Scroll Top

Tussen verlorenheid en vrede

Miskien kan hierdie verhaal ons in hierdie vreemde tyd in die geskiedenis herinner dat God ons hoor wanneer ons roep, en ter selfde tyd vir ons die moed gee om, in gemeenskap met God, voorentoe te gaan.
Rigters 4 tussen Verlorenheid en vrede

Ons is in Koninkrykstyd. Die tyd van die kerkjaar waarin ons fokus op wat dit beteken om deel te wees van God se Koninkryk. Ironies genoeg speel die verhaal wat ons vanoggend gaan lees af in ‘n tyd voordat Israel ‘n koning gehad het en dus amptelik ‘n Koninkryk was. God was die enigste Koning van die “vennoot-mense,” wat die manna-leefstyl gevolg het.

 

Oor die afgelope weke het ons gelees oor die tydperk waarin, eers Moses, en toe Josua, die leiers van dié mense was. Die boek Rigters speel af in die tyd na Josua se afsterwe. Vir ‘n tydperk van sowat 150-200 jaar was daar geen amptelike regeerders van hierdie groep mense nie. Tog was hulle ook nou nie meer in die Woestyn waar dit net hulle en God was nie, maar tussen ander kultuurgroepe wat ander gode aanbid en ‘n ander leefstyl aangehang het. Hulle het gereeld dit vergeet wat hulle geleer het in die Woestyn en dan begin om die Kanaäniete se manier van leef na te volg. Dan het God leiers, bekend as rigters, gebruik om hulle te red en in die regte koers te stuur. God gebruik individue – van die geringstes (Gideon) tot die magtige en sterkstes (Simson), van wyse vroue (Debora) tot skelm mans (Ehud).

As Rigters, en ook die verhaal wat ons vandag gaan lees, ‘n fliek was sou dit waarskynlik ‘n ouderdomsbeperking van 18 (of minstens 16) gehad het. Dit is ‘n verhaal vol intrige, geweld, verleiding en oorlog. Rigters is grusaam.

As jy met ander woorde graag programme soos Game of Thrones kyk, is hierdie ‘n Bybelverhaal vir jou.
Tog verwag ons hierdie tipe stories op die TV of in films, maar nie noodwendig in die Bybel nie. Die verhale maak gelowiges soms ongemaklik juis omdat dit in die Bybel en die teenwoordigheid van God afspeel, maar daar is tog iets eg daaraan. Die Bybel is eerlik oor die realiteite van daardie tyd en van die lewe. Om eerlik te wees, as ons gaan kyk na ons eie geskiedenis, as ons koerante en nuusgebeure volg, dinge wat NOU in die wêreld gebeur, is dit dikwels maar wat ons vind. Hoekom sal ons dit dan nie in die Bybel vind nie?

 

Ek wil ook melding maak daarvan dat ons baie versigtig wees om die rigters se verhale te lees as morele voorbeelde wat ons moet navolg. Ek twyfel of die doel van rigters is om vir ons aan te moedig om ‘n geweldadige oorlog te voer teen almal wat ons of ander onderdruk. Die boek se doel is eintlik heeltemal die teenoorgestelde. Dit is ‘n soort gids vir wat om nie te doen nie.


Die boek Rigters kyk na Israel se geskiedenis vanuit die perspektief van ballingskap baie jare later. Dit help die volk dan om te verstaan hoekom hulle in ballingskap beland het. En dit probeer hulle dalk ook help om weer moed sal skep om verder in gemeenskap met God te leef, ten spyte van hul foute en die aaklige omstandighede waarin hulle hulself dan bevind.
Miskien kan hierdie verhaal vir ons in hierdie vreemde tyd in die geskiedenis dieselfde doen: ons herinner dat God teenwoordig is en dat ook ons kan roep na hulp, en ter selfde tyd vir ons die moed gee om, in gemeenskap met God, vorentoe te beweeg.


