Ons Eredienste word gekenmerk deur warmte, vriendelikheid en respek. Mense beskryf die styl van ons eredienste as klassiek maar informeel met ryk simboliek.
In ons eredienste dans die generasies saam. Elke erediens het ʼn kindermoment wat ons aan die speelsheid van die evangelie herinner en ons ouer-kamer maak voorsiening vir ouers met babas en klein kleuters. Na die kindermoment sluit die kinders in die saal aan by KinderKasteel.
Gemeentesang bestaan uit tradisionele gesange, moderne aanbiddingsliedere en Taizé liedgebede wat met passie en met ʼn verskeidenheid instrumente begelei word (hoofsaaklik orrel en klavier, maar ook viool, fluit en kitaar).
Prediking is Bybels, kreatief, aktueel en prakties. Klik hier om toegang te kry tot die preke.
So Vriendelik soos ʼn Springkasteel; so Verbeeldingryk soos ʼn Lugkasteel
Ons verwelkom alle kinders na ons KinderKasteel waar ons die wortels van ons geestelike lewe ontdek en koester sodat ons daaruit kan lewe. Deur spel en samesyn, kuns en musiek, drama en verhale hoop ons om ʼn geloof te kweek wat gewortel is in Jesus se boodskap van God se omarmende ryk van liefde.
Ons streef daarna om ’n gasvrye, veilige ruimte te bied waarin alle kinders kan tuiskom en hulle gawes kan deel. Daarom maak ons graag vir kinders met spesiale behoeftes voorsiening – neem asseblief die vrymoedigheid om sulke behoeftes met ons te deel, of om leemtes in ons benadering uit te wys.
KinderKasteel vind inspirasie in lugkastele en springkastele:
Lugkastele – want vertroue in God se komende ryk van vrede en geregtigheid verg verbeelding, kreatiwiteit en verwondering.
By KinderKasteel stimuleer en koester ons kinders se gawes om verbeeldingryk te lewe en met oë van verwondering na God se skepping te kyk. Ons streef daarna om ’n veilige ruimte te wees waarin kinders hulle (moeilike) vrae en gevoelens op ’n onbevange manier kan stel en op kreatiewe maniere in die Christelike storie ingelyf kan word.
Springkastele – want lewe in God se ryk gaan oor saam-behoort en saam-speel. Springkastele is immers waar ons nuwe vriende maak, mekaar geniet en verhoudings verdiep.
Springkastele het net twee heilige reëls: 1) trek jou skoene uit en 2) moenie die ander kinders seermaak nie. Só ook in God se koninkryk: Ons word ingenooi 1) om met eerbied en wonder voor God in die wêreld te lewe (trek jou skoene uit; God heilig die grond waarop jy staan) en 2) om ons naaste so lief te hê soos onsself (moenie die ander kinders seermaak nie; hulle is ook God se beelddraers). Anders as kastele van slot en steen, wat uit vrees opgerig word, vier KinderKasteel die speelsheid en vreugde van die evangelie, sodat ons in vertroue in mekaar en respek vir diversiteit kan groei.
KinderKasteel Kampe
Saam met Groote Kerk, Blouberg Gemeente en Maitland Gemeenskapskerk
- Tiener Kamp 2019 – Born for such a time as this (Ester)
- Junior Kamp 2020 – Life is a colourcoaster (Josef en sy broers)
Tiener Selgroep
Weekliks op Dinsdagaande om 19:00 saam met Groote Kerk, Kloofstraat 55
Huisgeloof
Riglyne vir aanbidding wat gerig is op gesinne.
Geestelike dissiplines
Dissiplines wat ons individueel en as groepe beoefen. Lectio Divina. Gebed van die Hart. Verwelkomingsgebed. Taizé dienste.