Scroll Top

Oefen om ‘n vel te dra

Die Woord het vlees en bloed geword en in die buurt ingetrek. In Jesus van Nazareth, word God beliggaam in ʼn menslike lewe, as een van ons. Vandag se tema is: oefen om ʼn vel te dra. Soos God in Jesus mens geword het, sê Johannes vir ons, wil God ons ook in ons liggame ontmoet.
Johannes 1:1-14 Oefen om ‘n vel te dra
O

ns lees vanoggend die openingsverse van die Johannes evangelie, Johannes 1:1-14. Dit is die voorwoord tot Johannes se vertelling van Jesus se lewe. Dit was waarskynlik ʼn ou Christelike loflied wat Johannes hier aanhaal om vir ons as hoorders voor te berei vir die storie wat volg. Luister mooi na hoe dit begin, “in die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Die loflied herroep die skeppingsverhaal uit Genesis 1, waar God die wêreld deur sy Woord skep: lig, lewe, alles wat bestaan kom so tot stand – deur God se Woord wat die duisternis uitdryf en lewe skenk. En dan kom die klimaks van die loflied in vers 14; en ook die tema van die Johannes se boek: “En die Woord het mens geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou . . . vol genade en waarheid.” Ek wil graag die Message-vertaling van hierdie gedeelte lees: The Word became flesh and blood, and moved into the neighborhood. We saw the glory with our own eyes, the one-of-a-kind glory, like Father, like Son, Generous inside and out, true from start to finish. Die Woord het vlees en bloed geword en in die buurt ingetrek. Ons het die heerlikheid met ons eie oë gesien, en die appel het nie ver van die boom geval nie, ja, hierdie seun was soos ons die Vader leer ken het, genade in oorvloed, betroubaar van die eerste dag tot die laaste. Die Woord het vlees en bloed geword en in die buurt ingetrek. In Jesus van Nazareth, word God beliggaam in ʼn menslike lewe, as een van ons. In ʼn neutedop, is dit die goeie nuus wat Johannes met ons deel, en die res van sy evangelie brei dan in groter detail hierop uit.

***

Vandag se boodskap is die derde in ʼn reeks wat ons noem, ʼn Altaar in die Wêreld: Oefeninge vir die landskap van geloof. Die inspirasie vir hierdie reeks kom van Barbara Brown Taylor se pragtige boek An Altaar in the World. As God werklik in die buurt ingetrek het, dan word ons daaglikse bestaan en alledaagse belewenisse inderdaad plekke van ontmoeting met God. Ook my liggaam is ʼn plek waar God gebeur. Soos Paulus sê, in 1 Kor. 6:19-20: “Jou liggaam is ʼn tempel vir die Heilige Gees. . . verheerlik God in jou liggaam.” Dis een ding om hierdie boodskap op ʼn intellektuele manier te verstaan, maar hoe laat ek dit afsak tot in my hart? Hoe beliggaam ek dit? Hoe laat ek dit intrek tot diep in my lyf, sodat dit deel raak van my lewensritmes en my daaglikse patrone? In ʼn wêreld waarin ons maklik oorweldig word deur inligting, val die klem van hierdie reeks op oefen en oefeninge. Soos wat ons moet oefen om ons lywe fisies sterk en gesond te hou, is daar ook aktiwiteite en gewoontes wat ons liggame fiks hou vir die Woord van God om vlees te word in ons lewens. Vandag se tema is: oefen om ʼn vel te dra. Soos God in Jesus mens geword het, sê Johannes vir ons, wil God ons ook in ons liggame ontmoet. En soos ek later gaan verduidelik, gee Jesus selfs vir ons ʼn paar praktiese oefeninge wat ons daarmee wil help.

