Scroll Top

Tussen angs en verlange

Wat is die angs en verlange wat in jou hart en gedagtes en in jou lyf leef?
      Soms is angs belangrik, want dit waarsku ons.
      Soms wil ons angs vir ons iets sê oor onsself of oor ‘n situasie.
Maar ons sien ook dat die wat hul vertrou in God plaas, nie verlam word deur hul vrese nie
numeri 13 & josua 1 tussen angs en verlange

Tydens verlede jaar se grendeltyd het ek ‘n hele paar reekse gekyk. Sommige goed en ander minder so, maar deur die bank het almal begin met ‘n kort samevatting (“recap”) van die reeks tot dusver. Dié samevatting bring mens nie net weer op hoogte van sake nie, maar help gewoonlik ook om die gebeure in die nuwe episode beter te verstaan. So wil ek ook ‘n vinnige samevatting van die oploop na Numeri 13 en die boek van Josua, voordat ons saam lees:

  • Die vennootmense (Hebreërs/Israeliete) was slawe in Egipte. Dit was in werklikheid ‘n gemengde groep mense van verskeie herkomste, maar almal het onderdrukking in Egipte ervaar.
  • God het hulle van die slawerny gered met die hulp van Moses, Aäron en Mirjam. Aanvanklik lees ons dat Moses bang was vir dié groot taak, maar God maak ‘n passie in hom wakker wat so sterk brand dat dit hom uiteindelik help om sy vrees te dra, eerder as dat die vrees hom oorneem.
  • Moses herinner die mense dat hulle nie aan die Farao behoort nie, maar aan God.
  • Uiteindelik het hulle Egipte ontsnap, maar ons weet dit was nie maklik nie. Daar was baie struikelblokke in hulle pad. (Julle sal dalk selfs van hulle onthou)
  • Die laaste uitdaging was toe hulle op ‘n punt te staan kom, waar die Rooisee voor hulle en die Egiptenare agter hulle is, en hulle geen uitkoms sien nie. Daar leer hulle: Wanneer ons vasgevang is in slawerny, is daar gewoonlik hindernisse in ons pad wat dit onmoontlik laat lyk om weg te kom. Hindernisse wat ons nie kon indink of waarvoor ons nie kon beplan nie.
  • Maar Moses het geweet God se beloftes aan hulle is sterker as die hindernisse in hul pad.

Ons het verlede week gelees dat hulle daarna die “Woestynskool” ingegaan het om te leer hoe om te leef saam met God, mekaar en die skepping. Hulle moes ook die maniere van Egipte afleer.
Hulle het daar ‘n reeks lesse geleer:

  1. Dit is God wat vir hulle sorg. Alles kom van God en is ‘n geskenk van God
  2. Om te deel [Ons sal nooit die vreugdes van die beloofde land beleef as ons nie leer hoe om te deel nie]
  3. Opgaar stink!
  4. Werk is waardevol en nodig. Ons is God se vennote in die uitleef van God se droom vir die wêreld
  5. Die sabbat (rus) is belangrik. Ons moet tyd maak om God, mekaar, en die skepping te geniet

Nadat hulle tyd in die Woestyn spandeer en hierdie en ook ander lesse geleer het, kry hulle dan die geleentheid om die beloofde land in te gaan.

Lees Numeri 13

Slegs twee uit die twaalf, Josua en Kaleb, het gesê hulle moet God vertrou en die beloofde land ingaan. Ek wonder waarom Josua en Kaleb nie bang was soos die ander nie? Ek wonder wat gemaak het dat hulle kans gesien het om met die reuse interaksie te hê?

Miskien kan ‘n paar beelde ons help. Kyk vir ‘n oomblik wat jy met eerste oogopslag sien in hierdie kunswerk van Salvador Dali.

Daar is drie verskillende beelde wat mens kan sien wanneer jy na hierdie werk kyk.  Ons kyk almal na dieselfde beeld, maar ek sien ‘n bejaarde oom en tannie, jy sien twee kitaarspelers, en iemand anders sien ‘n beker/blompot.

Ek vermoed dit is wat gebeur het met die verkenners. Hulle het almal na dieselfde prentjie – dieselfde situasie – gekyk, maar wát hulle gesien het was verskillend.

In hoofstuk 14 vanaf die laaste helfte van vers 7 sê Josua en Kaleb vir die volk:

“Die land wat ons gaan verken het, is ‘n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!”

Verbeel jou vir ‘n oomblik jy was een van die mense wat agtergebly het en nou kom die verkenners terug met hierdie nuus. Vir wie sou jy geluister het? Die 10 verkenners wat sê dat daar sterk reuse in die land woon en ons dit eerder nie moet waag nie?

Of die 2 verkenners wat nie saam met die res te stem nie en sê dat alhoewel daar sterk reuse in die land is, ons dit steeds kan doen? 

Is ons nie, soos die Israeliete, in die ewige stryd tussen angs van en verlange na dit wat op ons wag nie. Verlange help ons om vorentoe te beweeg, maar die onbekende bring ook angs wat ons wil laat terug deins. Die Nederlandse teoloog Nico ter Linden voer aan dat ons angs en verlange bepaal hoe ons die wêreld en ander mense sien, maar meer as dit ook ons verhouding tot God inkleur – soos ons in hierdie verhaal sien.

