Gasvryheid & Samesyn
Gasvryheid is ʼn kernwaarde van Pinelands Gemeente. Raak deel van ons Samesyn Span en help ons om dit uit te leef. Hier is ʼn paar praktiese maniere om jou passies en gawes te deel:
- Verwelkom mense Sondae by ons eredienste.
- Help met die tee en koffie geselligheid na die diens.
- Nooi nuwe intrekkers vir ete om hulle welkom te laat voel.
- Help reël aan kuiergeleenthede (bv. ʼn wynproe vir jong werkendes, ʼn bring en braai vir jou wyk, ʼn playdate vir kleuters en hulle ouers . . .).
- Bring ʼn bordjie eetgoed vir ʼn spesiale geleentheid.
Versorging & Kleingroepe
Wanneer mense deur moeilike tye gaan is dit veral in vriende wat hulle troos en ondersteuning vind. Die predikant is maar net een versorger in ʼn gemeente. Ons kan almal help om mekaar te versorg en ons wil graag lidmate toerus en ruimtes skep waarin ons mekaar in ʼn verskeidenheid situasies kan bystaan.
- Daar is talle informele maniere om jou vriendskap te betoon, van kosmaak vir iemand wat alleen herstel na ʼn operasie, tot inkopies doen vir iemand wat nie tydens die inperking mag rondbeweeg nie, tot ʼn bemoedigende boodskap op WhatsApp. Daar bestaan reeds ʼn pragtige kultuur hiervan in Pinelands Gemeente. Neem asseblief die vrymoedigheid om vir gemeentelede te wys dat jy omgee.
- Stig ʼn kleingroep of reël ʼn wyksbyeenkoms. ʼn Kleingroep wat gereeld bymekaarkom of vir ʼn bepaalde tyd rondom ʼn tema saam reis kan ʼn wonderlike manier wees om vriende te maak en in geloof te groei. Kliek hier as jy wil deel raak van ʼn groep of ʼn nuwe groep wil begin.
- Het jy ʼn spesiale gawe of passie vir versorging wat jy graag in die gemeente wil uitleef deur reisgeselskap te wees vir mense wat deur moeilike tye gaan? Wil jy verder toegerus word met basiese beradingsvaardighede? Wil jy ʼn ondersteuningsgroep begin vir mense wat ʼn spesifieke trauma of stryd deel? Of het jy dalk professionele dienste wat jy wil aanbied? Kontak gerus ons predikant om verder te gesels.
Baie van ons senior lidmate vind dit moeilik om nog aan eredienste en ander gemeente aktiwiteite deel te neem. Jy kan die predikant help om hulle te bedien en versorg deur hulle te besoek of te bel. Kontak ons predikant as jy so wil betrokke raak.
KinderKasteel en Tienerkerk mentors
ʼn Spanpoging
Ons kinder en jeugbediening is ʼn spanpoging. Na die “Kindermoment” waarby die dominee spesiaal met hulle in gesprek tree, is daar tydens die skoolkwartaal ook ʼn KinderKasteel ontmoeting in ons kerksaal (SASNEV-Sentrum). Die predikant voorsien die lesplan. Na die kindermoment vergesel die mentors wat op die betrokke Sondag aan diens is die kinders na die SASNEV-Sentrum waar hulle verder deel neem aan die kinderkerk program tot die erediens klaar is om 10:30.
Mentors word kwartaalliks volgens ʼn rooster ingedeel. Afhangende van getalle is daar potensieel drie fokusgroepe: Kleuters (± 2-4), Voorskool (± 5-6) en Laerskool (± 7-12). Tieners (±13-18) word aangemoedig om die volle erediens by te woon en deel te neem aan Tienerkerk op Dinsdagaande om 19:00.
Kom Droom en Speel Saam!
Word ʼn KinderKasteel- of Tienerkerk-mentor en droom en speel saam. Ons het ook mentors nodig wat met ons kampe kan help as mentors of as deel van die kombuissspan. Kontak ons predikant om te gesels oor hoe jy betrokke kan raak.
Sal ons geloof kinders hê?
