Kinderoomblik
Soms breek iets of ons kry seer en dan moet dit reggemaak word. Ons noem dit herstel. Soms is daar goed in die wêreld wat ook gebreek is of herstel moet word soos bv. verhoudings, skepping, ons optrede. God herstel en ons noem dit genade.
Maar herstel en genesing kan slegs plaasvind wanneer ons eerlik is oor ons wonde. As ons ons wonde probeer wegsteek, dan raak dit gewoonlik net erger.
Waarskuwing
As ‘n ervaring van déjà vu jou beet kry, of die gedeelte redelik vars in die geheue voel, is dit waarskynlik omdat ons verlede week Johannes se weergawe van hierdie gebeure saam gelees het. Een van die interessante elemente van hierdie verhale is dan ook juis, die herhaling – oftewel die patroon – daarvan.
Hoewel sommige besonderhede van Johannes en Lukas se verskyningsverhale verskil, is die patroon van hul vertelling (ook Jesus se verskyning aan die Emmausgagers in die voorafgaande perikoop) deurgaans dieselfde: .
- Verskyning: Jesus is verskyn uit die niet
- Verwarring: Die dissipels is bang/verward en onseker
- Vredesgroet: Jesus groet hulle (dikwels met die woorde “Vrede vir julle!”)
- Verduideliking: Hy poog om Homself aan hulle bekend te maak
- Gas(V)ryheid en Vertroudheid: Daar word geëet, brood gebreek en op verhoudings beroep
- Verstaan: Mense sien, hoor, voel en besef; harte brand; hulle herken vir Jesus; daar is ‘n openbaring en hulle word uitgestuur
- Verlaat: Jesus gaan weer
Let of julle dié patroon kan raak sien in die teksgedeelte.
Verskyning, verwarring en… vrede(?)
Die verhaal begin op ‘n baie ironiese noot. Jesus se vredesgroet het totaal die teenoorgestelde uitwerking. Die dissipels, wat reeds vrees vir hul lewens vir die gevare (lees: Romeine en Sanhedrin), is nog meer beangs en verskrik wanneer Jesus skielik tussen hulle staan.
Dis tog seker te verwagte? Kan jy jouself in hulle posisie indink?
Die vrede wat Jesus hulle toewens dra in ieder geval ‘n veel dieper betekenis as bloot ‘n woord van troos en kalmering in die oomblik.
Die Griekse woord wat in die gedeelte gebruik word, is ‘ειρενέ’, en hoewel dit as ‘n groet dien dra dit ook ‘n wyer betekenis van vrede tussen nasies en individue (harmonie) en welsyn.
In Jesus se spreektaal (Aramees of Hebreeus) sou “שלרם” (shalom) die eweknie wees, wat ‘n groet is, maar ook ‘n gevoel van tevredenheid, volledigheid, heelheid en harmonie uitdruk.
Dit is dus moontlik dat Jesus nie net vir hulle vrede in daardie oomblik tussen mekaar toewens nie, maar ook besig is om die Koninkryksdroom te bevestig.
Verduideliking
Om hulle tog ook in die oomblik gerus te stel, en hulle weer in beweging te bring nadat Jesus se kruisiging hulle tot stilstand geruk het verseker Jesus hulle: “Ek is (Ek/Hy)”
Hy weet egter woorde is nie genoeg nie en bied daarmee saam vir hulle twee konkrete tekens:
- Sy hande en voete (bene en vleis) – sy wonde.
- Hy vra hulle iets om te eet en geniet ‘n stuk geroosterde vis
Soos ekself wonder julle dalk ook: waarom juis hierdie tekens?
Kyk na my hande en voete… Vat aan my en kyk
Eerstens, waarom dra die verheerlikte Jesus, Christus wat die dood oorwin het, steeds die wonde van die Kruis op sy lyf?
Die mees algemene interpretasie van die teenwoordigheid van Jesus se wonde na die opstanding en dat Hy dit ontbloot, is dat dit ‘n teken is wat sy identiteit bevestig en Christene verseker dat hul geloof nie tevergeefs is nie.
