Ons glo Pinelands Gemeente is ʼn tuiste vir almal. Daarom het ons oor die jare ons rol as ʼn bondgenoot van LGBTQI+ mense verwelkom.
By tye moes ons as gemeente standpunt inneem en lament, soos toe ons in 2016, in protes teen diskriminerende besluite van die NG Kerk, ʼn verklaring uitgereik het wat bevestig dat “álmal by dié gemeente ewe welkom is om as gelowiges die roeping wat hulle van God ontvang het, heelhartig uit te leef – of dit nou is om as lidmaat, kerkraadslid, predikant of in enige ander leidinggewende rol die gemeente en die gemeenskap tot diens te wees.”
Tóé moes ons as gemeente jammer sê oor die “diepe seer wat die NG Kerk met hierdie besluite mense aandoen – nie net gays nie, maar ook hul ouers, hul broers en susters, hul kinders en hul breër familie- en vriendekring.”
Hiérdie week het ons egter ook iets om te vier en oor dank te betuig. Bianca Truter-Botha en Louis van der Riet, twee van ons gereelde predikers, het verlede week ʼn unieke en spesiale geleentheid bygewoon. Ook Charlene van der Walt, welbekend en geliefd in ons gemeente, was teenwoordig.
Charlene beskryf die byeenkoms so: “Vir die eerste maal in die NG Kerk se lang reis met menslike seksualiteit, is daar ʼn ruimte geskep vir LGBTQI+ mense wat ʼn roeping tot bediening in die NG Kerk deel om by mekaar te wees vir ʼn tyd van besinning en sorg. ʼn Groep van twintig mense het by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit saamgekom om te reflekteer, leer, treur, en vier. Alhoewel elkeen se pad en verbintenis met die NG Kerk uniek is, kon ons saam besin oor die pad wat ons individueel en kollektief geloop het as LGBTQI+ mense met ʼn roeping in die NG Kerk. Ons het geluister na stories van miskenning, verlies, skaamte, en seer. Ons het ook verhale van versoening, genesing, en herstel gevier.”
Die inisiatief en uitvoering van die geleentheid het van LGBTQI+ mense self gekom. Dit is bemoedigend, want vir te lank is daar in die kerk net oor mense gepraat eerder as om saam te praat. Daarom is dit vir ons almal ʼn gawe. Louis sê: “Ons deel die nuus van hierdie byeenkoms, nes ons lewensverhale, as getuienis met ander in die NG Kerk as geskenk, en ook as ʼn uitnodiging om ons teenwoordigheid aan die nagmaaltafel te erken, te eer, en te vier.”
Louis vertel verder: “Deur video-onderhoude het ons ons egte stories van roeping, die integrasie van seksualiteit en spiritualiteit, en ons eie ‘uitkom’ prosesse vasgevang. Ons het ook saam gedink oor hoe herstellende prosesse vir ons, ander LGBTQI+ mense, en die NG Kerk sal lyk. Ons het saam gedroom oor hoe ʼn inklusiewe geloofsgemeenskap sou lyk waarin almal te midde van diversiteit gevier en verwelkom sou word. Hierdie verhale sal binnekort in ʼn digitale argief vrylik beskikbaar gemaak word vir almal om na te luister en om oor te besin.”
Sodra die argief beskikbaar is, sal ons dit in die gemeente deel. Ons is dankbaar vir Louis, Charlene en Bianca se getuienis en vir die geleentheid om hulle in hierdie belangrike werk te ondersteun. Om verder te gesels, kontak gerus vir Louis (rlouisvdr@gmail.com), Charlene (VanDerWaltC@ukzn.ac.za) of Bianca (biancatruterbotha@gmail.com).
(Die byeenkoms is gereël deur ʼn vennootskap tussen NG Kerk ATLAS, NG Wes-Kaapland (Taakspan Gendergeregtigheid en STLAS), en Inclusive & Affirming Ministries (IAM). Foto’s deur Alexa Sedge.)