Soms wonder ons of ons kinders eendag geloof sal hê. Die vraag kan egter omgekeer word: Sal ons geloof kinders hê? Met ander woorde, sal ons geloof die kreatiwiteit, die passie, die verbeelding hê om met ons jongmense te praat in ’n taal wat hulle verstaan en wat hulle kan toerus vir vol en ryk lewens in God se wêreld?
Dit is hoe ons by Pinelands Gemeente dink oor ons kinder- en jeugbediening. Deur ʼn KinderKasteel of Tienerkerk mentor te word, bied jy nie net ʼn diens nie – jou geloof word verryk deur die spesiale gawes wat kindwees bied – die speelsheid, die trane, die vrae, die wonder!
Kontemplatiewe Spiritualiteit
By Pinelands Gemeente het ons ʼn spesiale waardering vir die sogenaamde kontemplatiewe gebedslewe – een van die oudste tradisies van die Christelike geloof.
Miskien weet jy nie meer hoe of wat om te bid nie? Miskien verlang jy daarna om te bid, maar jou woorde het opgedroog?
Dan is die praktyke en geloofsgewoontes van hierdie tradisie dalk vir jou. Die vertrekpunt is die vertroue dat God as Gees reeds in ons harte woon en vir ons instaan by God die Vader, deur die liefde en genade van Jesus Christus. Deur stilte en deur op God te wag, deur aandag te skenk en fyner te luister, neem ons deel aan God se gebed in my en in die wêreld.
Daar is ʼn paar maniere om betrokke te raak: 1) raak deel van ons gebedsgroep wat mekaar ondersteun deur gereeld saam te bid en saam te leer oor die gebedspraktyke. 2) Woon die maandelikse Taizé-stildiens by. 3) Woon ʼn kursus of retraite by waarin ons saam leer oor die gebedslewe en nuwe dissiplines oefen. 4) Maak ʼn informele afspraak met die predikant om te gesels oor jou geloofsreis en oor gepaste praktyke en dissiplines wat jou kan help groei.
Kyk ook uit vir hulpbronne soos artikels, video’s en boekresensies op ons blog. Hierdie hulpbronne sal onder “gebed” of “spiritualiteit” geliasseer word.
Vir meer inligting, kontak ons predikant.
Erediens werkgroep
ʼn Erediens bestaan uit veel meer as ʼn preek. ‘Liturgie’ is die woord wat gebruik word vir die totale vorm van ʼn diens, insluitend musiek, gebede, versierings, ritueel en simboliek – alles dra by tot ons aanbidding van God! Ook tegnologie soos die klankstelsel en die dataprojektor speel ʼn belangrike rol. Liturgie (leitourgia) beteken letterlik ‘die werk van die mense’. Om ʼn erediens voor te berei is inderdaad ʼn spanpoging! Dit verg nadenke, kreatiwiteit en gebed.
Watter gawe of passie kan jy met ons erediens werkgroep deel?
- Speel jy ʼn instrument of het jy ander musikale gawes wat kan bydrae tot ons lofprysing?
- Is jy ʼn kreatiewe skrywer wat gepaste gebede, gedigte of liturgieë kan skryf? Of het jy ʼn skerp redakteursoog wat uitdeelstukke kan proeflees?
- Sal dit vir jou lekker wees om koppe saam te sit en ʼn erediens of preekreeks te beplan?
- Is jy ʼn kunstenaar met ʼn oog vir hoe visuele kuns ons aanbidding kan verryk?
- Is jy lief vir versier of weet jy hoe om blomme vir spesiale dienste te rangskik?
- Is jy tegnies aangelê om met die klankstelsel te help, of om klankopnames te redigeer?
- Kan jy ʼn dataprojektor opstel en ʼn PowerPoint aanbieding bestuur?
As jy van hierdie of enige ander manier wil saamwerk aan ons eredienste, kontak die predikant, Helgard of ons musiekleier en orrelis, Veranza.
Koffiekerk
Elke erediens is maar net die begin van ʼn gesprek wat soms ʼn hele week (of selfs langer) nog in ons harte kan aangaan. Ons wil verder gesels oor hoe die Woord prakties in ons lewens kan vlees word, oor die dinge wat ons pla, oor die vrae wat by ons spook.