***

Maar hoekom moet ek oefen om ʼn vel te dra? Dit is tog onvermydelik, dit is tog natuurlik; hoekom het ek oefening nodig? Dis ʼn goeie vraag. Die antwoord het te make met verskillende maniere waarop ons die waardigheid van ons eie en mekaar se liggame kan vergeet. Ons kan op maniere lewe wat blind is vir God se teenwoordigheid in ons wêreld; maar ook in ons liggame en in die liggame van ander. Johannes praat op ʼn simboliese manier hiervan wanneer hy sê: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.” God is in die wêreld, en tog kyk ons God mis. God kom na ons toe, maar ons mis so veel geleenthede om God se heerlikheid te beliggaam. Ons hoor die boodskap dat God vlees en bloed aanneem as sy eie, maar ons hou aan om mekaar se liggame te skend. Hoekom? Een rede hiervoor is dat ons so veel ander boodskappe ontvang wat daardie waardige beeld van die liggaam afbreek. Ons moderne verstaan van die liggaam is eeue lank al gevorm. Lank voor Jesus se geboorte, het die groot filosowe Sokrates en Plato, gesê die liggaam is maar net ʼn tronk wat ons siele gevange hou. Die liggaam is verganklik en swak. Die siel is ewig en goed. So het hulle liggaam en siel van mekaar probeer skei. Hulle het die siel en verstand hoor geag ons die liggaam en die stoflike. Vir hulle was die doel van die lewe om ons liggame te oorstyg of ontsnap deur ons ewige siele. Hierdie idees het oor die jare baie gewild geraak en het selfs die Christelike geloof beïnvloed. As moderne mense is ons steeds geneig om ʼn sterk onderskeid te tref tussen my verstand en my lyf, tussen die geestelike en die liggaamlike. En dan assosieer ons makliker vir God met die geestelike as met die liggaamlike. Die Bybelse skrywers praat egter anders oor die mens. Hulle sien die mens as ʼn geheel. Die hele mens is die beeld van God. Gees en vlees is intiem met mekaar verweef. Ek het nie net ʼn liggaam nie, ek is ʼn liggaam. Ons liggame is ook meer as net vel en been. Ons hele bestaan in die wêreld, al ons ervarings is te danke aan ons liggame: ons gedagtes, ons emosies, ons behoeftes en herinneringe, ons vermoë om te verbeel en te droom, ons ervarings van pyn en plesier – ook ons geloof en die dinge waarvoor ons hoop: alles is gesetel in my liggaam. Ons het nie net liggame nie, ons is ons liggame. En vir Christene is dit goeie nuus, want dit is in ons liggame en deur ons liggame wat God ons ontmoet. En tog wil ek nie altyd erken dat ek my liggaam is nie. Wanneer my liggaam ʼn bron van pyn word, wanneer my lyf nie meer werk soos ek wil hê nie, dam wil ek juis nie met my eie liggaam identifiseer nie. Ons kan wyer ons om na ons liggame te luister. Ons ignoreer die pyn of die moegheid, totdat ons liggame uiteindelik protesteer en vir ons sê: genoeg is genoeg. Daar is ʼn wysheid in die liggaam en dit is dwaasheid om nie daarna te luister nie. Ons weet dat geestelike en emosionele trauma in ons liggame kan sit – en dikwels is dit ook deur fisiese aktiwiteite wat ons van sulke traumas genees word. Ek het al geleer dat stres hier in my nek en skouers gaan sit. Niks is dan meer genesend, as ʼn lang dag se stap in die berge of om in ʼn warm bad badsout te lê nie. Angs voel ek weer hier in my maag. En vrees druk my keel toe. So waarsku ons liggame ons teen fisiese en geestelike gevare en word ons beskerm wanneer ons op die punt staan om uit te brand. Soms is dit belangrik om in verwondering stil te staan voor ons liggame, in dankbaarheid en eerbied aan God. “Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed,” se die Psalmskrywer in Psalm 139. “My skelet was nie vir U verborge nie toe ek in die geheim gemaak is, toe ek kunstig aanmekaar geweef is. . .” Ja, ons liggame is broos, maar hulle is ook wonderbaarlik. Die manier wat ʼn liggaam kan genees is ʼn wonderwerk. Dat ʼn liggaam geboorte kan skenk – woorde kan nie die wonder daarvan vasvang nie. En tog kan ons soms vreeslik neerhalend dink en praat oor ons eie en ander se liggame. Deur tydskrifte en sosiale media, deur hoe ons praat en optree, help skep ons ʼn liggaamskultuur wat streef na onrealistiese ideale van hoe ʼn ‘perfekte’, of ‘gesonde’, of ‘aantreklike’ man of vrou moet lyk. Wanneer ek nie aan daardie ideale voldoen nie, kan dit my soms onwaardig laat voel. Volgens Barbara Brown Taylor kom daar vir elkeen van ons ʼn tyd wat ons in die spieël moet kyk, dalk nadat jy jou kleure uitgetrek het op pad stort toe, en sê: “Hier is ek. Hierdie is my liggaam wat God kunstig aanmekaar geweef het, ʼn liggaam soos geen ander nie, die liggaam wat deur my lewe gevorm is. Ek lewe hier. Hierdie is my siel se adres.” Kyk, sê Brown Taylor, en sien hoeveel jy het om voor dankbaar te wees, ondanks alles. Volgens haar is dit maar een manier om te oefen, een manier om jou vel met meer dankbaarheid en eerbied te dra, eerder as weersin en verwyt. Of ek siek is, of gesond, of my voorkoms verruklik of maar redelik algemeen is, dit maak nie saak nie. Ongeag hoe ek oor my liggaam dink of voel, ek kan myself steeds aanbied as ʼn plek waar God se heerlikheid, vol genade en waarheid kan tasbaar raak in die wêreld.

