Scroll Top

Waarheen nou?

Ons kan onsself goed indink dat Jesus se dissipels, na Sy opstanding, gekonfronteer is met ‘n klomp vrae en worstelinge. Dieselfde vrae waarmee ons ook dikwels gekonfronteer word - nie net in die lig van die opstanding nie, maar ook tydens ons eie krisis tyeWat beteken daardie metafoor vir ons vandag?
Matteus 28:16-20 waarheen nou?

‘n Gebed van Anselmus

Here God, skenk aan ons genade, om U te begeer met ons hele hart; om te smag na u stem met alles wat in ons is.

Rig ons hart en ons gedagtes op die dinge wat U rééds gedoen het, en op dit wat U belowe het om nog te doen, sodat ons vreugde kan vind in U en in u beloftes. 

Leef in ons en help ons om in U te lewe.

Here, ons kom by U tot stilte,

ons rus in U, o Gees. Ons soek u aangesig.

Praat vanoggend met ons deur u Woord. 

Amen

 

Ons bevind onsself steeds in Paastyd. Die tyd waarin ons hoofsaaklik fokus op die betekenis van Jesus se opstanding uit die dood. Met die uitsondering van Goeie Herder Sondag verlede week, het ons oor die afgelope paar weke aandag gegee aan die verhale waarin Jesus, na sy opstanding, aan die dissipels verskyn het. Vandag gaan ons een van die bekendste van dié verhale saam lees  uit Matteus 28:16-20.


Ons kan onsself goed indink dat Jesus se dissipels, na Sy opstanding, gekonfronteer is met ‘n klomp vrae en worstelinge. Dieselfde vrae waarmee ons ook dikwels gekonfronteer word – nie net in die lig van die opstanding nie, maar ook tydens ons eie krisis tye, soos die afgelope jaar waarin ons lewens so totaal tot stilstand geruk en omgekeer is.

Drie vrae wat onderliggend baie sterk voorkom by die dissipels na die opstanding en waaroor ons onsself dalk ook soms afvra is:

  •         Wie is ek?
  •         Wie is God/Jesus?
  •         Wat moet ek nou doen?

Hou gerus hierdie vrae ingedagte wanneer ons vanoggend se teks saam lees.

 

Lees Matt.28:16-20

 

Soos ek vroeër genoem het is hierdie natuurlik ‘n baie bekende teks, wat ook gereeld gebruik is (en steeds gebruik word) om te preek oor sending: “Gaan dan na al die nasies…” Dis ‘n teks wat verseker al ‘n hele aantal mense aangemoedig het om regoor die wêreld te gaan sending-werk doen en die evangelie te gaan verkondig aan mense in ander lande en kontinente. En ek dink nie dis ongegrond nie, maar ek dink tog dat, indien dit al is wat ons in hierdie teks raaksien, ons maklik die kern van hierdie gedeelte, kan mis.

 

Om ‘n beter verstaan van die gedeelte te kweek, moet ons dalk vir ‘n oomblik in die dissipels se skoene probeer inklim. Aan die begin van die hoofstuk verskyn Jesus (na Sy opstanding) aan ‘n groep vroue en gee aan hulle die opdrag dat die dissipels na Galilea moet gaan om Hom daar te ontmoet. 

So gaan hulle na Galilea toe – daar waar hulle roeping begin het en waar die grootste deel van hul bediening plaasgevind het; daar waar hulle geleer het om vissers van mense te wees; waar Jesus die eerste keer vir hulle gesê het: “Volg my!”

 

Hulle kom nie net in Galilea bymekaar nie, maar spesifiek op die berg in Galilea. Dit is belangrik, want in Matteus (en in die Bybel oor die algemeen) is enige gebeurtenis wat op die berg plaasvind gewoonlik baie spesiaal. Dit is dikwels waar God Homself en sy wil aan mense bekend maak. 

Die dissipels word dus terug gebring na die plek waar hulle oorspronklik geroep is, sodat hulle nie net hul roeping nie, maar hul hele reis met Jesus en hulle eie geskiedenis, in die lig van die Paasgebeure kan verstaan. Ook sodat hy hulle opnuut kan oproep, want intussen het daar so baie gebeur.


Dit is belangrik om te onthou dat ons hier te doen het met dissipels wat in baie opsigte hulself teleurgestel het; wat nie daar was toe hulle moes wees nie; wat aan die slaap geraak het toe hulle moes wakker bly; wat Jesus verraai het en in Hom getwyfel het; en wat steeds twyfel. Dissipels wat nooit ten volle begryp het waaroor Jesus se koninkryk werklik gaan nie en wat dikwels dit wat Hy aan hulle probeer verduidelik het misverstaan het. Op die ou end het hulle weggehardloop en gaan wegkruip toe Hy gekruisig is. Ons sien ook dat een weg geval het, want skielik is daar net 11.

Ons lees: “Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.”(v.17)

En ten spyte van die feit dat hulle in soveel opsigte gefaal en drooggemaak het – ten spyte van die feit dat baie van hulle steeds twyfel – kom gee Jesus vir hulle ‘n nuwe roeping.


Jesus kom gee aan hierdie 11 onvolmaakte, gebroke mense die groot opdrag om sy boodskap uit te dra. Aan dieselfde klein groepie mense wat Hom, nie te lank gelede nie, erg in die steek gelaat het, vertrou Hy sy koninkryk en sy skape toe.

Is die kerk nie maar baie soos die dissipels nie?  Is ons almal nie menslik, gebroke, onvolmaak, stukkend, en onseker nie? Tog het God gekies dat Sy kerk en ‘n klomp onvolmaakte, gebroke mense die getuies moet wees van Jesus se opstanding. 

