Josua 1:9 “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God is by jou oral waar jy gaan”
Verlede week het ons die Israeliete – God se vennootmense – in die woestyn agtergelaat. Hulle het ‘n kans gehad om in die Beloofde Land te gaan en twaalf verkenners gestuur om ondersoek te gaan doen. Hulle vind toe dat dit waarlik die land van melk en heuning is, maar tien van hulle was bang vir die “reuse” daar en het God nie 100% vertrou om hulle veilig te hou nie.
Josua en Kaleb, wat in die minderheid was, het gesê hulle moet God vertrou en die land binnegaan.
God besef egter hulle is nog nie gereed om die beloofde land in te gaan nie. Die “lesse” wat hulle in die woestyn geleer het, het nog nie ingesink nie.
Hulle het nog 40 jaar lank in die woestyn rondgetrek en meer geleer oor hoe God se mense veronderstel is om te leef.
Nou is dit 40 jaar later en uiteindelik was Josua en die Israeliete gereed om die land wat God belowe het binne te gaan.
Voor hulle lê – vir die tweede keer – die land en die toekoms waaroor hulle al veertig jaar droom.
Kan jy dit indink? Wat is die langste wat jy al moes wag vir iets?
As ons maar dink hoe lank en vreemd die afgelope jaar was met die inperking, wat in sommige opsigte miskien vir ons soos ‘n woestyntyd gevoel het. Hulle moes so verlig voel om uiteindelik weer die beloofde land helder voor hulle te kon sien.
Maar soos dit dikwels vir die Israeliete was, was daar eers ‘n struikelblok om te oorkom. Tussen hulle en die land van melk en heuning lê die Jordaanrivier. Die rivier is diep en dit vloei te vinnig. Soos jare gelede toe hulle voor die rooi see gestaan het word hulle weereens herinner: “Wanneer ons beweeg van ‘n ou manier van doen en bestaan na ‘n nuwe lewe, is daar gewoonlik hindernisse in ons pad wat dit onmoontlik laat voel om vooruit te gaan.
Maar die keer kan hulle mekaar herinner dat God by hulle was toe hulle deur die see moes trek. Die rivier – selfs in volle vloed, kan mos nie so erg wees soos die see nie.
Soms moet ons die verlede onthou om die hede in perspektief te sien.
Lees Josua 4
Die Israeliete is uiteindelik in die beloofde land. Hulle het, met God se hulp, die groot probleem wat in hulle pad was oorkom.
Ek wonder hoe het hulle gevoel in daardie oomblik? Het jy al iets soortgelyk gevoel?
Dis asof God vir hulle sê: “Wag, wag wag. Pause net vir ‘n oomblik en besef wat hier gebeur het. Vat ‘n oomblik om dit te laat insink; om teenwoordig te wees. Drink die oomblik in en merk dit dan op ‘n baie spesiale manier, sodat julle dit nooit sal vergeet nie.”
“Bou ‘n altaar, sodat julle kinders sal vra wat hier gebeur het en hulle dit nooit sal vergeet nie.”
Wat is die verskil tussen ‘n monument en ‘n altaar?
‘n Altaar is nie maar net daar as ‘n herinnering nie, maar spesifiek plekke of oomblikke van aanbidding. ‘n Altaar is ‘n merker wat ons nie maar net help om gebeurtenisse te onthou nie, maar juis ‘n herinnering aan wat God gedoen het. ‘n Altaar is ‘n teken van God se nabyheid en sorg; van dit wat God ons wou leer deur daardie gebeurtenis. Dit word opgerig sodat ons kan onthou Wie God is.
Soos die Israeliete, wil ek vra dat ons moet vandag vir ‘n oomblik pause. Neem ‘n oomblik om te dink oor dit wat agter ons lê en wat God vir ons gewys of geleer het.
Wanneer die Israeliete hulleself bevind in die ruimte tussen die moeilike tyd wat agter hulle lê en dit waaroor hulle so lank al droom – hulle toekoms, hulle beloofde land – gee God vir hulle die opdrag om ‘n altaar te bou.
Dit voel vir my in verskeie opsigte of ons onsself in so ‘n tussen-in ruimte bevind. Ons het kollektief hierdie jaar ‘n vreemde, uitdagende, uitmergelende tyd deurgegaan – waarin ons dalk wel ‘n paar positiewe dinge kan identifiseer, of minstens ‘n klomp nuwe dinge geleer het oor onsself, ons wêreld, die mense rondom ons. En hoewel dit nog nie heeltemal agter ons is nie, is die belofte van ‘n nuwe dag tog voor ons.
Ons land is in ‘n ruimte tussen wat was (Apartheid en die rimpeleffekte daarvan) en die droom van dit wat voorlê: ‘n Gedeelde toekoms waar ons in vrede kan saamleef. Dis nou, as ons net deur ons eie Jordaan-riviere van misdaad en geweld; vele vorme van korrupsie; onwilligheid om foute te herstel ensovoorts, kan kom.
Ook dit kan ons nie sonder God doen nie.
Dalk is jou gedagtes vandag by die persoonlike woestyn-tye wat jy tans beleef, of reeds deurleef het?
Wat is jou weergawe van die beloofde land wat vandag op jou hart gedruk word?
Miskien moet ons in ons eie tussen-in oomblikke oppad daarheen – meer altare oprig. Dit hoef nie fisiese altare te wees nie, maar dalk moet ons elke nou en dan (soos die Israeliete) vir ‘n oomblik stil word/stil staan, en God se krag en nabyheid erken te midde van uitdagings wat vir ons onmoontlik lyk. Óf wanneer ons deur die moeilikste is, ‘n oomblik neem om raak te sien wat God reeds gedoen het.
Ons het verlede jaar juis ‘n reeks gedoen oor hoe alledaagse plekke, dinge en gebeurtenisse, altare in ons lewens kan wees, wanneer ons God se teenwoordigheid daarin erken. Wanneer ons alledaagse dinge doen met die wete dat God by ons is.
Dit sal inspanning van ons vra, maar ons kan intensioneel vir onsself sulke merkers of oomblikke skep: altare van ons eie.
Dagboek ‘n tyd – vroeg in die oggend of in die aand voor jy gaan slaap (of enige tyd tussenin). Miskien is daar ‘n boom waaronder jy kan gaan sit of ‘n plek in jou huis wat spesiaal is; elke keer as jy tee drink; of iets wat jy op jou spieël kan plak.
Die moontlikhede is eindeloos.
As jy baie letterlik wil wees, tel ‘n klip op en sit dit iewers buite of selfs in jou huis waar jy dit gereeld kan sien.
Onthou elke keer as jy daarby verby stap, dat God by jou is net soos wat God saam met
die Israeliete was. Jy kan elke keer ‘n klip bysit wanneer jy ‘n spesiale ervaring van God
se teenwoordigheid/sorg gehad het en dit wil onthou.
Enigiets wat jou herinner om ‘n oomblik stil te staan, God se nabyheid te erken, te ontdek hoe God jou bygestaan het of hoe jy dalk op daardie tydstip hulp nodig het, kan as ‘n altaar dien.
Wat wil jy vandag by die altaar neersit?