inelands Gemeente en die Calvyn Protestantse Kerk (CPK) in Athlone stap al ʼn hele paar jaar die pad saam. Ons hou jaarliks twee gesamentlike eredienste. Een keer maak ons ons deure toe en aanbid by hulle; en dan is daar ook ʼn geleentheid vir hulle om by ons te kom kerk hou. Volgende week 27 Februarie 2022 om 09:30 is dit Pinelands Gemeente se beurt om CPK Athlone in ons kerkgebou te ontvang.
Hoe het die C.P.K. tot stand gekom?
In 1948, toe die Nasionale Party in bewind gekom het en begin het om die apartheidswetgewing te implementeer, het die NG Sendingkerk se ring van Wynberg ontmoet om die apartheidsbeleid te bespreek. Onder leiding van Ds. ID Morkel het die ring tot die slotsom gekom dat daar geen gronde vir die beleid van apartheid in die Bybel is nie. Inteendeel, hulle het bevind dat apartheid boos, sondig, afbrekend en onmenslik is – dat dit ʼn sisteem is wat in alle vorme teengestaan moet word.
Omdat die kerk hierdie apartheidsbeleid ondersteun het, is daar besluit om weg te breek van die NG Sendingkerk en ʼn nuwe kerk te begin. Op Sondag 8 Oktober 1950 moes ds. Morkel sy afskeidspreek voor ʼn groot buitelug gemeente van agterop ʼn lorrie lewer omdat hy toegang tot sy kerkgebou geweier is. Op die daaropvolgende Sondag, 15 Oktober 1950, is die Calvyn Protestantse Kerk in die Gleemoor stadsaal in Athlone gestig. Kort daarna is ander gemeentes ook gestig en vandag bestaan die CPK uit 35 gemeentes in die Wes, Suid, Oos en Noordkaap, asook in Namibia.
Vir die langste tyd was daar geen verhouding tussen die CPK Athlone en die NG Kerk in Pinelands nie. Dit het egter begin verander toe een van hulle lidmate, wyle oom John Odendaal, ons Woensdagoggend Bybelstudies begin bywoon het. Mettertyd het my voorganger, Tiana Bosman, en hulle leraars begin bou aan ʼn verhouding. So het dit gebeur dat CPK Athlone se kerkraad ons kerkraad uitgenooi het na ʼn gesamentlike vergadering en erediens. By daardie vergadering was die boodskap eenvoudig: “ons het julle nie genooi om julle skuldig te laat voel of om julle te forseer om jammer te sê nie. Ons het julle genooi omdat ons die pad saam met julle wil stap.”
Dit was ʼn treffende versoeningsgebaar; maar dit moes natuurlik andersom gebeur het. Óns moes as ʼn gemeente van die NG Kerk, met groot beskeidenheid, in ʼn versoeningsgebaar na húlle toe uitgereik het. Dit was immers in protes teen die NG Kerk se ondersteuning van apartheid wat die CPK gestig is.
Deur hulle getrouheid aan die evangelie het die Here vir ons gemeente ʼn weg gebaan om tot bekering te kom, om ons verhouding met ons broers en suster te herstel, en om voortaan sáám te soek na God se koninkryk.
In 2020 het die CPK in Athlone hul 70ste bestaansjaar gevier en ons was bevoorreg om te kon deel wees van daardie vieringe. As ʼn gebaar van ons vriendskap kon ons ook vir hulle ʼn verjaarsdag geskenk gee in die vorm van nuwe matte vir hulle kerkgebou. Ons het die geskenk juis op Versoeningsdag (16 Desember 2020) aan hulle oorhandig en beklemtoon dat dit nie ʼn gebaar van barmhartigheid is nie, maar ʼn gebaar van versoening en regmaak.
Kom en neem Sondag 27 Februarie 2022 deel aan die feestlikheid wanneer ons ‘n geleentheid het om saam te aanbid.