Dit is natuurlik ń baie geldige interpretasie, maar dalk bied Jesus se wonde vir die dissipels en vir ons meer as slegs die bewys dat Hy die Christus is.
Wat wil dit aan ons oordra dat Jesus vanuit die diepe duisternis van die graf, sy wonde met Hom saam na die lig toe; van waar dit begrawe was na waar ander daarna kan kyk en daaraan kan voel?
Wat is die betekenis daarvan dat Jesus sy wonde oopstel en Homself so blootstel daar waar sy geloofsfamilie byeen is?
Die Teoloog, Shelly Rambo, stel voor dat ons die wonde wat Jesus met Homself saamdra, deur die lens van trauma lees. So kan dié wonde, volgens haar, nie net tekens van die dood wees nie, maar aanduiders van hoe om met die lewe vorentoe te beweeg.
Wanneer Jesus sy wonde ontbloot – aan die dissipels en die wêreld – word dit bevestig dat wonde nie net verdwyn nie; dat ons die skade van die verlede met ons saamdra en dat daar werk is om te doen om daardie wonde te herstel sonder om dit uit te vee.
Oor verwondheid skryf Henri Nouwen:
“Nobody escapes being wounded. We all are wounded people, whether physically, emotionally, mentally, or spiritually. The main question is not “How can we hide our wounds? so we don’t have to be embarrassed,” but “How can we put our woundedness in the service of others?” When our wounds cease to be a source of shame, and become a source of healing, we have become wounded healers.”
Ek glo die Brené Brown – bekend as dié kenner oor “vulnerability & shame,” kan ons help hiermee.
(Terloops, die Latynse woord “vulnus” beteken “wond” en is waar die woord
vulnerability vandaan kom, terwyl die Griekse woord vir wond “stigmata” is,
waar “stigma” vandaan kom.)
Vanuit haar navorsing dui sy aan dat ware konneksie (verbintenis) plaasvind wanneer ons dit kan regkry om kwesbaar/broos te wees in mekaar se teenwoordigheid – d.w.s wanneer ons bereid is om ons eie verwondheid op die tafel te sit eerder as om dit in skaamte te probeer wegsteek. Nie net ons fisiese wonde nie, maar ook ons emosionele en psigiese wonde.
Dit is miskien belangrik om onsself te herinner dat Jesus nie net die fisiese wonde van die kruis toegedien is nie, maar ook die wonde van skaamte, sosiale isolasie en openbare vernedering. Slegs 3 dae voor Hy homself hier so bloot stel voor die dissipels is Hy in die openbaar kaal uitgetrek, gespot en voor die hele stad aan die kruis vasgespyker, en deur hierdie selfde groep mense verlaat.
En ten spyte van dit alles staan Hy in al sy verwondenheid tussen hulle en sê: “vat en kyk”
Iets om te eet
Weereens is daar ‘n tikkie ironie in die feit dat dit die ontblooting van Jesus se wonde is wat vir die dissipels vreugde bring.
Te midde van daardie vreugde en ongeloof vra Jesus vir iets om te eet. ‘n Gebaar wat nog sterker bevestig dat Hy in ‘n menslike liggaam met menslike behoeftes is – nie los van sy liggaam nie en nie ‘n gees nie.
Terselfdetyd, bevestig dit dat dit die Jesus wat hulle ken en liefhet.
Om te eet is volgens Lukas se evangelie so deel van wie Jesus is, dat dit selfs die onderwerp van die skinderstories word wat oor Hom die rondtes doen. In Lukas 7:34 sê Jesus self:
“En die Seun van die Mens het gekom en geëet en gedrink, en julle sê ‘Kyk, hy is ń vraat en ‘n suiplap, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’”
Wanneer mense nuuskierig is oor wie hierdie Jesus is, en wil leer oor die Koninkryk van God, nooi hulle Hom vir ete. So lees ons hoe Jesus eet saam met Levi die tollenaar en sy sondaar vriende; saam met Simon die Fariseër en die “slegte vrou op die dorp” wat sy voete met haar trane was; aansit tuis, by Martha en Maria; saam met sy verraaier brood breek; en na die opstanding saam met die Emmausgangers en uiteindelik al die dissipels eet.