‘n Laaste ding wat belangrik is om te verstaan en in ag te neem wanneer ons die teks gaan lees is dat die verhale van die verskeie Rigters, een na die ander, in siklusse uitspeel. Ook in Rigters 4. Dié siklusse loop soos volg:

  • Die Israeliete doen wat “verkeerd is in die oë van die Here”;
  • God gee hulle oor in die hande van hulle vyande om verower en “onderdruk” te word;
  • Die Israeliete “roep om hulp” na die Here;
  • God rig ‘n verlosser op om hulle te red;
  • Daar is vrede vir ‘n tyd

(Lees gerus die beskrywing hiervan in die Genoeg en Genade boek op bladsy 19)

Hierdie siklusse herhaal 6 keer in die boek van Rigters en vorm uiteindelik ‘n afwaartse spiraal. Dit raak al hoe erger en erger, en uiteindelik eindig die boek in ‘n burger oorlog tussen die verskillende stamme nadat afgryslike misdade gepleeg is, wat verkragting en moord insluit.

Aan die begin van Rigters 4 vind ons onsself aan die begin van nog so ‘n siklus.

Lees Rigters 4  


Notas:
Ongeveer ‘n eeu te vore in die tyd van Josua het die koning van Gasor (ook koning Jabin) ook in teenstand gekom met die Israeliete. Josua kon daarin slaag om die stad in te neem en die koning oorwin (Jos 11:1–15). Nou is die rolle omgekeer en word Israel deur ‘n nasaat, ook koning Jabin, oorheers, ‘n hele 20 jaar lank. Veral die hoof van Jabin se weermag het chaos in Israel gesaai met sy 900 ysterstrydwaens.

“Die vrou van Lappidot” – verwys waarskynlik na huwelikstatus, maar die moontlikheid bestaan dat dit ook herkoms kan aandui of vertaal kan word as “vurige vrou.”

 

Ons sien in hierdie verhaal dieselfde siklus wat reg deur die boek plaasvind. Eintlik dieselfde siklus wat herhaaldelik in die Ou Testament… en selfs in die Nuwe Testament plaasvind. (Is dit nie maar ook die siklus van die lewe – en van ons geloofslewe – nie?)
In die Rigtersboek is dié verhaal egter uniek vir ‘n verskeidenheid van redes.

Die eerste natuurlik, is Debora. Die feit dat daar ‘n vroulike leier  in so ‘n patriargale samelewing was, is besonders. Die verhaal gaan teen tradisionele gender-rolle in.
Debora is ook uniek in haar eienskappe as Rigter. Anders as die ander rigters is sy nie in die eerste instansie ‘n militêre leier, of vegter nie. Sy word beskryf as profeet en is letterlik ‘n regter wat mense gehelp het om hulle geskille uit te sorteer. Sy was dus ‘n wyse persoon, wat daagliks op haar pos onder die palmboom gesit en luister het na mense in nood en met vrae. Sy het waarskynlik baie verhale van swaarkry gehoor. Dis ‘n  belangrike element in die verhaal. Debora was naby aan die mense, sy het geweet wat aangaan op voetsoolvlak. Sy het geluister na God se mense en het toe vir God gehoor praat.

Dit laat my dink aan ‘n belewenis wat ek ‘n paar jaar terug gehad het, toe ek ‘n gespreksbyeenkoms bygewoon het oor “Wit Bevoorregting” (White Priviledge). Na die tyd vra ‘n jong blanke man die vraag: “Ek weet nou ek is bevoorreg, maar help my asb, wat kan ek doen?”

‘n Swart vrou in die gehoor reageer toe. Sy was baie ontsteld en het baie sterk oorgekom: “Hoe kan jy dit vra?! Hoe weet jy dit nog nie?!”

Soos meeste mense daar was die man natuurlik geskok deur haar reaksie. Maar ‘n vriendin van my wat in Khayelitsha werk tree toe in en sê: “As jy beweeg in die ruimtes waar soveel ander Suid-Afrikaners beweeg sal jy onmiddelik sien wat gedoen moet word…”
Debora was tussen die mense.

