n geheel – vryheid.
Daarom is vers 1 spesifiek ingesluit by die teksgedeelte. Die manier wat die sin in die Grieks saamgestel is, laat die klem pertinent op “vryheid” val. Weens die woord se vorm (datief) kan dit op verskeie maniere vertaal word, maar in al die nuanses daarvan, sê Paulus dat die gelowiges reeds vrygemaak is deur die werk van die Messias.
As jy jou oë vir ‘n oomblik toe maak en dink oor vryheid. Wat is die gedagtes en beelde wat instinktief by jou opkom?
Wanneer ons aan vryheid dink is dit baie dikwels individuele vryheid. Na die Verligting in die 17-18e eeu en die Franse revolusie het mense se individuele begeertes en behoeftes in die sentrum kom staan. Vryheid het die betekenis gekry dat jy self kan kies hoe om te leef. Jy kon bepaal wat belangrik was vir jou en self die waardes kies waarvolgens jy leef.
In die eeue daarna het dit nog nie juis verander nie, inteendeel, sommige sal argumenteer die wêreld het net meer en meer individualisties geraak. Ons eie land se geskiedenis is deurtrek met stories van mense en groepe wat hul eie vryheid, vooruitgang en welstand voorop geplaas het. Ons dra nou nog aan die gevolge daarvan.
In Galasiërs dring Paulus dwarsdeur die brief daarop aan dat Christelike vryheid beteken dat die gelowiges vry is van die vereiste van besnydenis. Trouens, vry is van die nakoming van die hele Joodse wet.
Tog gaan hierdie vryheid vir Paulus nie oor die individu nie, maar oor die totale gemeenskap.
Vry mense of navolgers van die wet?
Paulus skryf Galasiërs juis omdat hy gefrustreerd en kwaad is oor die feit dat die Joodse Christene hulleself as belangriker (meer rein) ag as die “heidense” gelowiges. Anders as bv. Fillipense wat die boek van vreugde is, is Galasiërs dus gebore uit frustrasie.
Daar was twis en rusie onder die Galasiërs, waarskynlik oor die besnydenis en oor die onderhouding van godsdienstige rituele. Die onderlinge verhoudinge tussen die gemeentelede was gespanne en het tot verdeeldheid gelei.
Daar het ook konflik tussen Paulus en Petrus ontstaan oor die uitsluiting van “nie-Joodse” Christene o.g.v die wet.
Die brief is waarskynlik geskryf in die tyd na die Raad van Jerusalem waarin o.a. die belangrikheid van die besnydenis bespreek is.
In dié tyd is die Joodse gelowiges ook uit Rome verdryf, wat tot gevolg gehad het dat daar ‘n “Jode eerste” houding ontstaan het en hulle die onderskeidings duideliker begin trek het tussen Joodse Christene en “heidene” wat in Christus glo. Hulle het in baie gevalle ook opgehou om met heidene te meng omdat hulle as onrein beskou is.
As gevolg van druk van die Joodse leiers, verander Petrus ook sy gedrag teenoor nie-Joodse gelowiges en herroep sy vroeëre besluit om wel saam met “onrein” mense te eet ens. Paulus is kwaad omdat Petrus hierdeur die gemeenskap beskadig deur te onttrek van die tafel. Vir Paulus is die gemeenskap gebou op tafelgenootskap en om te weet wie hul (ons) in Christus is, eerder as in die onderhouding van die wet. Ons sien reg deur Paulus se briewe en bediening dat die radikale inklusiwiteit van die tafel vir hom ononderhandelbaar is.
Paulus het dus die Galasiërs brief geskryf om die evangelie boodskap te bevestig en die oortuiging onder Joodse Christene aan te spreek dat nie-Joodse Christene die wette van Torah moet volg.
Hy beklemtoon dat alle gelowiges vrygemaak is en tot Jesus se verbondsfamilie behoort vanweë hul geloof in Jesus en nie omdat hulle die wette van Torah gehoorsaam nie.
Hierdie boodskap van Paulus moes baie – veral die Joodse leiers en Joodse-Christene – as anargisme opgeval het.
Dit lyk dalk asof hy die wet eenkant toe gooi, maar in hierdie hoofstuk stel hy die persepsie reg deur te wys dat die vryheid waarvan hy praat nie ‘n vryheid is wat buite die wet of teennoor die wet bestaan nie, maar juis in die hart daarvan is; dat om die op ‘n Gees-geleide manier te leef, juis is om die hele wet te vervul.
Vryheid binne grense
In ouer-opleiding/kursusse sal mens gereeld die term hoor “vryheid binne grense.” Dit druk die idee uit dat kinders se vryheid belangrik is, maar dat dit nie noodwendig goed is om vir jou kind grenslose vryheid te gee nie (hoewel sommige ouerskapstyle juis daarop geskoei is) omdat sekere grense jou kind beskerm.
Ek het nou nie kinders om as voorbeeld te gebruik nie, maar wel ‘n klein hondjie. Wanneer ons met haar gaan stap dan is sy aan haar leiband om haarself en ander mense te beskerm. Wanneer ons in ‘n park is met heinings of versperring tussen haar en die pad/mense wat bang is vir haar, dan mag sy sonder die leiband rondhardloop. Dis vryheid binne grense.
Die vryheid waarvan Paulus praat is juis ook nie vryheid sonder grense nie. Dis nie ‘n “alles geld” (everything goes) tipe vryheid nie.
Want sien, vryheid is ‘n aanloklike ding. Dit kan maklik gebruik word om jouself te dien. Die verwysing na “vlees” in die gedeelte kan ‘n mens se liggaam aandui, maar sommige Engelse Bybelvertalings beskryf dit as “self-indulgence.” Vir Paulus moet vryheid nie selfdiens (“self-serving”) wees nie.