 

Jesus se eerste reaksie op hul aanbidding, al weet Hy hulle twyfel, is: “Aan my is alle mag gegee in die hemel en op aarde.”(v.18) 

Hy fokus nie op hulle gebrokenheid, swakheid, of twyfel nie – Hy fokus op sy eie krag en volmaaktheid. Hy herinner hulle dat dit nie oor hulle gaan nie. Dit gaan nie oor hulle krag nie, maar oor sy krag in hulle – die  krag van die Sy opstanding. 

Eers dan, nadat Hy dit aan hulle bevestig het, gee Hy sy opdrag: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”(v.19-20)

 

Dit is Jesus se finale opdrag aan sy dissipels en per implikasie ook aan ons; en dit word daarom dikwels beskryf as “die groot opdrag.” Maar wat vra hierdie opdrag werklik van die dissipels en van ons? Moet ons dan almal sendelinge word in ver afgeleë lande?

 

Interessant is die volgende: Daar is 4 werkwoorde in hierdie opdrag nl. “Gaan”/ “maak dissipels” / “doop hulle” / “leer hulle.” Iets wat ons egter nie in die Afrikaanse vertaling kan sien nie, maar wat in die Grieks baie duidelik is, is dat klem in hierdie opdrag baie duidelik val op die woord wat vertaal word met: “maak dissipels.” Dit is die kern van hierdie opdrag. Die klem val dus nie daarop om te “gaan” nie, maar om te “gaan met die doel om dissipels te maak.” En hoewel ons dikwels “alle nasies” verstaan as ander volksgroepe/lande/kontinente gaan dit nie soseer daaroor dat ons daarheen moet gaan om dissipels te maak nie. “Alle nasies” is ‘n Bybelse term wat verwys na “die hele mensdom” of “die hele aarde.” En wat Jesus daardeur sê is dat ALMAL – alle mense, ongeag wie hulle is of waar hulle vandaan kom – sy dissipels kan wees en deel kan wees van sy koninkryk.
 

Maak dissipels 

Hoe? Doop hulle en leer hulle.  

 

Die doop is die teken dat mense ingesluit is in God se verlossings plan. In die Gereformeerde tradisie en in die NG kerk doop ons kinders omdat ons bely selfs al kan hulle dit self nog nie verstaan nie is hulle ook deel is van daardie verlossings plan. Jesus se beloftes geld vir hulle ook, al verstaan hulle dit nog nie en al het hulle nog nie geen keuse uitgeoefen nie. Die doop bevestig vir ons Jesus se belofte om altyd by ons te wees tot die voleinding van die wêreld. (v.20)

Ek wil hierdie gedeelte in my eie woorde vertaal as: “Maak seker alle mense weet dat ek hulle lief het en dat ek hulle verlos het toe ek vir hulle aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het. Maak seker hulle weet ek is altyd by hulle.

 

Leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. 

Hoe leer ons ander dissipels te wees? In Jesus se dae het ‘n persoon wat wysheid wou bekom ‘n leermeester gekies en die persoon dan orals gevolg om na hul te luister en te sien hoe hul lewe. Die doel hiervan was nie net om feite by die leermeester te leer nie, maar om in alle aspekte nes die persoon te word. Dissipelskap gaan dus ten diepste oor hoe en wat en wie ons is. Dit gaan oor wat ons doen, eerder as wat ons weet en wat ons sê. 

Dissipelskap gaan nie net oor wat mense by ons hoor nie, maar oor wat hulle sien.

 

Mense leer baie meer uit wat ons doen as uit wat ons sê. En daarom, wanneer Jesus ons vra om mense te leer, vra Hy in die eerste plek van ons om in ons dade en in ons lewenswyse die teken van dissipelskap te dra; om meer en meer soos Jesus te wees;  om op te tree soos wat Hy het; om mense lief te hê en in te trek en te dien.

En dit hoef nie iewers in ‘n ver land te gebeur nie – ja, daar ook – maar dit begin in ons huise, by die werk, by die skool, in ons buurt, en in ons gemeente.

 

Die geskiedenis leer ons dat die Christelike kerk nog nooit weer so vinnig gegroei het soos in die eerste 400 jaar nie wat dit bestaan het nie. Dit was nie oor groot predikers of uitstaande mense nie, maar as gevolg van gelowiges wat deur hul eenvoudige manier van lewe in liefde met mekaar en met die mense om hulle, getuig het van God se koninkryk.
 

Wat is dan hierdie teks se antwoord op die 3 vrae wat ek vroeër geopper het:

  1. Wie is ons?

Ons is onvolmaak. Ons is mense wat foute maak en onsself soms teleurstel. Ons is nie perfekte dissipels nie. Ons is self voortdurend besig om te groei. Maar Jesus gee juis hierdie opdrag aan gebroke, gewone mense, want juis daarom besef ons ons afhanklikheid van God.

 

     2. Wie is God?

God is die Een wat altyd by ons is. Die doop bevestig dit. God is die Een wat dit vir ons moontlik maak om dissipels te wees. Dit is nie uit ons eie krag nie, maar deur die krag van die drie-enige God, dat ons dissipels kan wees en maak. Hierin is Jesus ons voorbeeld. Ons is sy dissipels en volg Hom met die doel om meer en meer soos Hy te word.

 

     3. Wat moet ons doen?

Ons opdrag en doel is om seker te maak dat alle mense weet dat die Here vir hulle lief is, dat hulle verlostes is en dat God by hulle is. Ons doen dit deur dissipels van Christus te wees – nie net in woord nie, maar in daad.

Hoe kan jy  in hierdie tyd daardie groot opdrag gaan uitleef?