or die afgelope jaar het daar verskeie artikels verskyn wat berig het dat, hoewel vele ander industrieë baie swaar kry as gevolg van Covid-19, die huis opknappingsbedryf seëvier. Skielik bring mense soveel meer tyd in hul huise deur en daarom wil hulle dit so mooi, veilig, funksioneel en gemaklik as moontlik hê. Mense (ek inkluis) heg baie waarde aan hul wonings – vir ‘n verskeidenheid van redes.
[Waarom is jou huis en waar jy woon vir jou belangrik?]
Julle sal onthou dat ons verlede week gelees het dat die vennootmense ‘n koning wou hê. Dawid – sekerlik een van die mees bekende konings van Israel – kom in die tyd van Israel se eerste koning, Saul, op die toneel as ‘n nederige skaapwagter. Teen die tyd waarin vandag se teks afspeel, was die dae van in die veld of ‘n kraal slaap, vêr verby. Dawid was die koning van Israel
en volgens die Bybel, ‘n man na God se hart. Dié van julle wat sy verhaal goed ken sal weet hy was egter nie sonder foute nie. Inteendel. Tog, het hy gepoog om volgens God se wil te leef en die Here geraadpleeg in die dinge wat hy aangepak het. Sy berou oor sy foute was eg en sy aanhoudende soeke na God se wil is die hooftema van sy lewe.
(Hierdie) Die laaste vers van hierdie gedeelte is die refrein wat vandag se teks omspan. In die eerste verse van die hoofstuk word die agtergrond geskets waarteen die verhaal gaan afspeel nl. die koning is gevestig in sy paleis en die Here het hom rus gegee van al sy vyande. Rus is ‘n baie belangrike tema in die Bybel wat gereeld in belangrike oomblikke van die verhaal voorkom. God het die aarde geskep en toe het die Here gerus. God het ‘n spesiale rusdag ingestel sodat mense kan en moet rus. Jesus self het dikwels gerus en in hierdie verhaal gee God – as geskenk – vir Dawid rus.
***
Maar Dawid kom nie tot ruste nie, want hy het die begeerte om vir die Here ‘n huis te bou. Die motivering is dat hy in ‘n huis woon wat met sederhout gebou is, maar die ark van God staan in ‘n tent. Letterlik staan daar dat die ark van God (die simbool van God se teenwoordigheid) tussen seile of velle staan. Aan die ander kant was sederhout in daardie tyd die top punt van luuksheid en rykdom. Die sederwoude van Libanon was volgens Kanaänitiese mitologie beskou as die woonplek van die gode en sederhout is deur konings ingevoer om hul rykdom en status te vertoon. In die Bybel word koninkryke ook dikwels as sederbome beskryf (Eseg.17). Ellen Davis beskryf dan ook die aroma van sederhout as die reuk van mag.
Dawid besluit daarom dat sy weelderige paleis en God se tent van bokvelle nie akkoord gaan nie. Hy wil verseker dat God se “woning” darem op dieselfde vlak as sy eie sal wees.
Dit was ‘n algemene gebruik in daardie tyd dat konings uitspattige wonings vir gode op die hoogste punte van die koninklike stad sou bou om die prag en majesteit van hul gode te weerspieël. Dawid se versoek sou dus geskikte optrede wees vir ‘n nuwe koning wat sy God wou eer.
Walter Breuggemann skryf egter dat die begeerte van Dawid om vir die Here ‘n tempel (huis) te bou ‘n mengsel is van opregte vroomheid en selfverheerliking. ‘n Teken van dankbaarheid en eerbied aan God, maar terselfde tyd ‘n simbool van status en rykdom wat ooreenstem met dié van ander nasies.
Omdat hy darem wil seker maak dat dit God se goedkeuring wegdra, raadpleeg hy die profeet Natan oor sy plan. Dis interessant dat Natan aanvanklik sy seën oor die projek uitspreek, sonder om te veel daaroor na te dink.