Koffiekerk is ʼn informele uitnodiging om na ʼn erediens saam met ander gelowiges te gesels oor daardie Sondag se teks en preek. Ons doen dit gewoonlik direk na die diens met ʼn koppie koffie in die hand.
Tydens die grendelstaat, waarin ons aanlyn dienste gehou het, het ons steeds Sondagoggende om 10:30 koffiekerk gehou deur middel van ʼn Zoom video-oproep. Kontak ons vir die skakel.
Weeklikse Bybelstudie
Elke Woensdag om 09:30 ontmoet ons by die kerkgebou om saam die week se teksgedeelte te lees. Dit is ʼn geleentheid om saam te bid en om meer te leer oor die Bybel en hoe ons dit verwantwoordelik interpreteer.
In Gesprek voor God
Soms voer ons juis hierdie gesprekke tydens die erediens as ’n vorm van aanbidding, omdat ons glo dat geloof alle aspekte van die lewe betrek. Dikwels nooi ons ʼn gas uit om met ons oor ʼn onderwerp te gesels wat vir hulle na aan die hart lê.
Van ons vorige gesprekke en gespreksgenote sluit in:
- 25 Augustus 2019: In Gesprek met Wilhelm Verwoerd oor sy boek “Bloedbande: ʼn donker tuiskoms (2019)”
- 13 Oktober 2019: In Gesprek met Pumla Gobodo-Madikizela oor die boek: “Hierdie is die goed wat aan ons kleef: Stemme uit Bonteheuwel, Langa en Worcester (2019)”
- 16 Februarie 2020: In Gesprek met Ernst Conradie oor “Rus vir die aarde: waar vind mens en aarde rus om die 21ste eeu te oorleef?”
Moontlike temas om na uit te sien, sluit in:
- Die hele skepping sug – oor die ekologiese krisisse
- Genade vir sterwelinge – oor die keuses en gesprekke wat saak maak aan die einde van ʼn lewe
- Only the dead see the end of war – oor lewe na militêre diensplig
- (Goeie) nuus? Oor nuus en sosiale media
- Geld en God? Oor dissipelskap in die ekonomie
- God en die godsdienste? Oor godsdienstige gasvryheid in ’n wêreld van ekstreme
- Oor patriargie en geslagsgeweld teen vroue en kinders
Kyk uit vir die volgende gesprek en neem deel. Daar sal soms ook kursusse en gespreksgroepe ontstaan oor van hierdie onderwerpe. Ons ontvang ook graag voorstelle vir temas, sprekers, gespreksgroepe en werkswinkels.
Skryf iets vir ons Blog of Nuusbrief
Ons stuur af en toe ʼn nuusbrief uit met nuus en stories en stof tot nadenke.
As jy ʼn gawe het om te skryf (kort rubrieke, gedigte, boekresensies is alles welkom) of andersins taalkundige vaardighede het (byvoorbeeld, as ʼn proefleser of redakteur) en graag so wil bydra tot ons gemeente se saam-dink en saam-loop lewe, stuur vir ons ‘n epos.
Saamstaan Bedienings
Rasseversoening
Saamstaan teen geslagsgeweld
Gesamentlike Eredienste met Calvyn Protestantse Kerk Athlone
Saamwerk Bedienings
Vrolike Groepe Speelskool in Elsiesrivier
Siyafunda Beursfonds in samewerking met Maitland Gemeenskapskerk, Maitland VGK, Woodstock VGK, Langa VGK
Omgee bedienings
Maitland Sopkombuis
Ysteplaat kospakkie projek
Badisa Elsiesrivier
Ekologie werkgroep
Ons is op soek na belangstellendes wat ons gemeente kan help om ʼn ekologiese-oudit te doen. Deur ons gemeente se ekologiese voetspoor te verlaag kan ons ook gemeentelede toerus om soortgelyke stappe in hulle huishoudings aan te bring en ook ʼn voorbeeld wees aan ander gemeentes en instellings.