Wat is die angs en verlange wat in jou hart en gedagtes en in jou lyf leef?
      Soms is angs belangrik, want dit waarsku ons.
      Soms wil ons angs vir ons iets sê oor onsself of oor ‘n situasie.
Maar ons sien ook dat die wat hul vertrou in God plaas, nie verlam word deur hul vrese nie.

‘n Goeie voorbeeld is dalk kinders wat bang is vir die donker. Om eerlik te wees is ek self soms maar lekker bang wanneer dit donker is.
Waarom? Dalk die onsekerheid. Of die onbekende. Dit wat mens nie kan sien nie.
En wat help kinders – en ons – wanneer ons so voel?
            Iemand wat jou moed inpraat en sê jy hoef nie bang te wees nie?
            Dalk ‘n flitslig?
            Iemand wat by jou is en jou hand vashou? 

Miskien het Josua en Kaleb geweet God hou hul hand vas. Hulle het dit dalk meer geglo as die res. Hulle het vertroue gehad in God en die beloftes wat die Here vir hulle gemaak het.

God het egter gesien dat die meerderheid mense nie gereed was vir die beloofde land nie. Die lesse wat hulle daardie eerste dae in die woestyn geleer het, het nog nie ingesink nie. Hulle moes nog 40 jaar lank in die woestyn rond trek en meer leer oor hoe vennoot-mense leef.
Baie van die mense wat daar was het nooit in die beloofde land geleef nie. Moses self het gesterf voor dit moontlik was.
Moses het net voor hulle uiteindelik die beloofde land sou ingaan opgegaan met die berg en gekyk na die beloofde land en almal gegroet.

Wie het God toe gekies om opvolger te wees? Josua, natuurlik!
Josua self was egter nie sonder vrees en onsekerheid nie. Aan die begin van die boek Josua lees ons hoe God met Josua praat oor die taak wat vir hom voorlê. Beide Josua en die vennootmense twyfel en is onseker oor wat voorlê. Al was die woestyn nie die ideale blyplek nie, het dit – soos Egipte van te vore – ‘n lewe geword waaraan hulle gewoond was, wat hulle geken het.
Dat Josua op God vertrou beteken nie dat hy totaal vreesloos en sonder onsekerheid is nie. In Josua 1 lees ons hoe God, nie net vir Josua oproep nie, maar hom ook moed in praat.

Lees Josua 1:1-9

Ek dink nie God was ontsteld dat die mense in Numeri 13 vrese gehad het of onseker was nie, maar dat hulle nie vertrou het op God te midde van daardie vrese nie. Hulle het toegelaat dat hulle vrese hulle dra. Maar in God se opdrag aan Josua sien ons hoe God vir Josua help om sy vrese te dra. 

In die eerste plek herinner God vir Josua aan die verlede. Ek wonder of daar oomblikke vanuit jou eie lewe is wat jy beleef het dat God by jou is, wat jy kan oproep in oomblikke van onsekerheid?

In die tweede plek herinner God hom aan die Woestyn-lesse (die wet) en hoe God hulle leer leef het. Hy sê vir Josua as hulle aanhou om so te leef en dit onthou sal dit met hulle goed gaan.

Laastens verseker God vir Josua dat hy nie alleen is nie; dat God “sy hand vashou” soos ‘n ouer as ‘n kind  bang is vir die onbekende. 

Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God is by jou oral waar jy gaan

Sterk:  “hazak” beteken onstuitbaar (hewig, soos dinamiet) of standvastig

Vasberade: “amats” deursettingsvermoë – kan ook met dapper vertaal word.

Is daar dalk tans ‘n situasie in jou lewe, waarvoor jy hierdie aanmoediging nodig het?

Diegene wat ‘n bietjie ouer is as ek, het moontlik al ander noodtoestande, ressesies of rampe beleef, maar in my leeftyd is hierdie sekerlik een van die mees onsekere tye wat ek al deurgemaak het.
Dalk dra jy met jou ander onsekerhede en vrese saam wat meer persoonlik van aard is.
Wat is die angs wat in jou gemoed leef? Wat jou nekhare orent laat staan of ‘n knop op jou maag veroorsaak?
Wat dit ook al is wat ons bang/onseker/onrustig/angstig maak, hoe ons daarna kyk gaan bepaal of dit ons totaal gaan oorweldig en terughou of nie. Ek dink nie ons hoef dit te ontken, onderdruk of ignoreer nie, maar kan ons vertrou dat God te midde daarvan by ons is?

Persoonlik is ek meeste van die tyd meer soos die 10 verkenners as die 2 vasberades.
Maar ek hoop hierdie storie kan ons vandag weer inspireer om ons vrese te dra eerder as dat ons vrese ons dra.
Ek hoop dat ons meer en meer sal kan kyk met oë soos Kaleb en Josua s’n.

Ek hoop dat ons in hierdie dae sal onthou:
1) Hoe God ons bygestaan het in die verlede
2) Hoe God ons geleer het om te leef saam met God, mekaar en die skepping
3) Dat God by ons is en ons hand vashou, sodat ons sterk en vasberade kan wees.