Maar, soos julle in die verhaal gesien het, het die Here die profeet vinnig gekorrigeer.
Dawid se plan was dalk goed bedoel, maar só naïef! Ander gode mag dalk van hul mense verwag om vir hulle weelderige wonings te bou, maar die Here het tog reeds oor en oor bewys: Israel se God is nie soos die ander gode nie.
***
God se antwoord aan Dawid is iets soos: “Dankie, maar nee dankie.” Twee redes hiervoor staan uit in die teks:
1.God is die Een wat die bouwerk doen.
Dit is God wat die inisiatief neem en die Here is nie afhanklik van enigiets wat Dawid of die vennootmense vir Hom doen nie. Dit beteken nie dat ons deelname aan God se werk nie belangrik is nie, maar God herinner hier vir Dawid Wie nou eintlik vir wie sorg. God se heerlikheid lê nie in strukture (‘n eie huis) of getalle of meetbare suksesse nie, maar in God self. God se sorg is altyd meer as wat ons vra. Dit is nie ons wat vir onsself of vir God sorg nie. Dit is nie ons wat die kerk aan die gang hou en die wêreld ‘n beter plek maak nie, dit is en bly God.
Die frase “Here van die leërskare” is ‘n belangrike leidraad en ‘n grammatikale konstruksie wat dikwels in die Ou Testament tekste gebruik word. Dit is ‘n term wat die heerskappy van God oor alle skepsels uitdruk, wat selfs die son, maan en sterre en die aarde self insluit. Die frase beklemtoon dus Dawid se wanpersepsie dat hy die een in die magsposisie is wat vir die Here sorg.
Let ook op dat Dawid in verse 1-3 “koning” genoem word, maar wanneer God met Dawid praat, word hy as “My dienskneg” aangespreek. Dit is asof God vir Dawid ‘n nuwe visie wil gee van wat sy rol werklik is. Al is Dawid die koning, is hy in vergelyking met God, net ‘n dienskneg. Al lyk die tent vir Dawid minderwaardig, is God soveel meer as geboue en simbole.
2.God heg nie waarde aan die dinge waaraan Dawid waarde heg nie.
Soos een teoloog geskryf het: “This was a good thing, but not a God thing.”
God het nooit vir ‘n huis gevra nie en het eintlik nog altyd eerder saam met mense beweeg. Die Here kan en wil nie in geboue of ruimtes wat met mensehande/planne gemaak is, ingeperk en vasgevang word nie. Die Here kom eerder tuis in mense se lewens as in geboue en strukture.
[Dit is dalk ‘n belangrike punt om te onthou in hierdie tyd, waar dit nie altyd moontlik is om in geboue byeen te kom vir aanbidding en eredienste nie]
Hoewel die Hebreeuse woord vir huis (bayit) deurgaans gebruik word, is die huis waarvan God praat en die een waarvan Dawid praat twee verskillende konsepte. Die Here wil nie in ‘n huis van sederhout woon nie. Daar is ‘n ander huis waarin God wil woon. Die huis wat God wil oprig is nie ‘n fisiese huis van hout en klip nie. Huis verwys hier na die nageslag van Dawid en God se familie.
God herinner Dawid dat God se wese en teenwoordigheid nie gekoppel is aan fisiese geboue nie, maar aan die getrouheid en genade wat God oor en oor bewys. Die belofte wat God hier aan Dawid maak (bekend as die Dawidiese verbond) bring hoop vir toekomstige geslagte.
Hierdie belofte sou, eeue na Dawid se lewe, ‘n belangrike rol tydens die ballingskap speel. In ‘n tyd waarin die mense van God baie swaar gekry het en dikwels verlate gevoel het, was hierdie belofte een waaraan hulle kon vashou, nl. dat God nie in huise woon wat deur mense gemaak is nie, maar oral waar God se mense is.
