Scroll Top

Tussen ‘n klip en ‘n harde plek

Om deel van God se koninkryk te wees, wil dit blyk, vra waagmoed.
josua 2 tussen ‘n klip en ‘n harde plek

Ons is in Koninkrykstyd – die tyd van die jaar wat ons veral dink oor wat dit beteken om deel van God se Koninkryk te wees en wat dit vir ons beteken. Vandag bespreek ons die verhaal van iemand wat ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die vestiging van God se Koninkryk, nie net in hul tyd nie, maar as voorouer van Jesus, ook in alle tye. Ironies genoeg was sy (ja, ‘n vrou) aanvanklik gladnie deel van God se mense nie. Inteendeel.

 

Ons het die afgelope twee weke gelees en gesels oor hoe die Israeliete (vennoot-mense) na veertig jaar in die Woestyn uiteindelik die Beloofde Land betree.
Een van die eerste stede wat hulle teëgekom het was Jerigo. Jerigo was ’n belangrike stad in die land Kanaan. Dit was groot en oud, en het groot mure daar rondom gehad om dit te beskerm. Josua, wat jare van te vore een van die 12 verkenners was wat die land gaan verken het, stuur dan twee manne om die stad te gaan besoek en inligting in te win. Hulle was egter miskien nie die heel beste spioene nie, want dit is nie lank nie toe kom die koning te hore van hul teenwoordigheid in sy stad.

 

Hulle vind toe veiligheid by die laaste persoon wat ons dalk sou dink twee getroue gelowiges sal gaan aanklop.
Want sien, in die stad was daar ‘n vrou met die naam Ragab. Sy was een van die Kanaäniete, ‘n inwoner van Jerigo en – soos die teks dit pertinent stel – ‘n prostituut.

  • Ragab het ‘n huis binne-in die muur gehad wat die stad omring het. Vanuit haar huis kon sy waarskynlik sien hoe die mense voorberei om die stad binne te kom. Vanuit haar werk was sy waarskynlik ‘n persoon wat baie geweet het van wat in die stad aangaan. Ek kan myself indink dat sy moontlik ‘n intieme kennis van die stad en dalk selfs belangrike mense in die stad gehad het.
    Sy was natuurlik ‘n randfiguur in haar gemeenskap, maar ek stel my voor iemand wat straatwys was en toegang gehad het tot inligting – oop oë en ore op die grond.
    Of dit dus ‘n strategiese skuif was vir die spioene om juis by haar aan te gaan, en of hulle dalk van haar dienste gebruik gemaak het, weet ons nie verseker nie. (Sommige kommentators glo wel daar is sugestie daarvan in die teks, maar ons weet ook dat wetsonderhouding in daardie tyd vir die volk – en in die boek Josua – uiters belangrik was)
  • Hoe dit ook al sy, Ragab het toe die spioene genooi om in haar huis te kom bly, maar sy het ook met hulle onderhandel en gevra dat hulle dan sal toelaat dat sy en haar familie deel word van God se volk. Die spioene het ingestem.
  • Toe Jerigo se soldate kom, om die verkenners te vang, het Ragab hulle op die dak van haar huis onder bondels gras weggesteek. Op hierdie manier kon die verkenners ontstap en teruggaan na hulle mense toe.

 

Lees Josua 2

 

Ragab het natuurlik ’n baie groot kans gewaag om die verkenners te help. Sy plaas haar vertroue – haar lewe – in die hande van twee vreemdelinge. Ek kan nie help om te wonder wat dit is wat haar oortuig het om dit te doen nie. Het sy goeie intuïsie en vooruitsig gehad? Was sy dalk net ‘n baie behulpsame persoon? Het die stories wat sy gehoor het van hierdie mense wat uit Egipte ontsnap het en die God wat hulle aanbid haar bang gemaak of vir haar hoop gegee? Was sy eenvoudig geroer deur die Gees?

Ek wonder of jy ‘n storie het van ‘n keer wat iemand jou gehelp het, van wie jy  dit dalk nie verwag het nie?

Nadat sy aan hierdie twee mans genade bewys het, het sy gevra vir genade in ruil. Hulle het haar vertrou om hulle weg te steek, en in ruil het sy hulle vertrou om haar lewe te red. Dis ‘n interessante verhaal van mense wat wedersyds hul lewens in die vertroue van vreemdelinge plaas.

Ragab se beroep as prostituut sit haar in ‘n vreemde sosio-kulturele posisie. Aan die een kant is sy ‘n uitgeworpene wat nie voldoen aan dit wat as respektabel beskou word nie, maar aan die ander kant wil dit lyk sy is bekend met o.a. die koning. Tog is Ragab op verskeie maniere ‘n kwesbare teiken. Sy is ‘n vrou en ‘n prostituut. Sy was dalk ryp vir die invloed van Joshua se spioene. Sy het niks om te verloor in terme van haar posisie in haar eie kultuur nie en as sy die spioene bystaan, wen sy die moontlikheid om haar lewe en die lewens van haar familielede te bewaar.