***

Om hierdie goeie nuus oor myself te glo is natuurlik verweef met hoe ek ander liggame sien en behandel. Ek kan nie glo dat God werklik alles van my lief het en waardig ag sonder dat ek nie ook vertrou dat God alle liggame op dieselfde onvoorwaardelike manier liefhet nie. Dit is wat die res van Johannes se evangelie op so ʼn aangrypende manier aan ons kommunikeer. Jesus leer vir ons dat ons die liggame van ons naastes moet eer en liefhê, soos wat ons ook ons eie liggame eer en versorg. Hiervoor het Jesus letterlik sy vel op die spel geplaas. Melaatse liggame, psigotiese liggame, die liggame van weduwees en weeskinders, die liggame van vreemdelinge en immigrante, die liggame van soldate van mense wat hom wou geweld doen – nooit het Jesus se gesig weggedraai nie. Jesus se hele bediening het gewentel om die versorging en insluiting van almal wie se liggame deur sy samelewing verwerp of misken of verwaarloos was. Ek het hierdie week die ontstellende video-materiaal gesien van Bulelani Qolani wat op die mees onmenslike manier, uit sy woning in Khayalitsha uitgeset is. Die Stad van Kaapstad, ons munisipaliteit wat ons liggame moet help versorg, het hulle veiligheidsmagte gestuur om hom kaal uit sy huis uit te sleep en sy eenvoudige skuiling af te breek. Dit is een van vele voorbeelde van hoe ons samelewing sommige liggame meer waardig ag as ander. Om ʼn vel te dra is om te weet dat my liggaam en jou liggaam en Bulelani se liggaam met mekaar verweef is. My liggaam verbind my aan my medemens, want soos wat ek kos en kleure en ʼn veilige tuiste nodig het, het Bulelani en sy bure dit ook nodig. Wanneer sy waardigheid geskend word, skend ons vir God self, want die Woord het vlees en bloed geword en in die buurt ingetrek. Die vraag is of ons vir hom of haar ʼn veilige plek kan gee om te bly? Dit is hoe konkreet ons moet raak oor God se menswording.

***

Op die voornag van sy dood, was daar baie wat Jesus vir sy dissipels kon geleer het. Maar Jesus het nie vir sy dissipels iets gegee om oor te dink wanneer hy weggaan nie. Hy het vir hulle iets gegee om te doen, iets om te oefen. Hy het hulle geleer oefen om ʼn vel te dra. Wees lief vir mekaar, het hy gesê, en toe het hy sy bokleed uitgetrek, voor hulle elkeen gekniel en begin om hulle voete te was. Daarna het hy saam met hulle geëet. “Doen dit, wanneer ook al julle in my naam bymekaarkom.” Vir Jesus was dit belangrik dat sy dissipels bly oefen om ʼn vel te dra, dat hulle bly oefen om die Woord van God in die liggame van hulle naastes raak te sien en te versorg en te eer. Daarom het hy vir hulle goed gegee wat hulle in hulle hande kan neem. In die maaltyd was dit iets wat hulle kon proe en ruik en inneem om hulle liggame te versterk en hulle harte bly te maak. Maar hy het ook vir hulle voete gegee. Voete wat geheg is aan ander mense se liggame. Jy kan nie ʼn ander mens se voete was sonder dat jy nie daardeur ingetrek raak by hulle lewens nie, sonder dat die versorging en waardigheid van hulle liggaam vir jou so belangrik raak soos jou eie nie. Tydens die lockdown het ʼn paar mense al vir my gevra: gaan ons ooit weer in ʼn kerkgebou ontmoet? Is dit enigsins nodig? Kan ons nie maar aangaan met video boodskappe en Zoom nie? Dit is ter wille van mekaar se gesondheid, ter wille van mekaar se liggame, wat ons tans ons afstand van mekaar hou en die keuse maak om nie in die kerk te ontmoet nie. Maar wanneer dit weer veilig is om dit te doen, sal dit ook ter wille van ons liggame wees wat ons weer in die kerkgebou sal ontmoet. Ons het daardie oefeninge so nodig soos brood.

  • Ons het nodig om ons liggame vir ʼn bepaalde tyd en plek af te sonder sodat ons God se Woord in ons lewens kan beliggaam. En ek wil jou uitnooi, as jy dit nog nie reeds gedoen het nie, om vir jou ʼn vaste tyd en plek by die huis in te stel waar jy kan stil raak om te bid en na die preke te luister.
  • Ons het nodig om mekaar met die vredesgroet te omhels; om mekaar in die oë te kyk en te eer. En ek wil jou uitnooi om in hierdie tyd van inperking in verbinding te bly met jou naastes, op watter manier jy ook al kan – veral as jy alleen bly.
  • Ons het nodig om die nagmaal saam te geniet; om ons kinders te doop. En ek wil jou uitnooi om maaltye en badtye as kosbare geleenthede te beskou waar ons kan oefen om ʼn vel te dra, waar ons met dankbaarheid en eerbied vir God dankie se vir die wonderlike gawe van menswees.

En eendag sal ons weer die nagmaal saam vier; en al kan ek julle dalk nie kry om mekaar se voete te was nie, is ek seker ons gaan mekaar se hande deeglik moet was!