Hierdie verhaal sou hulle herinner dat God se planne dikwels anders is as wat mense dink en dat tekens van God se teenwoordigheid anders lyk as ‘n tempel of fisiese ruimte.
Dit dui aan dat God die eintlike handelende Persoon in die geskiedenis is en die belofte bereik uiteindelik ‘n hoogtepunt in die geboorte van Jesus van Nasaret, toe die engel verklaar “Die Here God sal aan hom die troon van sy voorvader Dawid gee” (Lukas 1: 32b).
***
Soos in Dawid se geval kan ons idees en verwagtinge van God soms foutief wees.
Een van my gunsteling liedjies van Stef Bos is Lied van God waarin hy sing hoe verskillende mense en groepe iets maak van God, wat God eintlik gladnie is nie.
Die spanning ontstaan wanneer ons ons behoeftes op God projekteer. Deur Natan, herinner God vir Dawid aan wie en hoe God is – alomteenwoordig, nie gebind tot een plek nie, nie ‘n “genie in a lamp” nie, maar ook nie so hoogdawerend om nie gelukkig te wees met ‘n nederige tent nie.
Die verhaal maak dit duidelik: God kan nie beperk word deur ons idees oor Wie God is, wat God wil hê, óf wat ons graag wil hê God moet doen nie. God kan nie in ‘n gebou of ‘n definisie vasgevang word nie. Die Here is soveel groter as wat ons ooit kan dink of droom.
Ons het ‘n paar weke gelede Efesiërs 3:20 saam gelees wat sê: “(God) wat in ons werk, is magtig om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink”.
Hierin lê tog ook ‘n groot waarskuwing. Ons kan so maklik besluit om dinge te doen omdat dit vir ons belangrik en selfs twv God lyk en klink, sonder om God te raadpleeg.
Die verhaal bring ook ons ongemak met ons omstandighede na vore. Ons hunker dalk na antwoorde en die verskyning van God in ons omstandighede. Ons smag na God se beloftes van trou en versorging. Ons smag na God se teenwoordigheid. Ons wil God en God se teenwoordigheid dalk op ‘n manier probeer vasvang wat vir ons sin maak in hierdie tye.
Miskien is dit belangrik om te onthou wat God aan Dawid duidelik maak in hierdie verhaal: God gaan saam met ons oral waar ons gaan, in alle omstandighede wat ons binnegaan.
God beweeg voortdurend in hierdie teks (v.6, 7, 8, 9). Dit wys dalk dat die lewe saam met God eerder ‘n reis as ‘n vestiging is. Ook Jesus was voortdurend aan die beweeg, na sommige mense toe en saam met ander. God beweeg saam met ons deur die lewe – beide deur die donkerdieptes en die groenste weivelde.
***
Dawid het miskien aanvanklik die kat aan die stert beet gehad, maar sy reaksie op God se antwoord was besonders. Later in die teks (vers 18) lees ons dat Dawid gaan sit by God – voor God se aangesig.
Ons vergeet soms hoe belangrik dit is om soos Dawid voor die Here te gaan sit en vol te word van God se teenwoordigheid.
Dit is nie nodig vir ons om spoggerige wonings te bou nie – wat ook al die ekwivalent daarvan in jou lewe is. God wil eerder vir ons opbou. Miskien is dít wat ons in hierdie teks moet hoor tydens hierdie pandemie en die vele ander hartverskeurende dinge wat aan die gebeur is in die wêreld. Hierdie woorde aan Dawid en die herinnering daaraan dat God ons nie nodig het om bouwerk te doen nie. Dalk is wat die Here eintlik wil doen om ons tot rus te roep. Ons mag dalk, soos Dawid, so besig wees met ons eie planne en idees, dat ons die geskenk van rus wat God vir ons wil gee, miskyk.
“Wanneer het ek ooit van jou (al hierdie dinge) geëis?” vra die Here. “Ek gaan met jou oral waar jy gaan.”
“Ek sal jou rus gee.”