Ons is in die laaste weke van Paastyd en oor die afgelope paar weke het ons veral aandag gegee aan die verhale waarin Jesus, na sy opstanding, aan die dissipels verskyn het. Verlede week het ons gelees hoe Jesus die dissipels uitgestuur het om dissipels te gaan maak en Sy boodskap aan al die nasies te gaan oordra.
Die boek Handelinge vertel natuurlik vir ons juis daardie storie. Hoe die dissipels en apostels daardie roeping – om mense in te nooi in die Koninkryk van God – uitleef en die eerste Christen gemeenskappe vestig.
Soos meeste van die werk waartoe mense opgeroep word, was dié taak was beslis nie sonder uitdagings, struikelblokke, en frustrasies nie.
Handelinge 16 – wat ons vandag saam lees – word ingelei met ‘n string spreekwoordelike deure wat toe klap vir Paulus en die Apostels.
(Miskien ken jy ook daardie gevoel?)
Lees Handelinge 16: 6-15
Hierdie verhaal het drie hoofkarakters. Paulus, Lidia en die Gees (God). Miskien is dit die moeite werd om vir ‘n oomblik stil te staan by elkeen se rol in die verhaal.
Julle ken seker al vir Paulus redelik goed. Hy is die Joodse geleerde wat eers die Christen-gelowiges vervolg en toe self baie radikaal tot bekering gekom het, maar steeds baie sterk Joodse agtergrond het.
In die verhaal vind ons hom op sy tweede sendingreis. Hy het m.a.w al van te vore so reis aangepak en weet wat so tipe reis behels. Die doel van hierdie spesifieke reis was om die besluite van die eerste sinode (in Handelinge 15) aan gemeentes te gaan oordra en gemeentes in hul geloof te versterk. Hulle het dus waarskynlik hierdie reise goed vooruit beplan en geweet waarheen hul oral wil gaan.
Ons sou miskien kon sê die Here het egter ander planne gehad. Ons lees dat die Gees hulle twee maal verhinder om te gaan waarheen hulle beplan het om te gaan.
Paulus was dalk teen die tyd al gewoond dat sy planne en reise deur God onderbreek en in ander rigtings gestuur word – dink maar aan sy bekeringsverhaal. Die enigste verskil hier is dat Gees gee nie onmiddelik duidelike leiding gee oor waarheen Hy wel moet gaan nie. Of miskien is die probleem dat Paulus aanhou om sy eie planne te probeer maak.
Die aanpassings aan hul reisplan klink dalk soos vinnige proses: hulle kon nie Asië toe gaan nie, toe gaan hulle Frigië en Galasië toe. Toe hulle by Misië kom, kon hulle nie Bitinië toe gaan nie. Maar dis nie soos om te sê: ek het vanoggend Spar toe gegaan maar toe is hulle toe en moet ek al die pad Howard Centre toe ry nie
Miskien moet ons meer dink in die lyn van: ek het by die werk drie maande aan ‘n projek gewerk en toe gehoor dat die kontrak gekanselleer is en nou moet ek van voor af met ‘n totaal nuwe projek begin
Hierdie reise was lank en uitmergelend en het tyd gevat. En daarom is ek seker dit was uiters frustrerend om elke keer op ʼn punt in die reis te kom, net om te leer dat dit nie die regte koers is nie. Dit moes sekerlik voel soos ‘n reeks mislukkings? Soos deure wat in hul gesig toeklap? Kan julle die frustrasie en teleurstelling indink?
Uiteindelik gee die Gees wel leiding en roep God vir Paulus Masedonië toe in ‘n droom. Paulus is oortuig dat hulle ‘n man daar moet gaan help, maar ons lees nie verder van die man waaroor hy gedroom het nie.
Hulle is vir ‘n paar dae daar voor hul op die Sabbat na die rivier toe gaan met die hoop om daar te gaan bid en – ek raai – dalk die man daar te vind.
Waarop hulle wel afkom is die totale teenoorgestelde: ‘n klomp vroue by die rivier. Dit is belangrik om te onthou dat vroue in daardie dae nie so hoog geag is nie en nie noodwendig die geselskap wat Paulus dalk sou verkies nie, maar hulle gaan sit dan daar en gesels en ontmoet vir Lidia.