 

Uiteindelik het die mans wel aan haar genade bewys! Hulle het belowe om haar lewe met hulle eie lewens te beskerm, en bo en behalwe dit, het hulle vir haar gesê dat hulle haar hele familie se lewens ook sou red. En hulle het dit ook gedoen. Toe die muur van Jerigo later omval deur God se groot krag en die getroue werk van die Israeliete, het Ragab en almal vir wie sy omgegee het deel van die vennoot-mense geword. (Josua 6:23)

Dit het nie saak gemaak wie sy was of wat sy al gedoen het nie, sy sou genade ontvang het by die vennootmense, nie net omdat sy aan hulle genade bewys het nie, maar veral omdat sy wou deel word van God se droom vir die aarde.

 

 

Die  eenheid van die vennoot-mense is baie belangrik in  die  boek Josua.  Hoewel dit ‘n boek vol oorlog is, was die ideaal  om  al die  nasies  as  die  een  volk  van  God  te  verenig.

Soos vroeër genoem was wetsonderhouding belangrik, maar nie belangriker as om met  menslikheid  en  verantwoordelikheid teenoor ander nasies op te tree nie.  Net soos wat God die beloftes na kom wat aan die vennoot-mense gemaak is, naamlik om die land aan hulle  te  gee,  só  moet  die  Israeliete  nou  die  ooreenkomste wat hulle met ’n eed aan die ander gemaak  het,  nakom.    Daar  moet  met  menslikheid  opgetree  word  teenoor buitestaanders.  Hulle moet eerder, sovêr moontlik, deel word van die gemeenskap van God se mense. In sekere opsigte word die verhaal van die vennoot-mense se inname van die Beloofde Land nog ‘n tipe skool. Een waarin hulle leer hoe om saam met ander te lewe en mense vanuit verskillende kulturele, morele en geloofs agtergronde in te sluit by God se plan en gemeenskap.

Eeue later, in die beroemde “geloofshoofstuk” in Hebreërs, is ‘n lys saamgestel van die grootste geloofshelde van alle tye. En raai wie haal die lys? Ragab.

Ragab, wat eers ‘n buitestaander was, word so deel van hierdie gemeenskap, dat sy uiteindelik deel van Jesus se voorgeslag geword. 

 

Daar word in die Bybel rekening gehou van drie Kanaanitiese vroue in Jesus se geslagsregister – Ragab, Rut en Tamar – en daar is nie minder as drie verwysings na Ragab in die Nuwe Testament nie. (Jakobus 2:14-26; Hebreërs 11; Matteus 1)

 

Hierdie verhaal het my weer help onthou wat dit beteken om te leef in God se koninkryk: met waagmoed

 

Ek het in die week ‘n tesis gelees (deur Sheurl Valene Davis) wat die verhaal van Ragab en dié van Krotoa saam lees. Krotao was natuurlik die Khoi vrou wat as vertaler en eintlik ‘n bemiddelaar opgetree het tussen haar eie mense en die setlaars in die 17e eeu. Ook sy het haarself in die middel van twee groepe bevind.
Ek het dit ‘n baie interessante vergelyking gevind.
Beide vroue het die kompleksiteit van mag en patriargie wat die kern van hulle bestaan was, navigeer.

Hulle bevind hulleself tussen ‘n klip en ‘n harde plek. Tussen diegene wat tans in beheer is van die land, en hulle wat die land gaan inneem.
Deur sommiges word hulle vereer as helde. Ander sien hulle as verraaiers. 

Om in die posisie te staan tussen dit wat jy ken, jou eie gemeenskap, en dit waarvoor jy opgeroep word is dikwels ‘n moeilike posisie om in te wees. 

Ragab tree met absolute waagmoed op – ek wil glo gelei deur die Gees. Sy het ‘n tipe fyn-aanvoeling – ‘n belangrike perspektief – gehad, wat haar gehelp het om die groter prentjie te sien en te kon inskakel by God se droom.

Die verkenners het hul eie soort waagmoed in die verhaal. Hulle waag dit om ‘n vreemdeling te vertrou – ‘n prostituut – en maak aan haar die belofte dat hulle haar en haar mense, nie net sal red nie, maar insluit by hulle gemeenskap.

Om deel van God se koninkryk te wees, wil dit blyk, vra waagmoed. Om te doen wat ons glo God van ons vra is waagmoedig. Waarvoor het jy waagmoed nodig?

Dit is dalk maklik om hierdie verhaal te lees asof dit vêr van ons eie realiteit af is, maar wat van die onwaarskynlike mense in ons eie lewens wat God wil gebruik en insluit in die Here planne vir ons en vir hierdie wêreld? Wie is die onwaarskynlike persoon wat vandag in jou gedagtes opkom?
Watter mense / sake / perspektiewe / ideologië in jou lewe moet jy dalk verraai, om God se Koninkryk te eer en te laat kom?