En sonder uitsondering word hierdie maaltye gevolg deur ‘n openbaring van wie Jesus of die Koninkryk is.
Miskien is dit hoekom die dissipels eers glo en besef dat dit waarlik Jesus is nadat hy aangesit het vir ete.
Hulle verstaan en word uitgestuur
Wat beteken dit vir ons dat die dissipels Jesus eers ten volle kan herken wanneer Hy vir hulle sê hy is honger; wanneer hulle vir Hom van hulle kos gee om te eet; wanneer sy broosheid (nie net sy verwondheid nie, maar ook sy hongerte) en hulle gasvryheid kruis?
Jesus verstaan die dissipels se angs en seer – hul eie wonde – en gaan ontmoet hulle daar waar hulle is sodat Hy hulle kan help om deur hulle vrees te beweeg: deur te kyk, te voel en te ervaar en eers daarna te kan luister en verstaan.
Hy daag op, in ‘n liggaam; in vlees en bloed; verwond en honger. En wys dit alles vir sy vriende.
En God gebruik hierdie wonde – hierdie seer en honger liggaam – om ‘n gemeenskap te herstel wat voor dit in vrees geleef het.
Gee dit dalk vir ons ‘n leidraad oor wat dit beteken om gestuur te word om getuies van die lewende, verwonde Jesus te wees?
Kan dit dalk ook ń aanduiding wees van hoe ons vrede (heelheid en harmonie) kan bring en beleef?
Is dit verregaande om te dink dat dit dalk juis is wanneer ons bereid is om ons eie wonde te wys of om ons hongerte te deel en iets te ete ontvang, wat ander God deur ons ontmoet?
Of dat dit dalk is hoe God aan ons openbaar word: in die wonde van ander; wanneer iemand by ons aansit om te eet of vir ons vra “is hier iets om te eet”?
Hoe kan ons ook mense in hul eie angs en verwondheid ontmoet en hulle uitnooi na ‘n proses van herstel?
En hoe kan ons openheid oor ons eie wonde ons help om dit te doen?
Sela.
Respons:
Geloofsbelydenis
G: Ons glo in God die Almagtige,
V: Skepper van die hemel en aarde;
Skepper van alle nasies en kerke;
Skepper van alle tale en rasse.
G: Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Here,
V: God wat vlees geword het as ‘n mens vir die mensdom,
God wat vlees geword het in tyd vir alle tye,
God wat vlees geword het in een kultuur vir alle kulture,
God wat vlees geword het in liefde en genade vir die hele skepping.
G: Ons glo in die Heilige Gees
V: deur wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid bekend maak deur ons as mense en ons kulture,
deur wie God, die Skepper van alles wat bestaan, ons nuwe skepsels maak,
wie se oneindige gawes ons een liggaam maak: die Liggaam van Christus.
G: Ons glo aan die Kerk
V: wat universeel is omdat dit die teken van God se heerskappy is,
wie se getrouheid in al sy skakerings getoon word,
waar al die kleure saam net een landskap teken,
en alle tonge dieselfde lof besing.
G: Ons glo in die Heerskappy van God – die dag van die groot Fiesta
V: wanneer al die kleure van die skepping ‘n harmonieuse reënboog sal vorm,
wanneer alle mense sal deelneem aan ‘n vreugdevolle feesmaal,
wanneer alle tonge van die heelal dieselfde lied sal sing.
G: En omdat ons glo, verbind ons ons
V: om te glo vir hulle wat nie glo nie,
om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie,
om te droom vir hulle wat nie droom nie,
tot die dag wanneer hoop ‘n werklikheid word (Spaanse Geloofsbelydenis).