Paulus bied in hierdie teks ‘n keuse tussen selfsug en onselfsugtigheid. Liefde (die vrug van die Gees) word gemotiveer deur die welstand van ander. Die vlees, word slegs deur my eie welstand gemotiveer.
Hy bied ‘n lys van voorbeelde van gedrag wat op die self gefokus is. Die lys is nie omvattend nie, maar die dele wat meer ‘vleeslik’ is, is veelseggend.
In die middel van dié lys vind ons agt woorde wat juis onenigheid en oortredings teen die eenheid van die gemeenskap uitlig. D.w.s 8 van die 15 sondige praktyke het met die konflik van liefdeloosheid in die gemeenskap van gelowiges te make: vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring en afguns. Paulus se klem op hierdie gemeenskapsvernietigende gedrag wys weereens hoe belangrik die eenheid van die gemeenskap vir hom is.
Hedendaagse profete het ook al die uitgewys dat ware vryheid die gemeenskap dien:
The truth is, no one of us can be free until everybody is free. – Maya Angelou
For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others. – Nelson Mandela
Die oproep tot vryheid is dus ‘n oproep tot eenheid en mede-diens in liefde. Die liefde is nou die samevatting van die wet. Hierdie liefde vir self en naaste, hierdie slawe van mekaar wees in liefde, staan teenoor die werke van selfsug/die vlees.
Die grense van hierdie vryheid is dus die welstand van die gemeenskap. Waar vryheid jouself óf ander in die gemeenskap benadeel en disrespekteer, is dit nie Christelike vryheid nie en kom dit nie van die Heilige Gees af nie.
Getransformeer deur die Gees
In Paulus se tyd was dit dus die algemene oortuiging dat die manier om die mens se sondige natuur te beperk en te beheer, is deur die Joodse wette na te kom. Paulus sê: Nee! Beslis nie die wet nie, maar eerder ‘n lewe in die Gees, om saam met die Gees te stap, te leef (16). Christus het die Gees gegee om ons te lei in die Weg van Christus. Die Gees moet nou ons gedrag bepaal. Dit is die Gees van liefde. Om mekaar se laste te dra, is die vervulling van die wet van Christus. Gelei deur die Gees en nie onder oordeel van die wet nie.
Die woord vir “lei” in vers 18 (“as julle julle deur die Gees laat lei) het die betekenis om gelei te word, soos wat ‘n gids ‘n mens sou lei, of om gebring te word. Die woord kan ook “dra” beteken. Die betekenis van die woord is dus diep en ryk; om deur die Gees gelei te word, gebring te word, gedra te word.
Terwyl die wette van Torah mense help om God se wil te volg, rus Jesus se transformerende teenwoordigheid deur die Gees gelowiges toe om Jesus se opdragte te gehoorsaam en ander lief te hê.
Ironies – of dalk juis intensioneel – haal Paulus ‘n deel van die wet uit Levitikus 19 aan, in sy argument teen ‘n puntenerige navolging van die wet. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Die lewe onder beheer van die Gees is dus ‘n lewe ín die gemeenskap van gelowiges, waar jy jou naaste lief het soos jouself. Jou vryheid bestaan daarin dat jy in liefde leef met almal wat deel is van die geloofsgemeenskap.
Deur die Gees kan alle gelowiges Jesus se lewenswyse volg en mense word van ‘liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing’.
Die vrug van die Gees (let op die enkelvoud, met die klem op hoe ‘n mens is) is juis wat jou laat vasstaan in die vryheid wat van God af kom. Die dinge is nie soseer iets wat jy doen nie, dit is iets wat in jou groei deur die werk van die Heilige Gees. Dit dui ’n manier van omgaan met ander aan, ’n manier van wees.
Ek sê weer: Hierdie is nie ‘n lys van dinge wat ons moet doen en as jy dit reg kry is jy ‘n ware goeie Christen nie. Dit is wettiese denke. Die vrug van die Gees is ‘n gevolg van ons geworteltheid in Christus en die Gees.
Richard Rohr skryf oor die vrug van die Gees soos volg:
(M)ost of religious and church history has been largely preoccupied with religious ideas, about which you could be wrong or right. When faith is all about ideas, you do not have to be part of it; you just need to talk correctly about it. You never have to dive in and illustrate that spiritual proof is only in the pudding.
If your understanding of Scripture leads you to experience any or several of the fruit of the Spirit—love, joy, peace, patience, kindness, goodness, trustfulness, gentleness, and self-control (Galatians 5:22-23)—I think you can trust that this interpretation is from the Spirit, from the deeper stream of wisdom.
Wanneer ons die vryheid aangryp – vryheid twv die totale gemeenskap – en onsself oorgee om deur die Gees gelei te word, is hierdie vrug die uitvloeisel daarvan. Hoe fyner ingestel en meer in pas (in harmonie) met die Gees ons leef, hoe meer word ons getransformeer deur die Gees om mense van hierdie vrug te wees.
Watter van jou geloofspraktyke/-gewoontes kan jou help om fyner ingestel te wees op die Gees se leiding?
Vry wees
Wat is ware vryheid? Christelike vryheid?
Ironies, lê ons vryheid dalk juis daarin om onsself oor te gee:
– Onsself te gee vir die gemeenskap. (Hoe sal dit vir jou lyk?)
– Onsself oor te gee om deur die Gees gelei en getransformeer te word. (Hoe kan jy dit
meer intensioneel doen?)
Mag die Gees van Christus se liefde, die vrug van die Gees, voortdurend in ons lewens gegee en ontvang word.
[Kunswerk: We Dance deur Mongezi Gum https://16onlerotholi.africa/artists/mongezi-gum]