Sy is natuurlik nie die enigste onverwagse karakter in die verhaal nie. Daar is ook Jael, die Keniet. Sy was nie ‘n Israeliet nie, inteendeel, sy was die vrou van Geber met wie se huis die koning wat Sisira dien ‘n vredesooreenkoms gehad het – ‘n ouwêreldse “Switzerland.” Dit was heel waarskynlik ook van hulle wat die Kanaäiete die yster gekoop het vir hul wapens.

Jael vang ons almal onkant met haar onwaarskynlike en geweldadige moord op Sisera met ‘n tentpen en ‘n hamer. Daar is algehele onsekerheid waarom sy dit gedoen het, maar so word sy toe persoon deur wie die Israeliete vrygemaak word van Sisira se wrede onderdrukking.

Wat verder interessant is in Rigters 4, is die samewerking. Ons het ‘n profeet – wat nog ‘n vrou ook is – ‘n weermagleier en ‘n onbekende vrou wat stilletjies (maar integraal) deel word van die storie.

God werk in hierdie verhaal deur ‘n netwerk van mense wat almal ‘n onwaarskynlike rol speel. En soos al die ander Rigters in die boek, is nie een van hulle die perfekte leier nie. Ek weet nie eers of hulle metodes werklik regverdig kan word nie, maar steeds gebruik die God hulle om die vennoot-mense van onderdrukking te red. Na Debora, Jael en Barak se optrede was daar vir 40 jaar vrede gewees.

Wat ongelukkig nie uniek is aan hierdie verhaal nie, is die geweld. Inteendeel is hierdie nie naby aan die ergste verhaal – wat dit aanbetref – nie.

Sisera was ‘n wrede man, onder wie die mense van Israel swaar gekry het. Regverdig dit moord? Nee, nie deur die lens van Jesus nie. [Een van die primêre beginsels van die Genoeg en Genade hermeneutiese lens is dat alles in die Bybel (in die Ou en Nuwe Testament) gelees deur die lens van Jesus.]
Soos ek wel vroeër genoem het, is die geweldadigheid van die verhaal egter nie so vêr verwyder van ons eie land en wêreld se realiteite nie.
Nie baie vêr van waar ons gemeente geleë is nie, is bendegeweld ‘n daaglikse gebeurtenis. Verlede jaar het die president geweld teen vroue en kinders as ‘n pandemie beskryf. En dan is daar natuurlik etlike ander misdade en ongeregtigheid wat nie noodwendig so geweldadig is nie, maar wat wel mense se waardigheid aantas en lewens verwoes.

Sou ons nie vandag ook kon lees: “In dié dae het die mense van Suid-Afrika nie geleef volgens wat reg was in die oë van die Here nie. Daarom het hulle tot die Here geroep na hulp.”

Let wel, dat ek beslis nie ‘n oorsaak-gevolg denkwyse aanspoor of aanhang, waarvolgens elke slegte ding wat gebeur ‘n direkte (sondige) oorsaak het nie.

Eerder, lê die crux van die verhaal vir my daarin dat God ook in die aaklige verhale, plekke en oomblikke van die lewe teenwoordig en betrokke is.  Waar mense moedeloos, uitsigloos en vreesbevange voel. Waar mense roep om hulp (ons ook!). Daar tree God in en raak God betrokke. Daar gebruik God wie ook al tot beskikking is, om die onderdruktes te bevry.

Vir my sê hierdie verhaal iets oor die “messiness” van die lewe: dat God selfs in die moeilikste tye en die mees grusame verhale, deur die mees onwaarskynlike en gebroke mense, kan werk. Nie net deur individue nie, maar deur almal wat doen wat hul hande vind om te doen (soos Jesus sou doen!).

Mag ons in die morsigste van tye onthou dat God ons sal hoor wanneer ons roep.
Mag óns hoor wanneer God óns oproep en wil gebruik om tot hulp te wees van ander.