Lidia is iemand besonders. Sy is oorspronklik van Tiatira, maar in die verhaal vind ons haar in Fillipi. Sy is ‘n ryk vrou, ‘n besigheidsvrou wat handel in purpur – ‘n pers materiaal wat met veral deur koninklikes gedra is. Dit was baie duur en is met skulpe gekleur. Sy was ook die hoof van haar huis. Sy het die Joodse geloof aangeneem, maar nie noodwendig in Jesus geglo nie. Wat duidelik is in die verhaal, is dat sy op ‘n manier reeds voorberei is en gereed was om die evangelie te hoor.
Ons lees dan ook dat God haar hart oopgemaak het.
Lidia reageer dan eerstens haar hele familie te laat doop en daarna haar huis oop te maak vir die sendelinge. En so word sy eintlik die een wat hulle versorg. Wat vir hulle iets van God se liefde en insluiting wys. Haar reaksie op die evangelie is om haar lewe en haar deure oop te gooi vir ander.
Later in die hoofstuk lees ons dat Paulus en Silas, nadat hulle in die tronk was, weer na haar huis terug gaan. Lidia se huis word die eerste huiskerk en uiteindelik die kerk in Fillipense. Sy befonds ook Paulus se sendingreise.
Dis eintlik baie ironies. Paulus gaan na Masidonië toe want hy het gedroom van ‘n man wat sy hulp nodig het. Maar eindelik vind hy hierdie ryk vrou en instede daarvan dat hy haar help, help sy uiteindelik eintlik vir hulle.
Ek deel graag enkele gedagtes oor wat vir my uitstaan in die verhaal en wat ek dink leidrade kan wees vir ons self in die hier en nou.
- God se aktiewe betrokkenheid. God is eintlik die Een wat heeltyd aan die werk is. Die Gees keer Paulus verskeie kere voor; roep hom na Fillipi toe; en maak Lidia se hart oop.
Wat fassinerend vir my is, is die ontwrigtende maniere waarop dit alles gebeur. Die Here ontwrig Paulus se planne, en ontwrig die status quo en ordes van die dag deur hierdie ryk vrou te gebruik.
Dit lyk vir my wanneer ons Jesus volg kan ons maar weet dat dit ons lewens gaan ontwrig. - Paulus se gehoorsaamheid om die Gees te volg. Hy is fyn ingestel op die Gees se leiding en let waar God reeds werk. Deur bloot te leef in die oomblik word hy verras deur die werk van die Gees, en uiteindelik is dit hy wat geseën word daardeur. (Ek het vroeër gepraat van deure wat toegaan en oopmaak… En ek is bietjie versigtig om die metafoor te gebruik, want ek is bewus van al die cliche’s – voorbeelde? – en soms moet mens ‘n toe deur oopskop…)
Ek dink dit is iets besonders om so wakker, oop en oplettend te kan wees vir die geleenthede wat oor jou pad kom en waar die Here jou kan gebruik. - Lidia se oop hart. Sy reageer onmiddelik op die boodskap van die evangelie en gebruik wat tot haar beskikking is om die kerk te bemagtig. Handelinge is natuurlik ook geskryf deur Lukas. Vanuit sy evangelie weet ons Lukas was nie baie lief vir ryk mense nie, en tog word hierdie ryk vrou so ‘n groot rolspeler in sy verhale en die storie van die kerk. Maar sy was nie die soort ryk mens waaroor Lukas gewoonlik skryf nie. Sy was oop en ontvanklik en bereid om te deel. Tog was sy gladnie die persoon na wie Paulus gedink het hy gestuur word nie.
Ten spyte van Paulus se planne, is God heeltyd aan die werk en lei hom in totaal ander rigtings. Paulus is uiteindelik gehoorsaam aan God se leiding en word verras deur die ryk vrou met die oop hart.
Mag ons oop wees vir die werking van Gees. Mag ons oop wees om te sien en te hoor waarheen ons geroep word en aan te sluit daar waar God reeds werk. Mag ons die oop deure raaksien en dapper genoeg wees om oor die drumpel te trap.